Onderwêreld - Fanie Viljoen PDF
Document Details
Uploaded by Deleted User
Fanie Viljoen
Tags
Summary
This document is a fictional story by Fanie Viljoen, about a boy, titled "Onderwêreld." The story revolves around a young boy's experience of fear and dread, centered on a suspenseful encounter with his father. The narrative explores themes of fear, anxiety, and a mysterious encounter within the context of a household filled with tension and uncertainty.
Full Transcript
OceanofPDF.com Onderwêreld Fanie Viljoen OceanofPDF.com Vir Neels OceanofPDF.com The adage is true that the security systems have to win every time, the attacker only has to win once. — Dustin Dykes But did you, in your three-piece psychology and...
OceanofPDF.com Onderwêreld Fanie Viljoen OceanofPDF.com Vir Neels OceanofPDF.com The adage is true that the security systems have to win every time, the attacker only has to win once. — Dustin Dykes But did you, in your three-piece psychology and 1950’s technobrain, ever take a look behind the eyes of the hacker? Did you ever wonder what made him tick, what forces shaped him, what may have molded him? I am a hacker, enter my world … Mine is a world that begins with school … I’m smarter than most of the other kids, this crap they teach us bores me … — The Mentor (Uittreksel uit “The Hacker’s Manifesto”) OceanofPDF.com create a quiz using all the information in this PDF about the book onderwereld focusing on the story parts of the book SIGN ON Die invoer van ’n kombinasie van ’n gebruiker se identifikasie en sleutelwoord om toegang te verkry tot ’n rekenaar, program of netwerk. OceanofPDF.com Dis hoe vrees voel: Vuur blits deur jou lyf, elke senuwee ruk wakker, adrenalien gooi jou gedagtes in snelrat, jou oë sper oop, jou asemhaling hou op en jou borsholte pers saam. En jy hoor dit – jou eie hart. Klop. Klop. Klop. ’n Onbekende geluid maak hom wakker. Of dalk is dit iets in ’n droom wat sê: “Staan op. Jy moet hom keer!” Dit is waar die vrees begin. Af, af met die donker gang stap hy nou. Sy keel trek toe. Die vuishoue van sy hartklop hamer al vinniger. Hy het lus om terug te draai, weg te hardloop, maar hy is byna by daardie vertrek aan die end van die gang. Dit is daar waar die lig brand. Dit is daar waar sy oë vanaand sal oopgaan. Hy kan skaars sy eie voeteval hoor op die dig geweefde mat. Sy asemhaling is vlak, maar elke asemteug word mettertyd dieper, dringender as die vorige een. Nou is hy by die halfoop deur van sy pa se studeerkamer. Jy moet hom keer! Keer dat hy wát doen? Hy staan eers net daar. Luister. Hy hoor die krieke buite die huis. ’n Motor in die straat. Uit die studeerkamer kom die geritsel van papiere. Die lig wat onderdeur die deur skyn, verlig die punte van sy tone. Hy ruik die houtdeur se politoer, die bekende reuk wat orals in hulle huis hang. Sy vingers raak aan die deurhandvatsel en die koue stuur ’n skok deur sy elfjarige lyf. Daar kom ’n geluid uit die studeerkamer. Soos ’n verskrikte dier, dalk. Nee, dit is ’n mens. Dit is sy pa. Die seun stoot die deur heeltemal oop. Wat hy voor hom sien, word die eerste snydende skreegeluid wat deur sy grootwordjare sal eggo: Sy pa se groot lyf, half oor die lessenaar gebuig, asof hy besig is om te skryf. Maar in sy hand is daar nie ’n pen nie. Daar is ’n 9 mm-pistool in sy geklemde vuis. Een vinger is om die sneller. Die seun sien die fyn haartjies op sy pa se vingers blink in die lig van die lessenaarlamp, sy kneukels wit van die spanning. Sy pa se oë is vasgevang deur die swart metaal asof hy nie meer weet waar hy is nie. Asof hy onbewus is van die leerstoel waarop hy sit agter sy groot lessenaar. Asof hy nie weet van die lamp se lig wat op sy gesig skyn en hom laat lyk soos die monsters waarvan die seun gedroom het toe hy jonger was nie. Die een kant van sy gesig is helder verlig, die ander kant in skadu. Is dit sy pa? wonder die seun nou. Ís hy nie dalk ’n monster nie? En is dit nie net ’n droom dié waaruit sy regte pa hom netnou sal wakker maak nie; vir hom water sal bring om hom te kalmeer nie? Kalmeer. Dis wat hy nou moet doen. Maar dit is nie so maklik nie. Nie as jou hart besig is om jou ribbes stukkend te slaan nie. “Pa!” sê hy. Die woord kom lê tussen hulle. ’n Eggo. Nou kyk sy pa op. Daar is ’n glans van herkenning in sy moeë oë. Hy kom stadig terug uit die donker onderwêreld. Sy skouers sak effens, asof die spanning daaruit vloei. Sy greep om die vuurwapen verslap. Die gewig van die pistool laat dit uit sy hand gly tot op die oopgespreide stuk lap op die lessenaar. Die seun wil vra: “Wat doen Pa?” Maar die woorde kom nie verby sy droë keel nie. Sy pa kyk na hom. ’n Spiertjie ruk bo-kant sy oog. Die verstarde ooglede beweeg nou. Gaan sy pa huil? Hy het hom nog nooit sien huil nie. Sy pa vou die pistool toe in die lap. Sy hande bewe. “Gaan … gaan slaap nou, my seun,” stamel hy en trek ’n lessenaarlaai oop. Tydsaam druk hy die pistool daarin. Daarna strek hy sy vingers uit na ’n geel koevert wat op die tafelblad lê. Maar voor hy dit kan raak vat, kyk hy op. Sy gesig is natgehuil. Die seun staan net daar, sy een hand steeds op die deurknop. “Dis oukei, ek belowe,” sê sy pa. “Ek … ek sal nie …” Die stilte word ’n spons wat die woorde moet indrink. “Jy moet nie vir jou ma vertel nie. Oukei? Dis ons geheim.” Sy mondhoek trek skeef toe hy probeer glimlag. “Gaan slaap nou.” Die seun se hand gly van die deurhandvatsel af en val langs sy sy. Hy sê steeds niks nie, maar binne in hom weerklink sy pa se stem. Toe hy omdraai en kamer toe stap, hoor hy sy pa sê: “Nag. Lekker slaap …” Sy pa sê sy naam, maar hy hoor dit nie. Sy naam los op in die donker. Verdwyn. Maar dit is goed so, want jare later sou hy vir homself ’n ander naam kies. Een waarmee hy die vrees kon uitdryf. ’n Naam wat sê hoe dit voel om magteloos te wag vir antwoorde en net eggo’s uit die onderwêreld in ruil te kry. Ekk-0. OceanofPDF.com PING ’n Rekenaaropdrag waartydens ’n pakkie inligting van een rekenaar na ’n ander gestuur word. Die teiken-rekenaar moet die inligting eggo om te bevestig dat dit bereikbaar en aktief is. OceanofPDF.com Sluimerende grys selle, Polyfilla en ringtones Die skril gelui van die selfoon bars by my ore in en ontplof binne-in my benewelde brein. “Hier kom die sirkus!” sou my ma, Rina, nou laggend gesê het as sy die polyphonic ringtone hoor. En dan sou sy dalk skuldig voel omdat sy haarself toegelaat het om te lag. Ek druk die kussing oor my kop. Dit doof die klank effens uit. Ek wil nog slaap, verdomp. Maar die gelui dring deur die kussing en kom haal my daar uit. Met toe oë gryp ek na die selfoon op die bedkassie. My duim mik na die reject call-knoppie, maar voordat ek dit kan druk, sien ek die naam op die skerm: Nicole. Die naam swem deur die sluimerende grys selle in my kop – en dit tref my. Nicole! My girl. As ek dooddruk, sal sy my hel gee. My duim beweeg vinnig oor na die antwoordknoppie. “Hei, sexy! Wat vat jy so lank om te antwoord?” Net om haar stem te hoor, bring Nicole se beeld voor my op. Lang blonde hare wat sy agter haar ore indruk. Fyn neus. Mooi lippe en blou oë wat so mooi kan flirt en terg. “Nicksie … Sorry, girl. Ek …” “Slaap jy dan nog, Greg?” “Of course, ja. Ek slaap altyd totdat Ekk-0 … uh, ek bedoel Eckardt my kom wakker maak. Hy draf nog. Sal seker nou hier wees.” “Eckardt? Hoe gaan dit met hom?” Die vraag laat my ongemaklik regop sit in my bed. Ek het dit nog nooit vir Nicole gesê nie, maar ek like dit nie as sy uitvra oor Eckardt nie. Oukei, miskien is ek net simpel, maar as Nicole vra oor Eckardt, gaan iets aan die kriewel binne-in my maag. Dis alles daardie aand by Jeffrey’s se skuld. “Los tog nou eers vir Eckardt,” sê ek vinnig. “Hoe lyk dinge in Jozi?” Ek val weer terug op die koel kussing, trek die beddegoed oor my onderlyf. “Ek mis jou, Greg,” sê Nicole, op daardie sagte, soel manier waarop sy soms kan praat. Ek trek my bene op na my bolyf en draai op my sy. “Gisteraand – ek het van jou gedroom.” “O, ja? Wat?” “Nuuskierig!” “Komaan, was dit iets naughty?” terg ek. Hoop ek eintlik. “Mmm,” fluister sy. “Ek het dit geweet! Vertel, toe.” Nicole lag. “Ek het gedroom my pa-hulle hou hierdie party by die huis. Jou pa-hulle was ook daar. Groot storie. Party planners, caterers, die works. Ek en jy tease mekaar die hele aand. Jy vat aan my as jy dink niemand kyk nie. En toe dit te veel word, glip ek en jy weg. Swembad toe. Alleen. Ligte af.” Ek maak my oë toe, probeer my die scene indink. “Ja?” “Ons trek uit. Ek vir jou. Jy vir my. Duik in die water in. Jy soen my. Oopmond. Jy druk jou onderlyf teenaan myne …” Ek kreun. “Toe sit iemand die swembadligte aan. En die hele spul mense wat my ma-hulle genooi het, staan op die rand van die swembad en kyk vir ons!” “Oh, come on!” roep ek en begrawe my kop in die kussing. “Is jy ernstig?” “My pa was bleek geskrik. En my ma – dit was so snaaks – my ma sê: ‘Nicole, moet Mamma vir jou ’n kondoom bring, my kind?’ ” Ek lag. Dis tipies Nicole se ma. “Is sy nog so bekommerd dat jy haar ouma gaan maak?” “Jy weet mos! Ek sweer sy voer my al van graadsewe af voorbehoedpille. Seker die huishulp aangesê om dit fyn te maak en in my skool-lunch te verdoesel. Vandat ek op hoërskool is, is sy nie skaam om my die pille te gee nie.” “Vir jou vel, Nicksie,” terg ek. “Sê sy!” Ons lag lekker. Dan val daar ’n stilte. Iewers in die agtergrond hoor ek ’n deur. Haar ma roep na haar. “Ek ko-o-om!” antwoord Nicole haar. Toe terug op die sel. Sag. Bekommerd. “Greg, as … as iets gebeur en … jy weet … sal jy?” Ongemak. Ek weet wat sy wil vra. Binne-in my broei daar ook ’n vraag. Ek probeer dit wegdink, maar Jeffreysbaai maak dit moeilik om te vergeet. Hoe sal ek weet dat dit mý kind is? Sy is daar in Johannesburg en ek hier in ’n godverlate skool in die Drakensberge. Na Jeffreysbaai se dinge … hoe weet ek wat sy in Jozi aanvang? Wat vertel sy my nie? Ek is mos nie stupid nie. Ek weet hoe dinge werk: Een ou, een meisie, honderde kilometers tussenin, en maande wat jy mekaar nie sien nie. MXit, SMS’e, emails en selfoonoproepe maak nie op daarvoor nie. “Greg?” vra Nicole ná ’n ruk. Sy wag nog vir ’n antwoord, weet ek. “ ’Tuurlik, Nicole, jy weet mos ek sal jou nie drop nie,” sê ek, maar daardie effense huiwering in my stem laat my wonder hoe oortuigend ek klink. “Maar ons hoef mos nie te worry nie. Ons gebruik mos goed.” “Ja, seker.” “Is daar … iets?” “Nee! Greg, is jy nou simpel?” “O, ek het net gewonder.” Verligting! “Vrek, jy het my nou amper laat worry daar, girl.” “Ons sien mekaar ook so min. Anyway, dis net plante wat sulke dinge met windbestuiwing regkry!” Sy lag senuweeagtig. Skielik is daar weer ’n stilte tussen ons. Ek frommel die laken in my vuis. “Love you, Greg. Altyd,” sê Nicole ná ’n ruk. Sag. Afgetrokke. “Selfde,” sê ek. ’n Woord sonder veel betekenis, maar een waarmee jy stiltes kan volmaak. Iets om te sê as daar niks meer is om terug te sê nie. Polyfilla. Buite is dit al lig. Ek vat die selfoon weg van my oor om te sien hoe laat dit is. “Magtig!” roep ek. “Dis dan al kwart oor sewe! Nicole, ek moet nou gaan. Sorry, ons praat weer. Baai!” Ek spring uit die bed dat die beddegoed doer trek, gryp my badkamersakkie en handdoek. Toe ruk ek die koshuiskamer se deur oop. In die gang loop ek my byna kis teen iemand. Thomas-Jean. TJ in kort. “Jy’s bietjie laat, bru,” sê hy. “Ek weet. Dis Eckardt, die goorgat – hy’t my nie kom wakker maak nie. Kan nie nou praat nie. Sien jou later, TJ!” Almal wat ek in die gang teëkom, is al aangetrek: swart broeke, baadjies. Wit hemde, geel dasse. Die skoolwapen met die fakkel op die baadjies se sakke. Bo die wapen is die skool se naam: Lawson Kollege, en onder die wapen die skool se leuse: Lux hominum vita. Ek stamp my pad oop deur die bondelende klomp seuns wat op pad is na die eetsaal. “Hei, buddy, lekker verslaap,” roep een. “Is jy nie aan diens by die graadagts nie?” vra een van die VRL’s. Dit ook nog. Ek het vergeet. Ek hoop maar net hulle het nie die plek vanoggend afgebreek nie. En dat almal uit die bed is. Nog ’n paar ouens terg, ander wil groet, gesels, vra oor rugby of iets. Maar ek mompel net onhoorbare verskonings. Die verdomde Eckardt, vloek ek weer sag. Ná ’n vinnige stort, skeer en tandeborsel, gaan trek ek aan. Toe sit ek af met die koshuisgang, systap ’n skoonmaker wat my verbaas agternakyk. Eckardt se kamer is net ’n kort entjie van myne af. Ek klop vinnig, pluk die deur oop voor hy kan antwoord. Ruk tot stilstand. Die bed is opgemaak, maar dit lyk of iemand daarop gesit het. Venster oop. Een van die gordyne het opgewaai en hang nou oor die lessenaar waarop Eckardt se laptop staan. Waar de hel is hy dan? Eetsaal toe? Die maklikste is om te bel en uit te vind. Ek ruk my selfoon uit my baadjiesak, glip deur die nommers. Eckardt. Bel. Oomblikke later klink die bekende ringtone op in die kamer self. Dis ’n ou tune van die Stereo MC’s. Connected. My lyf word skielik koud. Die geluid is dof, asof dit binne-in iets toegemaak is. Die geluid kom van êrens langs my. Dit kom uit Eckardt se kas. Stadig stap ek nader, die handvatsel is koud onder my vingers toe ek die kasdeur oopswaai. Daar, op die netjies opgevoude klere, lê Eckardt se selfoon. Op die skerm flits die naam: G-4ce. OceanofPDF.com Log File: Die dag voor die laaste skooljaar begin Die Sterkfonteindam raak agter ons weg. Ons steek die grens oor van die Vrystaat na KwaZulu-Natal, af-af met die Oliviershoekpas, verby Little Switzerland. Daar is ’n legende wat sê dat ’n Boere-pa en sy seun ’n draak hier gesien het; hoog teen die pieke van die berg tussen die wolke. Dis waar die naam vandaan kom. Drakensberg. Maar dit word ook uKhahlamba genoem, want nog ’n legende sê dít is die donderende geluid wat Zulu- krygsmanne se spiese maak as hulle dit op hul koeivelskilde slaan en die eggo’s van die berghange terugkeer. Terug op Heilige Grond, dink ek daardie dag toe ek en my ma by Lawson Kollege se skoolhekke inry. Dit is maande voor die dag dat ek Eckardt se selfoon in sy kas kry. Dit is die dag, vroeg in Januarie, toe ek vir Eckardt die eerste keer ontmoet het. My laaste skooljaar het aangebreek. Jy dink dit kom nooit nie. Maar dan, op ’n dag, is dit daar en jy besef dit was eintlik bitter gou. “Wat is jou planne vir die pylvak?” kom my pa se vraag van die vorige aand weer by my op terwyl ek daar in die 4 x 4 langs my ma sit. Pa se streng oë het my vasgepen. “Pylvak?” “Donder, tog, Greg, jy is in die beste skool in die land en jy weet nie wat ‘pylvak’ is nie?” “Ek weet, dis net …” Ek het my rug reguit getrek. My eintlik vererg. “Jy het nie planne vir die jaar nie.” “Sal dieselfde wees as verlede jaar. Pa weet tog.” “Dis nie goed genoeg nie,” het hy die woorde deur sy lippe geforseer. “Verlede jaar is verby. Wat doen jy dié jaar?” “Ek is hoofseun en –” “En wat?” Ek het hom nie geantwoord nie. “As ek vanjaar by Turret Media dieselfde doen as verlede jaar, haal my mededingers my in en kan ek volgende jaar deure toemaak.” Turret Media. My pa se magtige mediamasjien. Sy lewe draai om die plek, en hy reken myne moet ook. Ek het geknik. “Ek sal daaroor gaan dink.” “Jy moes al lankal. Ek het beter verwag van jou,” praat hy met my asof ek een van die direkteure van Turret is. “Ruggraat! Kry een! Nie soos …” Dis toe dat my ma opgestaan en geloop het. Pa het ophou torring. Die atmosfeer in die sitkamer was skielik gelaai. Ons het almal geweet wat hy wou sê. Dit was gisteraand. Gelukkig is my pa nie nou hier nie. Dis net ek en my ma in die kar. Ek maak my sitplekgordel los en leun met my kop teen die venster langs my om by die venster uit te kyk. Weerskante van die geteerde pad is ’n laning bome wat met hulle lae takke oor ons reik. Groen grasperke, netjies gesny, soos krieketvelde. Plek-plek is daar tuine met rooi, oranje en geel blomme. Verder weg is die skool se sportterrein, die moderne skoolgeboue en nog verder, die koshuise. Almal vernoem na die een of ander man wat ’n voorloper was in sy tyd: Pierre Curie, Albert Einstein, Leonardo da Vinci, Ludwig van Beethoven en Greg Owen. Oukei, ek lieg oor die laaste een. Die ander koshuis is vernoem na Le Corbusier, die Franse argitek wat geboue gesien het as “masjiene waarin mense leef”. En as agtergrond vir die enorme skoolterrein lê die pieke van die Drakensberg: Cathedral Peak, Mnweni Needles, Devil’s Tooth, Amphitheatre en nog ’n spul ander. Nicole spot soms met my dat ek in die Drakensberg-seunskoor is, maar die Drakies se skool is ’n hele ent suid-oos van hier af. Lawson is ’n skool vir die super-rykes se seuns. ’n Prestige-kollege wat omtrent twaalf jaar gelede opgerig is deur ’n ou ballie met die naam Thomas Lawson. (Sy kleinkind, TJ, is ook vanjaar in Matriek.) Oupa Lawson het sweerlik meer geld as verstand of redenasievermoë gehad. Ek meen, vir wat sal jy ’n seunskool hier in die middel van verdwaal-se-gat kom bou? Maar, so vertel die skoolhoof, doktor Alec Pienaar, altyd: “Thomas Lawson het ’n droom gehad: om ’n teelaarde …” (ja, wragtig, dit was Thomas se eie woorde) “... teelaarde te skep waarin die sakeleiers van die toekoms gekweek kan word.” Wat hy nie gesê het nie is dat die “sakeleiers van die toekoms” hulle empires sal moet bou met die geld wat hulle pappies in die verlede geërf, verdien of gesteel het. Reuke van korrupsie wat altyd maar vlak lê onder ’n paar van hierdie sakeleiers se Italiaanse snyerspakke. Maar ons praat nie daaroor nie, nes ons nie oor geld praat nie. As jy geld het, hou jy jou bek. So, dis waar ek nou is. Lawson Kollege. En die plek is relatief nuut as jy dit vergelyk met ander skole van sy soort: Grey Kollege van Bloemfontein, Afrikaans Hoër Seunskool van Pretoria, Paarl Boys High. Gevolglik het die skool nie ’n vreeslike geskiedenis om op te steun nie. Sekerlik ’n hartseer feit as dit kom by die opstel van prospektusse en sulke goed. ’n Ryke geskiedenis regverdig mos klasverskille. Maar ten spyte hiervan is daar ’n waglys langer as die N1 tussen die Kaap en Pretoria om in die skool te kom. Maar as jy jou pampoenbril afhaal en realisties na hierdie waglys kyk, sou jy besef dat die meerderheid name daarop nie naastenby kwalifiseer vir die ongeskrewe kriteria wat gestel word nie. Dit maak die lysie aansienlik korter, maar nietemin ’n keerwal om “ongewenste elemente” uit te hou, soos my pa sal sê. My oog vang vir ’n oomblik die bord met die aanwysings langs die pad. Kantore en skoolgeboue, reguit vorentoe. Swembad, skiet-en tennisbaan, rugby-, krieket-, sokker-en hokkievelde links. Koshuise en perdestalle, regs. Ek grinnik elke keer as ek dit sien: koshuise en perdestalle regs. My ma volg die pad na die koshuise. Daar staan reeds ’n klomp motors, blink in die oggendson. En ek lieg nou nie – driekwart van hulle is splinternuut asof hulle vanoggend van die motorhandelaar se vloer afgetrek is. Nuwe jaar, nuwe wiele. Oral is daar beweging. Seuns wat tasse uit motors haal en by die trappe opdra na die koshuise – nuut geverf ná die vakansie. Ouers staan rond met hulle designer-sonbrille en deel stywe-stil glimlagge met mekaar. Net enkeles waag dit om te gesels. En elke jaar is dit dieselfde onderwerpe: Lawson se kanse om vanjaar weer as topskool te eindig in Suid-Afrika, atletiekrekords wat behoort te spat op die nasionale atletiekkampioenskappe, bla-bla-bla. Ek haal my sonbril af voordat ek die motor se kattebak oopmaak. Ek hoor hoe my ma iemand groet en hulle ’n oomblik lank gesels. “Rina, jy lyk goed,” sê die ander vrou. Ek luister nie verder nie, slinger net my laptop se band oor my skouer en kry die tasse beet, een in elke hand. “Tonight, VRL meeting,” sê die onderhoofseun, Kwanele Twala, en klap my op die rug. “Seven o’ clock. Don’t be late.” “Wie het dit gereël?” “I did,” kap hy terug. “Vir wat? Ek is hoofseun, het jy vergeet?” “So why didn’t you organise it then?” Hy loop weg. Ek het lus en … nee, wag. “Probleme?” vra iemand agter my. Mark Gibbons, a.k.a. Plank. ’n Tawwe ou, voorryspeler in rugby en, anders as wat mens sou verwag, slim ook. Maar omtrent altyd op ’n plug. Vandaar sy konstante glimlag. “Niks wat ek nie kan handle nie,” antwoord ek. “Hoe lyk’it?” “Bulletproof, Plank, en jy?” “Cool, man,” antwoord hy. “Reg vir die laaste jaar van vriendelik- verpligte breinspoeling?” “Wens dit was al verby, Plank,” sê ek en probeer my greep verstewig om die handvatsels van die swaar tasse wat my vingers oopdwing. “Net ’n heart-beat, my bru, dan laai jy daardie tasse weer in die kar en skud jy die stof en memories van hierdie plek van jou voete af.” “Wyse woorde, Plank. Hoop jy’s reg.” Tussen die motor en Huis Da Vinci groet nog ’n paar ouens my. Maar ek het nie nou lus vir how’s-your-mothers nie. Daar sal later baie tyd wees daarvoor. Nou moet ek eers hierdie twee tasse in my kamer kry. “Gee vir my een,” sê my ma agter my. “Dis oukei, Ma, ek sal regkom.” Ek kan nie dat die ander ouens sien my ma help my om tasse te dra nie. “Maar Greg, kyk net hoe swaar kry jy. Gee my dan net jou laptop … uh, skootrekenaarsak.” Ek skud my kop, sit een van die tasse neer en hou die swart leersak na my ma toe uit. Sy sal nie rus as ek haar nie laat help nie, weet ek. En daar is seker een ding wat erger is as jou ma wat jou tasse dra: jou ma wat die heeltyd neul en kerm dat sy jou wil help. Asof jy vir die eerste keer skool toe gaan. Dit klink nou of ek kla. My ma is eintlik baie nice. Ek weet sy wil net die beste hê vir my. Help waar sy kan. Dit kom uit haar hart uit. En al lyk dit nie altyd so nie, wil ek ook hê sý moet net die beste kry. Eintlik kry ek haar jammer, want ek weet, as ek my goed neersit, en sy help uitpak het, moet sy terugry Jo’burg toe. Na daardie groot huis in Sandhurst, waar sy bedags alleen gaan wees. Waar sy net die huishulpe en die televisie as geselskap sal hê, soms my pa moet vergesel na die een of ander stywe werksfunksie, of, as sy genoeg moed bymekaarskraap, ’n vrouevergadering bywoon waar die skyn en venyn agter facelifts weggesteek word. “En nou, Greg? Kry daardie tasse jou onder?” vra ’n man by die koshuis se voordeur. Dit is Pete Andersen, die skool se adjunkhoof. “Hoop nie jy het laat slap lê die vakansie nie? Ons gaan jou nodig kry met die atletiek, maar gelukkig is die 100 meter jou sterk punt, nie gewigstoot nie!” “Meneer hoef nie daaroor te worry nie,” glimlag ek my fake smile wat ek hou vir geleenthede soos hierdie wanneer ek met onderwysers te doen kry. My kamer is, soos die res van die Matrieks s’n, op die boonste verdieping van die koshuis. Heel onder is die graadagts, dan neges, en so aan. My ma maak dadelik die venster oop. Sy het ’n ding omtrent vars lug. “Sit eerder die aircon aan, Ma,” sê ek en beduie na die remote control teen die muur. Sy maak die venster weer toe en maak soos ek gevra het. Ek hou haar ’n ruk lank in stilte dop terwyl sy die eerste tas oopknip. Haar hande bewe. “En nou?” Sy kyk op, teen die muur vas. “Jou pa,” sê sy sag ná ’n ruk stilte. “Hy is nie regtig so hard nie … Hy ís lief vir jou. Jy weet dit, nè, Greg?” “Natuurlik.” Sy draai haar kop na my toe. Die hartseer lê vlak. “Jy sal nie ook, soos John …” “Ma, moenie worry nie.” Ek trek haar nader en druk haar teen my. “Ek is oukei.” “Dankie. Dankie.” Ná ’n ruk maak sy haar arms los en vat ’n oomblik lank my hande, kyk daarna. Sy glimlag. “Ietsie ekstra vir jou,” sê sy en haal ’n klomp honderdrandnote uit haar handsak. “Ek kry mos sakgeld.” “Ek weet.” Sy haal haar skouers op. Daarna kom die uitpakkery. My ma wil dit doen. Ek laat haar begaan, trek net die kamerdeur toe dat die ander ouens nie sien nie. Terwyl sy besig is, stap ek met die gang af, verby die badkamer wat ek met drie van my buurmanne moet deel. Elke vier kamers op hierdie vloer het een. Dis geriefliker as een groot gemeenskaplike badkamer, soos ek die vorige jare gehad het. Maar ek sou een vir myself verkies het. Die gang loop aan die onderpunt, by die trap en hysbak, dood in ’n formele sitkamer – ook net vir Matrieks – waar ons gaste kan ontvang. Die plek het leersitplekke, dik rooi matte en donker houtpanele teen die mure waar moderne skilderye hang. Daardie plek sal my maar min sien, dink ek. Dit herinner my te veel aan my pa se studeerkamer. Die informele sitkamer – ons noem dit sommer die Hang-Out – is langs die formele sitkamer. Toegerus met ’n groot plasmatelevisie, DVD-speler met ongelooflike surround sound, klein biblioteek en gemaklike banke waar jy net kan chill as die stres van die skool vir jou te veel word. ’n Deel van die Hang-Out is afgeskort. Hier staan vyf rekenaars waarop ons skooltake of whatever kan doen. Ek verkies om my eie saam te bring. Elke kamer het ’n netwerkpunt waar jy jou laptop kan inplug en ongestoord kan werk. Op hierdie verdieping is daar nie ’n studeerlokaal soos wat die ander grade het nie. Elke ou swot in sy kamer. En niemand kom check jou op nie. Matrieks is veronderstel om ’n verantwoordelikheidsin te hê. Maar laat jy slap lê, dan is die vernedering groot om jou dae te gaan omsit in die graadelfs se studeerlokaal. “Greg!” Dis Ma se stem agter my. “Ma?” “Ek het gewonder wat het van jou geword.” “Sorry, Ma, ek kyk net bietjie rond. Ons kon mos nooit sien waaroor die Matrieks van die vorige jare so te kere gaan nie.” “Ons het die koelsak in die motor vergeet. Daar is ’n paar eet-en drinkgoedjies in wat ek vir jou saamgebring het vir jou yskas. Sal jy dit gou gaan haal, asseblief?” Ek sit net af na die trap toe, toe ek ’n vreemde gesig tussen die ander ouens raaksien. Donkerkop, ongeskeer. Strak gesig. Sy oë kyk ’n oomblik lank na my van onder sy donker wenkbroue, flits dan weer weg. Hy stap af met die gang. Oor sy skouer hang daar ’n laptopsak. In een hand hou hy ’n stuk gevoude papier en ’n sportsak vas, in die ander ’n tas. En ek kan dit sommer ruik: ’n nuweling. Kan jy nou meer? In ons laaste jaar. Sy pa moet connections uit ’n ander wêreld hê. “Is jy seker jy is op die regte vloer?” vra ek toe ek hom inhaal. “Ek kan tel,” sê hy, terwyl sy oë ’n oomblik lank op my vasgenael bly. Moeilikheid, sien ek. Hierdie ou soek moeilikheid. “Ja, maar kan jy tot vyf tel? Hierdie vloer is net vir Matrieks.” “Zero’s en One’s is al wat jy nodig het,” sê hy. Ek frons, weet nie wat hy bedoel nie. Ek kan sien hy weet dit. “Wie’s jy?” vra ek. Hy bly ’n oomblik stil en kyk my net aan, sê dan: “Eckardt. My naam is Eckardt.” Toe draai hy om en loop verder die gang af. Hy kan nou wegloop, dink ek, maar ons sal mekaar weer sien. Dalk nog later vanmiddag. Hy moet nie dink hy kan hier aankom met ’n houding nie. Ek en ’n paar van my pelle sal hom gou uitsort. Nes ons die graadagts gaan uitsort. Hardegat word sagtegat. OceanofPDF.com Boeke en Boggom Ek druk my selfoon dood en staar ’n ruk lank net na Eckardt se sel daar in die kas. Sy hardloopskoene is weg, sien ek. Dan draf hy seker nog iewers buite. Ek weet hy is fanaties daaroor. Elke oggend vyfuur gaan draf hy. Soms in die middae ook. Maar hy was nog nooit laat nie. Het daar iets met hom gebeur? Ek probeer die gedagte na my agterkop skuif, maar soos ’n opgeblaasde bal wat jy nie onder die water kan hou nie, dobber dit weer na die oppervlak. Naderhand trek ek net my skouers op. Hy sal wel die een of ander tyd terug wees. Dalk met ’n lekker storie om te vertel. Wie weet? Ek stap uit die kamer uit, trek Eckardt se kamerdeur agter my toe en kies koers klaskamers toe. Eerste periode: Engels by Willem Wikkelspies. Ek is laat. Pouse. Ek het Eckardt nog nie gesien nie. Ek hardloop gou terug na Huis Da Vinci om te kyk of hy nie terug is in sy kamer nie. “Hei, what’s up? Hoekom so haastig?” vra TJ toe ek verby hom hardloop. “Sal jou later sê, TJ,” antwoord ek vinnig. “Hoe lyk dit met ’n pot skaak vanmiddag?” roep hy agterna. Ek lig net my hand. Weet self nie wat dit moet beteken nie. Ek wil net eers gaan kyk of Eckardt orraait is. Die koshuis is verlate. ’n Skoonmaker is in die ingangsportaal besig. Hy kyk op van sy besem toe ek verby hom loop. Ek het nie nou lus om trappe te klim nie, so ek druk die hysbak se knop. Die deur spring byna onmiddellik oop. Ek druk die knoppie vir die boonste verdieping en die hysbak begin met ’n ruk beweeg. Toe die deure weer oopgly, hardloop ek in die gang af na Eckardt se kamer. Hy is steeds nie terug nie. Skielik biep my sel. Eckardt! dink ek dadelik, maar dan onthou ek sy selfoon is nog in sy kas. Dit kan nie hy wees nie. Ek kyk na die skerm. Die SMS is van Nicole: Mis jou. Net dit. My duim beweeg vinnig oor die knoppies. Tik die antwoord: Luv u. Toe dink ek eers daaroor na en vee die boodskap uit, tik eerder: Mis jou ook. Eckardt se kamer voel skielik baie leeg. In die spieël bokant die bed sien ek nou dat ek ’n hengse frons op my voorkop het. Vrek, dit lyk byna soos my pa s’n. Ek probeer ontspan. Vryf my hande deur my hare, draai my gesig, diékant toe, dan dáárdie kant toe. Wonder of ander mense ook soms so vir hulleself staar. Ek wonder of Eckardt dit doen. Hy is ’n flippen intense ou. Mens besef dit as jy ’n ruk lank in sy geselskap is. Hy weet van goed wat die res van ons ouens nie ’n clue van het nie. Net soms skemer dit deur as jy met hom praat. Goed soos kwantumteorieë en hul invloed op kwantumrekenaars. Hoe rekenaars met die binêre syfers nul en een werk, maar dat daardie nul en een in kwantumrekenaars gelyktydig dieselfde staat kan voorstel. Qubits, noem hy dit. Wat ook al. Gaan glo die rekenaarwêreld op sy kop keer. Ongelooflik die goed waarmee hy soms uitkom. En dis van lees. “Kennis kos nie geld nie,” sê hy. “Kennis kos tyd. Jy moet tyd maak, op jou watsenaam gaan sit en lees.” Ek lees nie baie nie. Net as ek rêrig verveeld is. Gee my eerder ’n rugbybal wat ek onder my arm kan vasdruk terwyl ek ’n paar Affies-ouens systap op pad doellyn toe. As dit nie was dat my pa my so gedruk het nie, het ek ook nie ’n duiwel omgegee vir skoolwerk nie. Maar ek doen dit om hom van my rug af te hou. Nee, seker nie net daaroor nie. Ek doen dit omdat – ag, los dit liewer. Eckardt is anders. Hy lees omdat hy wil. Hóéveel boeke al hierdie paar maande dat ek hom ken. Die boeke staan netjies gerangskik op sy boekrak. Dalk nog alfabeties ook, as jy nader gaan kyk. Skielik vang my oog een van die boeke: Depression. Nou vir wat sal hy só iets wil lees? Het hy ’n probleem? Ek probeer terugdink aan die baie kere dat ons saam was. Die onderwerp het nooit opgekom nie. Oukei, hy is nie juis ’n party animal nie. Altyd stil, op sy plek, half eenkant. Maar genoeg deel van die groep om nie soos ’n seer vinger uit te staan nie. Dis seker wat jy moet doen as jou ouers jou in jou finale skooljaar in ’n nuwe skool kom smyt. Die laaste ding wat jy wil doen, is uitstaan, anders wees. Dit kan nag word vir jou. Skielik oorval ’n skuldgevoel my. Ek was amper die ou wat dinge swaar gemaak het vir hom. Bloot omdat hy nuut was hier by Lawson. Maar dit het verander. Ek het gesien hy is eintlik ’n cool ou. Of liewer, dit was meer as dit. Ek het iets anders in hom gesien. Iets van my broer, John. Wiskunde ná pouse. Die onderwyser is Bill Eden. Boggom, noem party ouens hom, omdat hy op sy beste na een van die Drakensberg se bobbejane lyk, al is hy Einstein reincarnated. “Waar’s Eckardt?” vra hy onmiddellik toe sy oë oor die klas dwaal en op die leë stoel tot ruste kom. Niemand antwoord hom nie. Ek kan maar net sowel sê, reken ek. “Ek het hom nog nie vandag gesien nie, meneer Eden.” “Greg?” “Hy was nie in sy kamer vanoggend nie.” “Weet enigiemand waar hy is?” Daar is geen reaksie. Boggom se voorkop plooi. “Goed, ons was gister besig met die trigonometrie-oefeninge op bladsy 120. Ek wil hê julle moet dit klaarmaak dat ons kan aanstap na die volgendes toe. Ek is binne vyftien minute terug. Moet nou om vadersnaam nie die plek afbreek nie, manne.” Toe hy uit is by die deur, begin die gesprekke oor en weer vlieg. ’n Stoeigeveg breek voor in die klas uit. Ek steur my nie daaraan nie, al weet ek dit gaan later voor my kop gegooi word: “Greg, jy is hoofseun en jy het dit nie gekeer nie.” Plank kom sit op my lessenaar. “So, bru, dink jy hy’t ge-rock off?” “Weet nie,” antwoord ek. “Maar ek dink nie so nie. Hy sou iets gesê het.” “Dalk het sy pa-hulle hom kom haal iewers in die nag. Dalk ’n krisis by die huis.” “Plank, jy klink nou nes een van daardie kamma-mense met hulle kamma-probleme in die sepies wat jy so kyk.” Jip, kan jy glo, ’n rugbyslot wat ’n sepieslaaf is. “Watse krisis kan dit nou wees?” “Weet nie, G. Dalk het iemand ge-peg, who knows. Dit kan wees, hè? Sy pa-hulle kon hom maklik kom haal het. Wou dalk nie iemand pla daardie tyd van die nag nie. Dalk het hulle gedink hulle sal maar eerder net die volgende dag die skool bel en sê wat aan gaan. Dat hulle nie moet worry nie.” “Jy dink?” Plank se oë is vandag helderder as gewoonlik. Ook minder bloedbelope. Miskien dié dat hy vandag met sulke goed vorendag kan kom. “Dis seker wat Boggom nou gaan uitvind het,” sê ek. “Iemand moet weet.” Later kom Boggom terug. Die stoeigeveg voor in die klas het teen daardie tyd genadiglik opgehou en die klas is stil – een van die ouens het kywie gehou. Boggom skuif sy das ingedagte reg en gaan aan met die klas asof niks gebeur het nie. Ek soek op sy gesig vir ’n teken. Wat het hy uitgevind? Ek word niks wyser nie, daarom gaan vra ek hom toe die klas verby is. Hy antwoord net: “Meneer Andersen neem kennis daarvan. Sulke goed het al vantevore met ander leerders gebeur.” “Plank – ek bedoel Mark – sê Eckardt se ouers het hom dalk deur die loop van die nag kom haal. Dat hulle dalk vandag sou laat weet het.” “Kan wees, Greg. Maar soos ek sê, los dit vir meneer Andersen. Hy sal met Da Vinci se koshuisvader ook gesels.” Op pad na die volgende klas, spook die ding nog by my. Eckardt se selfoon het nog in sy kas gelê. En sy laptop staan ook nog in sy kamer. Sou hy dit gelos het as hy saam met sy pa-hulle weg is? OceanofPDF.com Log File: Die Tonnel Die eerste skooldag van my laaste skooljaar speel af soos ’n lang, boring fliek. Van die ouens is al vroeg wakker en besig om reg te maak. Ek wil vir oulaas laat slaap. Maar Plank kom klop my wakker. “Komaan, Greg, die skool se hoofseun moet seker ’n voorbeeld stel vir ons ander ouens,” sê hy kamtig ernstig. “Ek het nie myself gekies nie. Ek sal nog lê as ek wil,” antwoord ek slaperig. “O, julle spul uitverkorenes,” grinnik Plank. “Hoofseun, onderhoofseun, VRL’s. Julle was almal blote saketransaksies, was julle nie? Wie se pa kan die skool se budget die grootste hupstoot gee? En daai badge wat hulle op jou bors vassteek, is die kwitansie wat jy die hele blerrie jaar gaan dra!” “Plank, moet jy my nou so crap laat voel, hè? My oë is nog nie eens behoorlik oop nie. Ek hoop nie jy maak ’n gewoonte daarvan hierdie jaar nie. Ek sluit my deur voor ek gaan slaap, try my.” “Kwanele gaan weer op jou case wees.” “Ek het hom op sy plek gesit gisteraand by die VRL-vergadering. Dis hoekom ék kan laat lê, en hý vanoggend moet sukkel om die Trappers uit hul beddens te jaag.” Plank skud sy kop, lag en loop weer. Ek staan maar op. Op daardie oomblik kom Eckardt, die nuwe ou, by my kamer verbygestap. Natgesweet, asof hy gaan draf het. Sy oë vang myne in die verbygaan. Hardegat, dink ek weer. Ons sal nog gesels. Die oggend se skoolbyeenkoms is in die Lawson-gedenksaal. Die matrieks sit op die galery, Verenigde Raad van Leerders voor. Doktor Alec Pienaar, die skoolhoof, vat die kateder vas terwyl hy praat, sy stem donderend deur die klankstelsel. Ek hoor net hier en daar ’n woord, want dis dieselfde speech wat hy elke jaar hou: “… om die sakeleiers van die toekoms gereed te maak vir die reuse-taak wat op hulle skouers sal rus … uitmuntende prestasie … bevoorregte leerders … toekomsgerigtheid …” Plek-plek slaan hy oor na Engels, want Lawson is mos parallelmedium. “… with our dedicated team of teachers … business philosophy where science and technology meet the world of finance …” Dan terug na Afrikaans: “... die beste jaar ooit op akademiese en sportgebied …” Wag! Ek het iets gemis. Skielik kom ’n paar van die goed wat Dok Pienaar nou net gesê het terug: “Dit sal my laaste jaar as hoof van Lawson Kollege wees. Ek wou eintlik al verlede jaar my belange by die skool finaliseer, maar op aandrang van die skool se beheerliggaam en verskeie ouers, bly ek nog vanjaar aan. Soos ooreengekom met die beheerliggaam, sal ek egter nie voltyds by Lawson Kollege kan wees hierdie jaar nie. Die private sakebelange wat ek najaag, sal baie van my tyd opeis. Meneer Pete Andersen, die adjunkhoof, sal my plek volstaan wanneer ek nie hier is nie. Ek verwag dat julle hom sal ondersteun in hierdie reuse-taak.” Private sakebelange. Ek wonder wat dit is? Dok Pienaar het verlede jaar ook iets hiervan gepraat. Dalk is dit maar net sy manier om te sê hy is nou keelvol vir hierdie plek, hy gaan sy skoene uitskop, vir homself ’n whiskey en soda gooi en begin info-mercials kyk. Deur die loop van die dag word admin-reëlings vir die res van die jaar getref, klasroosters bespreek en ’n oorsig gegee van die leerplan. Maar die ding wat my die meeste opval, is al die waarskuwings en bedekte dreigemente dat hierdie matriekjaar nie kinderspeletjies gaan wees nie. Dat ons moet vergeet van girls, computer games en ander goed wat ons beperkte aandagspan kan aftrek van daardie groot einddoel: die matriekeindeksamen. Ons onderwysers is meestal dieselfde klomp wat ons verlede jaar ook gehad het. Net Niel Manson, Besigheidstudies, en Jennie Lombard, Afrikaans, is nuut. Hulle kry hulle byname deur die loop van die dag. Niel Manson word eers Nil Man, en later Nelson Mandela. Jennie Lombard kry sommer dadelik die naam Jennie Langbaard vanweë die effense wollerigheid op haar bolip en ken. Daardie middag dril die ingekontrakteerde atletiekafrigter van die Atletiek-Akademie ons vir die komende atletiekseisoen, ek vergader vinnig met die verskillende huise se koshuis-VRL’e en toe, uiteindelik, sak die son en kleur die blou berg om ons gloeiend oranje-geel, soos ’n reuse- goudstaaf. Daar is nou maar een ding wat jy moet weet as jy jou vuil skoolskoene polish vir jou eerste dag in graad agt by Lawson Kollege: vanaand gaan jy bid dat jy die Tonnel oorleef. Die Tonnel is die netwerk van waterafvoerpype wat onder die kollege deurloop. Die stank wat daar binne broei, is soos die asem van die duiwel. Dit werk so: “Opstaan! Opstaan, Trappers!” dreun ons stemme deur die koshuisgange. Al wat ’n deur is, word oopgestamp en die slapende graadaggies word uit hul beddens getrek. “Trek aan. Skoolklere, Trappers! Geen skoene.” Dan boender ons hulle uit by die deur. Oor die binneplein wat die groep koshuise vorm. “Sing vir ons, Trappers!” skree iemand. “Wys ons julle is nie bang nie!” Dit jaag hulle net verder op hol, hulle bewende lywe teenmekaar. “Wat … wat moet ons sing?” vra een van die Trappers. “Sing die skoollied!” skree ’n matriekseun. Dit werk altyd. Op jou eerste dag ken jy nog nie die skoollied nie. Hulle stemme is net ’n deurmekaar dwaal van woorde wat op ’n collision course is met ’n deuntjie wat hulle vaagweg onthou van vanoggend se skoolbyeenkoms. “O, julle ken nie eens julle eie skoollied nie!” roep ’n matriekstem. “And then you have the nerve to go to bed and sleep!” roep nog een. “Ek sê die Trappers moet ’n les geleer word.” Deur die warm nag, oor die donkergroen gras wat net plek-plek verlig word, vat ons hulle. Die Trappers probeer weer sing. Party Engels, ander Afrikaans. “Try again!” “Julle moet saamwerk, Trappers!” Dit misluk soos die vorige keer. Ons kom by die bos aan die westekant van die skool. Hier staan die geelhout-en witstinkhoutbome dig teenmekaar. Maar voor die lyn bome begin, is daar ’n groot sementblok in die grond, ’n mangat waar al die ondergrondse tonnels bymekaarkom. “Waar’s die blinddoeke?” vra ek. Iemand stop hulle in my hande. Ek deel hulle uit aan die ander matriekseuns. Elkeen kry ’n Trapper. Ons bind die blinddoeke om hulle koppe vas, begin hulle in die rondte tol. Die hele tyd kan jy die spanning in hulle lywe voel. Die geluide uit hul kele is na aan trane. Ek kyk na Kwanele, die onderhoofseun, en ek knik. Hy maak die mangat oop … “Julle wil deel wees van hierdie skool, nè, Trappers?” skree ek. Hulle antwoord flouerig. “Ek sê: julle wil blerriewil deel wees van hierdie skool, is dit nie?” “Ja …” “Ja, wie?” “Ja, meneer!” “Dit klink nie vir my so nie, Trappers!” skree ek terwyl ek om hulle loop. Opge-psych. “Maar julle kan my verkeerd bewys. Kyk of jy jou pad kan terugkry skool toe, deur die doolhof van pype. Ons sal een van die manholes aan die ander kant oophou. Net een. As jy daar kan uitkom, sal jy ’n Lawson-boy wees. As jy dit nie maak nie, kan jy bly waar jy is. Waar jy hoort!” TJ tel die Trappers soos hulle ingaan. Agt en veertig. Hulle stemme eggo deur die donker tonnels, voordat die mangat se ysterdeksel agter hulle toeslaan.’n Effense bangheid gril oor my hart, vir daardie outjies se onthalwe, want ek weet hoe ek gevoel het toe ek ’n Trapper was. Die benoude gevoel van die ander beurende lywe om jou, ingeperk deur die sementpyp. Jou onseker treë. Die vrot reuk onder jou voete. Jy is so vasgevang daardeur dat jy eers later besef dat jy nog jou blinddoek op het. Maar selfs al haal jy dit af, is die duisternis oorweldigend. “Geluk, ouens!” roep die matrieks na mekaar. “It went well, didn’t it? They’re scared shitless.” “Ek is bly dis nie ek nie.” Ek klop ’n paar ouens op die skouer. Dit is iets dié waarna jy uitsien van die eerste oomblik dat jy aan die ander kant uit die Tonnel kom: die oorgee van die ritueel. En toe, tussen al die glimlaggende gesigte, val my oë op Eckardt. Ek stap na hom toe. Met ’n stem wat bo die ander ouens se opgewonde pratery uitstyg, sê ek: “Maar hier is mos nog ’n Trapper!” Skielik word dit stil. Almal kyk nou na Eckardt. “Hoe lyk dit, Eckardt, kan jý die skoollied sing?” vra ek, smalend. “Ek sing nie,” sê hy. “O, maar dan het ek net die ding om jou tune te verander.” Die stilte om ons is oorweldigend. Ek weet alle oë is nou op my. “Gee vir my nog ’n blinddoek.” Ek voel die sagte lap in my hande. Span dit tussen gebalde vuiste. Stap om Eckardt. Stadig. Net toe ek die doek oor sy oë wil bind, draai hy sy lyf en stamp my hande weg. “Hou hom vas!” skree ek. ’n See van hande gryp na Eckardt, anker hom op sy knieë daar voor my. Ek grynslag. Geniet elke oomblik. Trek die knoop styf agter sy kop. Ek hoor sy vinnige asemhaling, sien hoe die spiere in sy nek span. Toe begin ons hom draai. Hy val ’n keer, toe nog ’n keer. Maar hy sê niks nie. Om en om. Hande wat vat, los, vat, los. Ek hoor die mangat se deksel oopgaan. Eckardt probeer ’n laaste keer loskom. Hy struikel. In die val, skuif die blinddoek van sy gesig af. Een van die ouens se flitslig val oor Eckardt se oë. Die oë wat nou skuins opkyk na my toe, oor sy skouer. En skielik voel ek asof al die bloed uit my lyf verdamp en my koud laat. Daardie manier van sy gesig draai, die uitdrukking in sy oë. Alles presies net soos my broer s’n. Net soos John. “Stop!” skree ek. “Los hom!” Ek gryp die ouens wat vir Eckardt in die mangat laat sak aan die skouers. “What’s wrong?” vra Kwanele. “Are you mad?” “Nee! Los hom net.” Ek steek my hand uit na Eckardt. Voel die greep van sy vingers om my polse. Toe trek ek hom self uit die donker gat. Ek sien die fronse op die ander ouens se gesigte. Maar ek gee nie om nie. Ek moes dit doen. OceanofPDF.com Die soektog en gerugte van selfmoord Dis Vrydagoggend, die dag ná Eckardt se verdwyning. Die televisie blêr in die Hang-Out. Dis iets van voëlgriep wat twee lewens geëis het in Engeland. Hoe voëlgriep sy oorsprong het in Hongkong en die afgelope maande stadig na die Weste toe oorgewaai het: die Midde-Ooste, Italië, Frankryk, Engeland. Selfs in Noord-Afrika is gevalle teëgekom. Skielik word die televisie se klank uitgedoof deur stemme in die koshuisgang. Onderwysers se stemme. Van die matrieks bondel saam in die gang voor my deur. “Wat’s dit nou?” vra ek vir die naaste ou. “Eckardt is nog nie terug nie,” sê hy. “Andersen is in sy kamer saam met ’n paar ander onnies.” “Sorry, ouens,” sê ek en beur tussen hulle deur om nader aan Eckardt se kamer te kom. Op daardie oomblik kom die koshuisvader, oom Ian, en ’n paar onderwysers uit. Hulle trek die kamerdeur agter hulle toe. “Manne,” sê Boggom, die wiskunde-onderwyser. “Kom gou na die ontspanningskamer toe. Ons moet praat.” Ons bondel soos ’n spul Karoo-skape agter hom aan. Fluistervrae vlieg onder die ouens rond. Daar is ’n gevoel van opwinding in die lug. Iets het gebeur, naby genoeg aan ons om die dag te verander. Maar vir my het die opwinding ’n donker kant. Vrees. Iemand skakel die TV in die Hang-Out af. Boggom moet ons eers weer stilmaak voordat Andersen kan praat. “Ons moet die skoolterrein begin fynkam,” sê Andersen saaklik. Hy trek aan sy pak se mou, stoot sy skouers terug. “Ons gaan in groepe verdeel. Die onderwysers sal julle neem na die areas waar ons wil hê julle moet soek.” “Waarna moet ons soek, meneer?” vra iemand. Die antwoord is seker vanselfsprekend, maar dalk ook nie. “Ons soek vir Eckardt Wilken. Of enigiets wat dalk vreemd lyk. Iets wat rondlê. Klere, byvoorbeeld.” Daar is ’n oomblik stilte. Toe voeg Andersen by: “Doktor Pienaar is nie op kantoor nie, maar ek sal hom op hoogte hou van wat hier aangaan. Op sy versoek gaan die res van die skool aan soos normaalweg. Ek wil nie hê julle moet met die ander leerders hieroor praat nie, hoor julle vir my? Ek maak staat op julle integriteit.” Boggom fluister iets in Andersen se oor. Andersen knik. “Nog iets. Moet ook nie julle ouers hiervan vertel nie. Nie nou nie. Ons wil eers uitklaring kry oor wat gebeur het. Onthou dat Lawson Kollege ’n trotse reputasie het. Dit is nie iets wat ons kan laat skade lei net omdat die een of ander …” Boggom vat aan Andersen se skouer en hy hou in die middel van sy sin op met praat. Sy oë skuif van die een ou na die ander asof hy probeer om ons te lees. Dit rus ’n oomblik langer op my as waarmee ek gemaklik is. Toe sy laaste opdrag. “Gaan trek julle aan. Eet. Ek kry julle oor ’n uur op die plein.” Dit is hoe die soektog na Eckardt begin. Waar die gerugte begin het, weet ek nie. Maar teen die tyd dat ons op die plein staan, in groepe opgedeel, praat almal van ’n brief wat gekry is. ’n Selfmoordbrief. Ons begin loop. Ek is in ’n dwaal. Iemand probeer ’n gesprek met my aanknoop, maar ek antwoord hom nie, want ou, verborge gevoelens kom wys weer gesig. Spoke uit die verlede. John Owen was my ouer broer. Die meisies was gek oor hom. Blonde hare en ’n vriendelike, skaam glimlag. Ons twee kon dik stukke gesels, partykeer tot laat in die nag. Sommer oor enige tjol. Hy het gehou van extreme sport. White water rafting, rotsklim, sulke goed. Ons het ’n paar keer saam gaan bungee jump. Die adrenaline rush het van my ook ’n danger junkie gemaak en later het ek al wat ’n gevaarlike ding was saam met hom gedoen. Mens kry mos daardie tipe ouens wat goed is in alles wat hulle aanpak. John was so ’n ou. Skool, sport, noem dit maar. Ek dink hy was op ’n manier my hero, maar ook my beste buddy. Ek sou enigiets vir hom doen. Maar John het niks van my gevra nie. Ek het gedink dit was omdat hy alles gehad het wat hy nodig het. Maar ek was verkeerd. Iets was steeds missing. En toe gaan doen hy so ’n stupid, stupid ding. Gordyne diggetrek. Pille op die bedkassie. “My Here tog! John!” het my ma geskree. Ambulansdeure wat stadig oopgemaak word by die hospitaal. Nooddienspersoneel met geboë skouers. Verby. En nou is daar die rumours. Eckardt het selfmoord gepleeg. Dit voel soos ’n goor fliek wat jy alreeds gesien het. Hoekom sal dit weer gebeur? En hoekom met Eckardt? Die manier waarop hy na my gekyk het die aand met die Trappers-inisiasie … Dit was asof John na my gekyk het deur Eckardt se oë. Die geskiedenis herhaal homself. Dis wat mense sê. Hulle sê ook jy is op hierdie aarde om lesse te leer. En as jy dit nie die eerste keer leer nie, kom dit weer oor jou pad. Jy kan dit nie systap soos in ’n rugby game nie. Ek het nie gehuil toe John dood is nie. “Jy sal nie!” het my pa beveel, sy hele houding afgetrokke asof dit iemand anders se kind was wat dood is. Nie sy eie nie. Nie die seun van wie hy soveel verwag het nie. En nou, hier tussen die bome op die grens van die skoolterrein, wonder ek: is dít die les wat wag om geleer te word? Hoe om mens te wees en die lewe aan te durf sonder ’n bulletproof baadjie wat jou beskerm teen pyn en hartseer? Ek probeer so ver as wat moontlik is van die ander ouens af loop. Ons oë vee oor die grond. Kyk op na die boomtakke. Soek vir ’n mens, soek vir ’n tou. Die dag drup stadig verby. Teen die aand is daar steeds geen teken van Eckardt nie. Van die onderwysers is glo na die omliggende dorpe: Bergville, Winterton en Harrismith. Hulle het in die strate gaan soek. Moeg stroop ek die aand my klere van my lyf af. Ek bind ’n skoon handdoek om my lyf. Voordat ek by my kamerdeur uitstap, lui my selfoon. Dis my ma. Ons praat oor nonsens, maar iewers in die gesprek hou sy net skielik op met gesels. “Greg, wat is fout?” vra sy. “Niks, Ma.” “Ek kan aan jou stem hoor daar is iets …” Ek kan haar nie sê nie. “Greg? Wat?” hou sy aan. Ek sug. “Ek het vandag aan John gedink.” OceanofPDF.com Log File: Lux hominum vita Op die plein tussen die vyf koshuise is daar nog ’n mangat waar een van die waterafvoerpype verbyloop. Dit is hierdie ysterdeksel wat Kwanele nou oplig. Die metaalgeluid galm deur die nag. By die koshuisvensters staan die ander ouens en kyk. Hulle weet wat aan die gang is, want hulle is ook al daardeur. Ek raak bewus van Eckardt, iewers tussen al die ouens, terwyl ons wag vir die Trappers. Hy staan hier tussen ons, maar op ’n manier is hy eenkant. Arms gevou. Sy oë vasgenael op die donker gat in die grond. Skaduwees trek lang swart strepe oor die plaveisel. Stemme slaan vas teen die geboue. Ons wag, asems opgehou totdat … die eerste bleek vingers oor die rand van die mangat vou. ’n Kop verskyn. Kwanele hou sy hand uit, vat die Trapper s’n vas, trek hom uit. Die jong seun kom staan voor my en vir ’n oomblik lank kyk ek hom vas in die oë. Dan gee ek hom die geheime Lawson Kollege-handdruk. En uit die Trapper se sak haal ek die klein flitsliggie. Die een wat ons in al die Trappers se sakke sit as hulle geblinddoek en in die rondte getol word, voordat hulle in die mangat wegsak. Maar op daardie stadium is jy so gedisoriënteerd en bang dat jy dit nie eens agterkom nie. Jy word in die donker tonnels losgelaat, maar jy word die gereedskap gegee om jou te help om jou pad te vind. Die verbasing op die Trappers se gesigte is een wat hom daarna herhaaldelik gaan afspeel, weet ons almal. Ek glimlag. “Lux hominum vita,” sê ek. “Lig is die lewe vir die mensdom.” Toe haal ek die doek wat om die Trapper se oë vasgebind was en wat nou los om sy nek hang, af. Ek vou dit op en sit dit in die Trapper se ander hand. “Om te onthou dat ons hier is om mekaar te help. Nou en in die toekoms.” Toe begin die seuns wat by die vensters uithang die skoollied te sing. Die klanke van hulle stemme laat die hoendervleis op my arms uit- slaan. Een ná die ander verskyn die res van die Trappers; die ritueel wat hom herhaal. Groep vir groep. So word hulle deel van ons. Maar nie almal vind hulle pad nie. Toe die son die rand van die berg in die ooste begin omlyn, is daar ses seuns kort. “Ek sal hulle gaan soek,” sê ek. Ses seuns wie se lot vanaand bepaal is. Hulle het nie hulle pad gevind nie. Hulle sal ook nie die jaar by Lawson uitsien nie. Daarvan sal ons seker maak. In die donker sal ek die verwarde siele se flitse uit hulle sakke haal en hulle sal dit nie eens weet nie. Die blinddoeke sal hulle self vir my gee. En hulle sal nie eens weet wat dit beteken nie. Hulle sal die ouens wees wat gebrandmerk is. Hulle sal Trappers bly totdat hulle ouers hulle binnekort weer kom haal. Want om hier nie deel van die groep te wees nie, sal vir hulle hel word. Ek sak in die donker weg, my armspiere dra my liggaamsgewig maklik. Toe ek die water onder my voete voel, en my asemhaling in die sementpyp na my toe terugkeer, hoor ek iets agter my. Nog iemand het saamgekom. Ek ruk my flits in die rigting van die geluid. “Ek kom jou help,” sê die ou. Dis Eckardt. Dae later, moeg van die atletiek en ’n vergadering met Dok Pienaar en meneer Andersen, is ek alleen in my kamer, sit ek voor die laptop. Langs my bed lê ’n klomp ongewaste skool-en atletiekklere. Ek moet hulle nog in die wasgoedsak druk, want die mense wat ons wasgoed doen, kom dit netnou haal. Ek stel die aircon bietjie koeler, die warm lug word hier tussen die berge vasgevang. “Wat doen jy?” vra iemand. Ek draai om en sien vir Eckardt in die deur staan. “Kan ek inkom?” “Ja, sure,” antwoord ek. Vryf my oë. “Ek is op die net. Surf bietjie.” “Hoop nie jy is op die porn sites nie?” “Sal dit nie waag nie. Nie by dié skool nie, anyway. My pa sal uitfreak as sy skouperd iets doen wat hom ’n skorsing kos.” “So, het jy ook een van daardie pa’s?” “Jy ook?” Eckardt trek sy skouers op. “Seker nie so erg nie. Maar wat dink jy maak ek hier? Clones, hè, almal van ons – clones van ons pa’s. Dis wat hulle hier met ons doen, issit nie? Hulle breinspoel ons sodat ons mooi kan glimlag, die regte dinge doen en sê.” “En in pappa se voetspore kan volg,” voltooi ek die sin. “Ek sien jy weet,” sê Eckardt. Daar is ’n ruk stilte waarin nie ek of Eckardt weet wat om te sê nie. Ek klik daarom maar net op een van die links op die site waarop ek nou is. Voltooi my besonderhede op die blad om te registreer om DVD’s te kan invoer van Amerika af. “Baie gevaarlik wat jy nou doen, nè?” sê Eckardt. “Hoekom?” “Kyk daar onder op jou skerm.” Hy wys met sy vinger na ’n leë blokkie. “Sien jy, geen slot nie? Dit beteken enigiemand kan sien wat jy nou doen– ás hulle wil sien waarna jy kyk, bygesê.” “Tjol, man,” grinnik ek. “Nee, genuine. En selfs al was daar ’n slot, beteken dit ook nie jy surf veilig nie. Jy moet na die site se sertifikaat gaan kyk.” Ek het nie ’n clue waarvan Eckardt praat nie. “Maar dis boring stuff,” sê hy. “Het jy tyd, dan gaan wys ek jou ’n paar ander goed?” “Ja, sure. Het tog nie nou lus vir huiswerk nie.” Ek begin net saam met Eckardt na sy kamer toe stap, toe ek van die wasgoed onthou. “Wag eers!” roep ek. Storm weer terug kamer toe, bondel die spul vuil klere in die wasgoedsak. In die gang lig ek die wasgoedgeut se klap op en gooi die sak in. Verder af in die gang hoor ek die geluid van die televisie in die Hang- Out. Eckardt sit reeds voor sy laptop toe ek sy kamer binnestap. Sy venster is oop. “Ek hou nie van aircons nie,” sê hy verskonend. “Lus vir iets om te drink?” vra hy. “Kyk sommer in die yskas. Ek dink daar is nog twee biere agter die blikkies koeldrank.” Ek buk by die klein yskassie. Skuif die koeldranke weg, en wragtig, daar is die verbode vrugte. Twee yskoue Castles. Ek weet ek is veronderstel om so iets te rapporteer, maar ek besluit: what the hell, 4 x 4’s kan mos nie net altyd veilig op die teerpad bly nie, hulle moet af en toe rowwe terrein aandurf. Ek druk die yskasdeur toe en stap terug na Eckardt. “Sê my, Greg,” vra hy toe ek een van die biere na hom toe uithou, “het jy al ’n computer try hack?” OceanofPDF.com Die pion gooi sy toys uit die cot Teen die Saterdagoggend het die nuus soos ’n griepepidemie versprei na die laer grade. Almal probeer inligting uit die matrieks kry, maar omdat dié nie regtig iets sê nie, maak die ouens hulle eie stories op. Ek is aan diens in die Da Vinci-eetsaal. Dwaal net lusteloos daar rond en wens die spul wil nou hul freerange eiers en ander organiese kos eet en loop. “Hulle het hom gekry, ouens. Vir Eckardt.” ’n Opgewonde stem agter my. Ek draai vinnig om. “Opgehang aan ’n boom. Sy tong so uit –” Ek gryp die graadagt-ou aan die skouer. Hard. “Waar hoor jy dit?” “By Jones,” sê hy, stil geskrik. “Wie is Jones?” Hy wys met sy vinger. Ek voel hoe woede my lyf oorneem. Dit is so erg dat ek ’n oomblik net eers moet stilstaan en asemhaal. Kalmeer. “Sê vir Jones ek ruk sý tong uit as hy weer sulke bog versprei.” Ek stap buitentoe en gaan sit op die trap voor die koshuis. Eckardt se deur was vanoggend gesluit toe ek daaraan voel. Vir ’n oomblik het dit my laat dink aan ’n grafsteen. Die wit verf soos marmer. Ek weet waar die koshuisvader en die terreinbestuurder ’n loper hou vir die kamers, maar ek het nie gebodder om dit te gaan haal nie. Ek kyk uit oor die plein. Tom, die terreinbestuurder, stap verby. Hy en ’n assistent is besig met die laaste voorbereidings vir die rugbywedstryde wat negeuur begin. Toe hy sien ek kyk na hom, lig hy sy hand. Sy lippe vorm ’n groet. Ek knik net my kop. Ek ken hom nie regtig nie. Die vorige omie het afgetree, dink ek. Hierdie een is seker in sy dertigs. Whatever, nie ons soort mense nie, soos my pa sal sê. Ek dink dit skaars, toe skrik ek. “Clones, hè, almal van ons – clones van ons pa’s,” het Eckardt gesê. Is hy reg? En as hy reg is, gaan my toekoms ook soos my pa s’n lyk? Daardie ewige rat race die wêreld vol, om soveel geld as moontlik te kry. Maar die ou wat die rat race wen is steeds ’n rot, is hy nie? Vanoggend staan daar al klaar ’n paar motors op die plein geparkeer. Dit is dié van ouers wat kom kyk hoe hul kinders vanoggend rugby speel. Selfs dit maak my die duiwel in. Nie die ouers nie, maar Lawson Kollege wat die wedstryde later vanoggend teen Durban Boys High net flippenwil laat aangaan asof niks gebeur het nie. Weer daardie woede wat my vuiste laat saamtrek. Hoe kán hulle? Is hulle só gesteld op die skool se image dat hulle een van die leerders se verdwyning gaan stilhou en vir die wêreld voorhou dat alles oukei is? En dat hulle óns ook gebruik in hierdie spel van hulle. Wanneer gaan hulle dan met die waarheid uitkom? Ek kyk na die man wat nou sy nuwe BMW parkeer op die plein. Hý weet nie wat hier aangaan nie. Of sou sy seun hom al vertel het? Dalk vind hy netnou uit as hulle mekaar sien? TJ kry my op die trap. Netjies uitgevat in sy skoolklere, soos die skoolreëls vereis van leerders wat nie Saterdae aan sport deelneem nie. Hy stamp sy vuis teen myne toe hy groet. “Hei, bru, as jy so alleen hier sit? Jy weet ons mag nie so rondhang op die trappe nie.” Ek trek my skouers op. Hy kom sit langs my, knyp sy oë toe teen die oggendson. “Ek dink maar.” “Eckardt?” vra hy. “Jip.” “Bad ding hierdie.” Stilte. “Dok Pienaar het vanoggend gekom. Wil die matrieks glo sien voor die wedstryde begin.” Ek knik my kop ingedagte. “Dink jy nie dis tjol nie, TJ?” vra ek en draai my kop in sy rigting. “Wat?” “Hierdie ding dat hulle alles wil stilhou, man, flippit.” TJ is ’n groot skaakspeler. Rêrig passievol. “Jy moenie vergeet nie, Greg,” sê hy, “ons ouens is pionne, jy lyk nes die pion langs jou. Heeltemal vervangbaar. En iewers in hierdie skaak-game kan iemand besluit hy gaan jou offer.” “Vir wat?” “Wie weet? ’n Groter beloning? Om die game te wen?” Ek dink ’n ruk daaroor na. Toe TJ opstaan en by die koshuisdeur instap, besluit ek: ek gaan dit nie toelaat nie. As hulle dink ’n pion kan nie terugbaklei nie, maak hulle ’n fout. Vandag sal hulle een sien baklei. Die eerste rugbywedstryde het al op die A-en B-rugbyvelde begin toe ’n onderwyser die matrieks nader roep. Dok Pienaar staan en wag vir ons. Hy vryf sy hande en op sy gesig is daar ’n vet alles-is-oukei-glimlag. “Almal hier?” vra hy en sy valse glimlag trek nog breër. Hy kyk ons aan asof hy, netjies uitgevat in sy sportbaadjie, vanoggend een van ons is. Ons beste pel. Hy wil iets by ons hê, weet ek. Dok wag totdat al die seuns om hom stil is voor hy begin praat. “Manne, julle lyk goed vanoggend! Magtig, dit voel amper of ek voor ’n Springbokspan staan.” Hy gee ’n klein laggie. Polish net ons ball, weet ek. Ek lag nie saam met die ander ouens nie. “Ek glo julle is reg vir daardie piesangboere? Wat ek van hulle gesien het, het my nie juis beïndruk nie. Hulle lyk maar klein teen julle ouens. Gaan julle hulle vandag trap?” “Hur-rah!” roep die ouens vasberade uit een keel. “Ek het so gedink. Onthou, ek verwag nie dat jy jou beste doen nie. Sportmanne wat hul ‘beste’ doen, is verloorders. Dis nie goed genoeg vir my nie, en ook nie vir Lawson Kollege nie. Ek soek jou hart en jou siel. Determinasie. Visie. Oorwinning.” Toe bly hy ’n oomblik stil. En ek weet hier kom dit nou. Die eintlike rede hoekom hy ons wou sien. “Maar voor julle begin speel, is daar ’n ander kwessie. Die … um … ongemaklike situasie van een van die leerders wat gedros het.” Wat! skree dit in my. Eckardt het nie gedros nie. “Meneer Andersen het al met julle manne gepraat. En ek verstaan daar is ’n klomp stories wat rondlê. Maar dit is presies wat dit is: net stories. Alles dui daarop dat Eckardt Wilken bloot net weggeloop het sonder om vir enigiemand te vertel. Nietemin, ons moet seker maak of dit die geval is. Dit is in die skool se beste belang. Maar ons moet nie ’n klomp spoke opjaag in die proses nie. Daarom vra ek julle manne se samewerking. Ons hou hierdie ding eers tussen ons. Intussen probeer ons ons vermoede bevestig. Manne, dis ’n ernstige ding hierdie. Ek is glad nie ten gunste van sulke onbehoorlike gedrag nie, maar ek gaan ook nie toelaat dat dit julle manne se matriekjaar opmors nie. Daarom gaan ons sportdag voort soos beplan en –” Dis op daardie oomblik dat ek voel hoe al die opgekropte woede in my oorstoot. Voor ek kan keer, spoeg ek die woorde uit: “Ek dink dis pateties!” Dok Pienaar is dadelik stil. Sy kop draai in my rigting. Sy blik solied. Net so verander sy hele houding. Word dit rigied. Sy glimlag verstar, lippe trek dun en reguit. Asof ’n vloekwoord enige oomblik op sy tong kan ontplof. Maar hy hou hom in, sien ek. En hy sê net: “Greg?” “Ek kan nie glo dat julle dit nog wil ontken nie, Dok. Ek meen, face dit: Eckardt is weg, maar hy het nie weggeloop nie.” “Hoekom sê jy so, Greg? Is daar iets wat ek moet weet?” “Hy … hy sou my vertel het as hy wou wegloop.” “Greg, ek ken julle jong outjies. Al dink julle ek weet nie, ek weet wat in julle koppe aan die gang is. Hier het niks sinisters gebeur nie. Eckardt het bloot net weggeloop, dis al.” “Nou hoekom moes ons gister die skoolterrein deursoek?” kap ek terug. “Ons moes seker maak dat hy nie nog op die skoolgronde is nie. Dat hy nie dalk seergekry het nie.” “Ek het meneer Eden al Donderdag vertel dat Eckardt nie in sy kamer was die oggend nie. Hoekom het ons eers ’n dag daarna op die skoolgronde vir hom gaan soek?” Dok Pienaar raak nou meer ongemaklik, sien ek. Sy ysere gluur sny deur my. Maar ek gee nie om nie. Ek gaan net aan: “En wat is die storie van ’n brief wat die skool gekry het?” ’n Beheerste stilte, toe, met ’n koue stem: “Daar is nie ’n brief nie.” “Ja, right. Ek glo dit nie. Dok, met alle respek, ek dink julle steek iets vir ons weg. Ek dink hier is groot fout. En dit is die kollege se plig om iets daaromtrent te doen. Nou! En as julle nie nou dadelik begin nie, sit ek nie my voet op ’n rugbyveld nie.” “Greg, laat ons mekaar goed verstaan,” sê Dok, nou so kalm dat dit mens eintlik bang maak. “Ek gaan nie dat jy my dreig nie. En ek gaan ook nie dat jy my afpers nie. Lawson Kollege is ’n gerespekteerde instelling met ’n goeie reputasie. ’n Droster soos Eckardt Wilken gaan dit nie verongeluk nie. Daarvoor sal ek sorg. Verstaan jy my? En as jy met my verskil, gaan sit dan maar in jou koshuiskamer en huil oor hom. Ek gaan jou nie dwing om te speel nie. Daar is ander ouens wat net so goed soos jy is op vleuel.” Dok Pienaar hou ’n oomblik op met praat. Ek kyk hom direk in die oë. Ek gaan nie dat hy my intimideer nie. Hulle het die situasie verkeerd hanteer, en hy weet dit blerriewil. “Dok, dan loop ek nou!” Die woorde was skaars gesê, toe is ek al jammer, maar ek draai nie terug nie. Ek loop na Huis Da Vinci toe. My treë voel onvas. Binne my wil dit gelyk skree van frustrasie en juig omdat ek my man gestaan het teen Dok se slapgattigheid. Maar bo dit alles is daar die vrees wat tussen my derms rondwurm, want ek weet daar is nou ’n groter draak wat ek sal moet aandurf … ek sal aan my pa moet kan verduidelik wat ek gedoen het. Terug in die koshuis. Die plek is verlate en pynlik stil. Magteloos. Dis hoe ek nou voel teen die skool en teen Dok Pienaar. Ek het my toys uit die cot gegooi, maar uiteindelik beteken dit niks. En Dok is reg, daar ís ander ouens wat vleuel kan speel vir die eerste span. Dalk nog beter as ek. Ek voel verdwaal in my koshuiskamer. Nie een van die ander ouens het saam met my gestaan teen Dok nie. Is ek dan hulle leier? If you think you’re a leader but nobody is following you, you’re merely going for a walk. My pa se gunsteling-sêding – uit ’n selfhelpboek, sekerlik. So dalk ís ek bloot op ’n uitstappie. Wat gee ek om? Ek trek my sportklere uit. Krul op op die bed. Lê net daar. Toe kom die vraag: Greg, wat kan jý doen omtrent Eckardt se verdwyning? ’n Tyd lank dink ek daaroor. Die antwoord vra vir konkelwerk. Die skool wil nie hê ons moet ons ouers vertel nie. Maar hulle het niks gesê van die media nie. En ek het mos contacts in die pers. As ek hulle ’n tip-off kan gee … Anoniem. Ek ruk om na my laptop. Sit regop in die bed. Dit sal werk, ek weet dit sal. En al wat ek daarvoor nodig het, is een van die fiktiewe email-adresse wat Eckardt my help skep het. OceanofPDF.com Log File: Onderwêreld “Wat? Is jy mal?” vra ek. “Waar sou ek nou al try hack het?” Eckardt glimlag skelm. “Maak toe die kamerdeur. Cyberspace se onderwêreld wag …” Donker woorde, stikvol opwinding. Onderwêreld. Net die klank daarvan laat my hoendervleis kry. Asof dit John is wat aankondig: “Hei, boet, ons gaan ’n nuwe extreme sport try. Hoe lyk dit, is jy in?” Eckardt draai terug na sy laptop. “Kom ek wys jou. Ek is al ’n ruk besig om hierdie een te try hack,” sê hy. “Dis ’n reisagent se website. Ek het ’n program laat hardloop om te kyk vir CGI-swakpunte en –” “Wag, CGI … soos die programme wat hulle gebruik om special effects te maak in movies?” Eckardt skud sy kop. “Nee, dis iets anders. Hierdie CGI is ‘Common Gateway Interface’. Dit verwys maar net na die manier waarop programme op ’n webserver praat met die surfer se browser.” “Hoekom doen jy dit?” “Ek soek inkomplek. Jy kan die maatskappy aan die ander kant amper sien as ’n kasteel. En ek soek ’n swak plek in die ringmuur om binne-in die kasteel te kom. Maar die kasteel is goed beskerm. Maatskappye gebruik nie klipmure om hulle data te beskerm nie. Hulle gebruik wat hulle ‘firewalls’ noem.” “Ek het al van firewalls gehoor,” sê ek. “So jy probeer om binne-in die firewall te kom.” “Ja, dan sal ek so te sê ín die kasteel wees.” Ek glimlag. Dit klink maklik, maar ek kan sien Eckardt het vrek baie ondervinding van hierdie goed. Ek volg sy vingers soos dit oor die rekenaar se sleutels spring. “By the way,” sê hy ná ’n ruk, “wat ek hier doen, het ’n hacker – ek dink sy naam was Zyklon – ’n paar jaar terug gebruik om die White House in Amerika se site te hack. Hy het ingekom deur iets so stupid soos ’n telefoonboek wat hulle op die site geplaas het. Hy het ’n gat in die programming gesien en dit uitgebuit.” Eckardt sit ’n oomblik terug in sy stoel en kyk vir my. “Die programmer moes ’n spul spesiale karakters lys in die program. Die telefoonboekprogram moes dan die karakters validate. En toe vergeet die siel een van die karakters. Zyklon het die fout tot sy voordeel aangewend. Uiteindelik kon hy enige command uitvoer wat hy wou.” “Op die White House se site!” “Jip, maar nie net hulle website nie, ook op hulle computer servers. So kon hy die hele White House se password files in die hande kry.” “Hè?” “Maar hy het selfs verder gegaan en uiteindelik het hy, in plaas daarvan om na whitehouse.gov te connect, die White House se computer so ver gekry om na sy eie computer te connect.” Ek skud net my kop. En ek kan sien Eckardt geniet dit. “Daai ou moes blerrie slim gewees het.” “Dalk nie. Hy moes net slimmer wees as die programmer en die system administrator. En die beste van alles – hy was net negentien jaar oud toe hy dit gedoen het!” Eckardt draai weer terug na die rekenaar. “Ek het agtergekom ek kan iets soortgelyk doen as Zyklon, maar ek gaan deur die reisagent se complaints- skerm probeer inkom. Sien jy, hier is ek veronderstel om my eie kontakdetail in te voer, en tussen die inligting sit ek die spesiale escape- karakter, dan die hacking commands …” Eckardt tik voort. Sy oë maak klein rukbeweginkies. Konsentrasie. ’n Glimlag. Toe fluister hy sag maar triomfantlik: “Yes! Ons is in!” Ek staar in ongeloof na die skerm. “Die meeste reisagente gebruik die Amadeus-of Galileo-stelsels om besprekings te doen. Amadeus connect deur AT&T se global network, en Galileo werk deur SITA. SITA se network is baie betroubaar, selfs al moet jy na verafgeleë lughawens connect. En omdat dit so ’n belangrike deel vorm van die lugvaartbedryf, is daar ’n klomp maatskappye wat daardeur werk.” “Soos reisagentskappe?” “Ja,” sê Eckardt. “Ander ook, kyk net hier …” Ek sien die name van groot lugrederye op die skerm. Daar is ook koeriermaatskappye wat gelys word. “En wat nou?” vra ek. “Nou kyk ons ’n bietjie rond.” Eckardt se oë flits geoefend oor die skerm. “En dan?” frons ek. “Dan glip ons weg … net so stil soos ons gekom het.” Ek frons. “Maar hackers delete mos goed. Steel inligting. Neuk alles op in die computers, is dit nie?” “Party doen dit,” sê Eckardt. “Maar ons noem hulle eintlik ‘crackers’. Dis die ouens wat chaos saai. ’n ‘Hacker’ is eintlik maar net ’n ou wat nuuskierig is, wat bietjie met hardware en software rondspeel, kyk wat hy kan doen. Dalk om programme beter te laat werk, om onnodige stappe uit te skakel en die programme vinniger te laat werk. “Daar is hacking-organisasies soos L0pht, TNo, en the Guild wat swakplekke in programme publiseer. Partykeer sommer ’n klomp op ’n slag. Hulle los dit soos ’n bom. Greg, kan jy dink wat sal gebeur as hulle hul bekke hou oor hierdie goed? As hulle dit nie bekend maak sodat die magtige Microsoft dit kan regmaak nie?” Ek skud my kop. “Ek dog hackers is almal ’n klomp ouens wat net uit is op destruction.” “Ek weet. Die meeste mense dink so. En die media help hulle. Oukei, daar is die hard core crackers wat nie swakplekke in stelsels publiseer nie. Hulle beweeg ongesiens in die onderwêreld en surface net as iemand hulle uitvang – en dan is dit gewoonlik ’n hacker van wie niemand nog ooit gehoor het nie, so fyn trap hy daar onder. “Maar hackers is een van die redes hoekom computers en computer- programme so vinnig vooruitgegaan het die afgelope paar jare. Hulle dwing maatskappye eintlik om ordentlike computer systems te gebruik. Ek meen, sal jy jou geld in ’n bank sit as ’n hacker daarby kan uitkom? No ways! Daarom moet die bank sorg dat hy beter beskerming kry vir sy kliënte. ABSA-bank het dit gedoen nadat ’n ou ’n klomp kliënte se rekeninge gecompromise het. Voor dit het jy bloot jou bankrekeningnommer en iets soos ’n vyfsyfer-password ingetik as jy hul internetbank wou gebruik. Dis belaglik maklik vir ’n hacker om daardie kode te breek. Maar vandag moet jy deur twee password-skerms beweeg om by jou geld uit te kom. En hulle gebruik SMS’e om kliënte te laat weet iemand het aangeteken op hulle rekening.” “En dit het eers gebeur nadat iemand geld gesteel het,” sê ek. “Ja. ’n Klompie banke het nou ook ’n intelligensie-organisasie, SABRIC, geskep om risiko’s en bedreigings van hackers uit te wys.” Ek vat my bierblik en frommel dit tussen my hande. “Oukei,” sê ek. “So daar is die good guys en die bad guys in die hacking-onderwêreld.” “Ja, hulle praat ook van die white hats en die black hats.” “En die black hats is seker die kriminele.” Eckardt knik sy kop en glimlag skeef. Hy teken af op sy laptop. In my broei daar nou ’n opgewondenheid. En die potensiaal van gevaar wat net skuins agter die opwinding lê. “Sal jy my leer?” vra ek toe Eckardt weer agteroorleun in sy stoel. “Wat betaal jy my?” Ek maak of ek sy stoel gaan omgooi. “Komaan, Eckardt!” Hy kyk my eers net aan asof hy moet besluit, maar ná ’n ruk sê hy: “Oukei, maar nie vanaand al nie. Môre. Ons kan môre begin.” OceanofPDF.com Sleeping beauty kry dinge aan die roer Die email glip cyberspace binne soos ’n koeël uit ’n pistool met ’n silencer. Stil en dodelik. Right on target. Die sportdag is skaars verby toe ek sien hoe ’n motor na die skool aangery kom. Die enigste een wat aankom, terwyl al die ander besig is om weg te ry. Ek kan nie seker wees dit is hulle nie, maar ’n krieweling trek deur my lyf, laat my nekhare regop staan. En ek wonder … is dit ’n verslaggewer van een van my pa se koerante? Daar is groot opgewondenheid in Huis Da Vinci se gange. Lawson Kollege het Durban Boys High verpletter. In die Hang-Out begin iemand ’n rugby-CD kliphard speel. Ja-nee, geld kan ook nie goeie smaak koop nie. Ek mik net deur toe om ’n draai op die ander verdiepings te gaan maak, te sien of alles orraait is daar, toe TJ en Plank aangestorm kom. Hulle bondel my terug in my kamer in. “Hei, my ou, jy moes dit gesien het,” sê Plank, sy arm om TJ se nek en sy vuis in die lug. “Ons het mincemeat van hulle gemaak!” “Twee ouens is sin bin toe, maar dit het ons nie gekeer nie,” val TJ vir Plank in die rede. “Lawson rules! Ons flippen rule!” “Geluk, ouens,” sê ek flouerig, skielik spyt dat ek nie deel kon wees daarvan nie. In die Hang-Out bars ouens los met die skoolkreet. Voete stamp teen die vloer, vuiste hamer teen deure. Dit sal nie help om hulle te probeer stilmaak nie. “Hei, het jy nie ’n bier nie?” vra Plank bo die rumoer. “Jy weet ons mag nie bier inbring skool toe nie,” sê ek met my hoofseunstem. “Ag, te hel met dit, man! Ons is hero’s.” “Superhero’s!” lag TJ. “Dissit, hoor jy, Greg? Ons is superhero’s! En ons het lus vir ’n bier.” Ek lag net, trek my skouers op. “Ek het niks, check maar daar in die yskas.” Plank doen dit sommer ook. Pluk die yskasdeur oop en begin die binnekant deurkyk. “Naught, bru, wat is dit hierdie? Iced tea? En bottels water?” “Ek het jou mos gesê, Plank.” “Kyk in sy asblik, TJ, dalk het hy alles hier alleen in sy kamer sit en uitsuip terwyl ons ons longe uitskree vir die eerste span.” TJ kry die asblik beet, maar daar is niks in nie. “Dumpster diving,” kom Eckardt se woorde by my op. Dis wat party hackers doen as hulle na inligting soek oor ’n maatskappy. Hulle gaan krap in die asblikke agter die geboue. “Mense dink mos as jy ’n ding weggooi is hy weg,” het hy gesê. “Not true. En hackers weet dit. Jy kan allerhande goed in ’n asblik kry wat jou kan help hack: Maatskappye se ou telefoonboeke, emails, ou handleidings. Asblikke is die geheime inligtingshoofweg!” “Hei! Greg!” roep TJ my uit my dagdroom. “Wat is dit met jou? Ek praat! Lyk my hy’s rêrig al gespat.” “Sorry, TJ, wassit?” vra ek. “Ek vra wat het jy die heeltyd met jouself aangevang hier alleen in die koshuis?” “Beauty sleep,” lieg ek. Ek kan tog nie vertel van die email wat ek gestuur het nie. Of van die hacking-boeke wat ek lê en lees het nie. “Sorry, dit het nie gehelp nie, ou Greg,” grinnik Plank. “Jy’s nog moer lelik, my ou.” “Dis nie wat Nicole sê as sy in my arms lê nie.” “Sy lieg vir jou. Vat dit nou van ’n buddy. Girls sal enigiets sê, solank hulle kry wat hulle wil hê.” “Hei, dit rym!” lag TJ. “I’m a poet and I don’t even know it!” Ek hoor nie wat TJ-hulle verder sê nie, want my gedagtes dwaal na die motor wat ek sien aankom het skool toe. As dit iemand van die media was, braai hulle seker teen dié tyd al vir Dok Pienaar. Ek wonder of daardie blink kop van hom sal sweet as die vrae begin kom. Later daardie aand bel Nicole. Dis Saterdag. Sy en haar pelle is op pad uit, sê sy. Ek wonder daaroor. Oor hierdie pelle-ding. Is daar ouens wat saamgaan, of is dit net … Toe moet ek Nicole se oproep skielik kortknip. “Greg?” vra sy. “Wat is dit? Ek wou jou nog …” “Sorry, Nicole. Ek bel jou later. Ek moet nou gaan.” Flikkerend deur die donker bome langs die rylaan, kom die blou ligte. ’n Polisiemotor. Verligting en intense spanning kom kruip gelyk in my lyf. So, die nuus is uit. Die skool het die polisie gekontak. Dan wás daardie eerste motor seker van die koerant. En dan hét hulle seker vir Lawson Kollege op ’n manier geen ander keuse gelos as om die polisie se hulp in te roep nie. Dok Pienaar is seker nou hoogs beduiweld. Ek gaan sit op die rand van my bed en wag. Die polisie sal binnekort hier in die gang afstap, weet ek. Maar my gut feeling sê hulle gaan nou eers ’n draai by Dok Pienaar maak. Dalk gesels hulle eers in sy kantoor. Hy sal hulle seker koffie aanbied, dan moontlik ’n omkoopgeskenk om dinge stil te laat gebeur. Om alles vinnig klaar te kry dat die skool se kosbare beeld tog net nie skade ly nie. Maar dis net wat ek dink, ek kan nie regtig weet nie. Wag, wag, wag. My sel lui. Dis Nicole. “Jy’t gesê jy gaan my terugbel, Greg.” “Skies, ja.” “Nou hoekom het jy nie? Ek het ook ’n lewe, weet jy?” Ek het nie nou hiervoor lus nie. “Daar is iets wat ek jou moet vertel, Nicole,” val ek haar in die rede. Ek hoor hoe sy skielik stil word en wag dat ek praat. “Eckardt is weg. Van Donderdag af al.” “Wat?” “Jy onthou ek het jou vertel dat hy my nie Donderdagoggend kom wakker maak het nie?” “Ja?” “Hy is van daardie dag af al missing.” “Waar’s hy?” Ek probeer in haar stemtoon lees hoe bekommerd sy is. Of sy dit bloot uit ordentlikheid vra, en of dit iets meer is. “Ons weet nie. Die skool wou dit eers stilhou. Ons het die skoolgronde deursoek. Niks gekry nie. Anyway, toe jy netnou gebel het … die polisie het opgedaag …” “Die polisie?” “Van die ouens dink dat hy dalk homself …” Ek hou op met praat. Die woorde wil nie op my tong vorm nie. Dis ek wat hulle nie op my tong wil hê nie, want skielik is dit soos toe ek mense moes vertel dat John selfmoord gepleeg het. Dieselfde bitterheid in my mond. Magteloosheid. “Homself wát, Greg?” vra Nicole, ’n tikkie ontsteltenis in haar stem. Ek haal diep asem. “Dit is dalk niks. Sommer net stories. Jy weet hoe mense stories versprei.” Die gesprek is op ’n einde, weet ek. Die stilte op die lyn hou te lank aan. “Ek sal bel as daar meer nuus is, Nicole.” Uit die musiek wat skielik gedoof word en die veranderde toon in die stemme van die ouens in die gang kan ek aflei dat die polisie in Eckardt se kamer is. “Almal van julle, terug na julle kamers toe, asseblief,” sê Dok Pienaar geïrriteerd. Die ouens brom onderlangs, maar maak soos hy sê. Ek gaan staan in my kamerdeur en kyk hoe hulle verbyloop. “Kom, ouens, vinniger!” por ek hulle aan. “Loser,” kap een sag. “Wie was dit?” Hulle lag net, stamp aan mekaar. “Beweeg!” Ek draai my kop terug na die bopunt van die gang. Toe val my oog op Eckardt se kamer. Twee deure verder af, aan die oorkant van die gang. Dis net die ouens van die uniformtak wat nou hier is. Twee van hulle. Ek sien hoe hulle in die kamer rondbeweeg. Die hoek waaruit ek kyk, is maar sleg. Maar dit lyk vir my of hulle ’n kasdeur oopmaak. Stemme praat, maar ek kan nie hoor wat hulle sê nie. Een ou praat Engels, klink dit my. Dok Pienaar staan met sy rug teen die muur. Hy hou die polisiemanne se bewegings woordeloos dop. Toe hulle uitkom, sê die een: “Ons gaan nie nou te veel hier krap nie. Die speurders sal self wil kom kyk. Hoe vorder julle met die SAP55?” “Die wat?” vra Dok Pienaar. “Die vermistepersonevorm.” “O jammer, dit – die adjunkhoof is besig daarmee.” “Praat julle van my?” klink Andersen se stem op van die hysbak se kant af. “Pete, die sersant wil weet hoe ver daardie vorm is,” sê Dok saaklik. Andersen se stem word skielik sagter. Ek kan nie uitmaak wat hy sê nie. Dit klink of hy eers met Dok wil praat. Alleen. Hulle begin weg beweeg van Eckardt se kamer af. Skouer teen skouer kom hulle nader gestap na my kamer, albei met bekommerde uitdrukkings op hulle gesigte. Ek druk myself klein teen die kamerdeur sodat hulle my nie sien nie. Andersen se stem is duideliker, noudat hulle byna by my kamer staan. “Ek kan dit nie verstaan nie. So iets het nog nooit vantevore gebeur nie. Nie in óns leerderdatabasis nie. En hoekom dit nou juis met Eckardt Wilken se skoolrekord moes gebeur.” OceanofPDF.com Log File: Toets vir die idiote Dis die dag ná ek gesien het hoe Eckardt die reisagent se systems hack. En die eerste oggend dat Eckardt my kom wakker maak. “Terwyl Zeus, die heerser van Olimpus, slapend gevou lê in Hipnos se vlerke, strand sy seun, Herakles, se skip vandag weer op Kos,” sê hy toe hy aan die deur klop. “Wat de hel?” vra ek deur die slaap. “Never mind. Roer jou gat en staan op,” antwoord hy. Ek maak een oog oop, lig myself op my elmboë. Eckardt is in sy oefenklere. Sweet glim op sy lyf. “Is jy simpel? Het jy al gaan draf?” vra ek. “Altyd. Enigste tyd om helder te dink, so vroeg in die môre. Toe, roer jou, dis byna tyd vir brekfis.” Die dag sleep om. Pouse moet ek, in opdrag van Dok, die VRL aanvat oor hul “betreurenswaardige dissipline”. Meneer Andersen daag halfpad deur die vergadering op. Spioeneer op ons, asof ons dit nie weet nie. “Wil meneer nog iets byvoeg?” vra ek toe ek klaar my preek afgesteek het. Hy skud sy kop en loop. “Good show,” sê Kwanele toe hy ook loop, sy houding uitdagend. Ek gluur hom agterna. Ek kry vir Eckardt op pad na die Engelsklas. “Jy onthou nog van jou belofte van gisteraand, nè!” herinner ek hom. “Ek het nie vergeet nie,” sê hy. Die terreinbestuurder loop verby ons. Hy kyk in ons rigting. Eckardt knik sy kop uit hoflikheid, maar praat nie verder totdat hy buite hoorafstand is nie. “Dink solank aan ’n lekker catchy nick.” “ ’n Watse ding?” “Jou skuilnaam, Greg,” fluister Eckardt uitdagend toe hy opstaan, “Jou hacker nickname … Jy gaan tog nie onder jou eie naam onderwêreld toe nie.” “Wat is joune?” vra ek toe hy begin loop. Eckardt draai terug, leun oor na my toe: “My naam is Ekk-0.” Die res van die skooldag is ’n total loss vir my. Ek sit net en dink aan ’n hacker-naam. G-man. Klink soos ’n superhero wat uit die Fantastic 5 geskop is, en toe word hulle die Fantastic 4. Gregorian. Nee, dit sal klink of ek ’n hacker-monnik is. Dalk moet ek iets vat wat niks te doen het met my naam nie. Smash. Master. Destroyer. Ek hou nogal van daardie een en onderstreep hom vet agterin my dagboek. Jackal. Intruder. Shadow. So gaan dit aan en aan. Uiteindelik kom ek op iets af. Force. En toe het ek dit: ’n kombinasie van my voorletter en Force. G-Force. Ek skryf dit die aand op die notepad wat ek saamgebring het na Eckardt se kamer. “G-Force,” sê ek triomfantlik, asof ek die eerste hekkie al oor is. Eckardt skud sy kop. Hy trek die “For” in die naam dood. Daarbo skryf hy “4”. G-4ce. “Dit klink dieselfde en is baie cooler,” sê hy. “My nickname skryf jy so.” Hy skryf “Ekk-0” onder my naam. “Die laaste een is ’n nul, nie ’n ‘o’ nie. Maar jy spreek dit uit soos die Engelse ‘o’.” Ek knik. “Oukei, genoeg daarvan, kom ons begin. Wat het jy in gedagte vir my eerste les?” “Sit jy voor die laptop. Dis reeds aangeteken op die web. Gaan na www.hackthissite.org.” So begin dit vir my. Ek registreer op die site as G-4ce. Ekk-0 wys na die menu aan die linkerkant van die bladsy. “Hier is ’n klomp challenges waar jy veilig kan leer. Begin by die ‘Basic Web’ link.” Ek maak soos hy sê. Die skerm verander. Die eerste Basic Web challenge: “The idiot test”. Die opdrag is eenvoudig: tik die password in om voort te gaan. En moenie ander mense gaan smeek vir die password nie. Hulle gaan jou net haat of jou met jou swak hacking skills spot. “Klink maklik, nè?” sê Eckardt. Ek lag net. “Ek like die titel van die challenge. Hulle het seker geweet ek gaan voor die computer inskuif.” “Almal is maar idiote as hulle begin. Jy moet net nie een bly nie!” Eckardt wys my waar ek hulp kan kry vir hierdie challenge. Daar is links op die website na ander sites waar nuwelinge – newbies, soos die hackers hulle noem – kan raad vra by ervare hackers. Ek spring aan die werk. Eers probeer ek sommer net enige woord wat in my kop opkom in die spasie intik, maar dit werk nie. Ek moet maar na die webboards gaan vir hulp. Maar dis asof die ervare hackers kat en muis speel met die newbies. Hulle terg en waarsku. Gee leidrade, maar jy moet tussen die lyne lees om te verstaan wat dit beteken. Uiteindelik kom ek tot die slotsom: Ek sal moet uitvind wat “HTML” is as ek hierdie toets wil slaag. Ek Google HTML en kry ’n klomp hits. Ek klik op die link na w3schools.com. Hulle het ’n spul tutorials wat jou inligting gee oor rekenaarprotokolle, servers en ’n klomp ander goed. Die aand vlieg om. “Nog besig?” vra Eckardt toe hy later weer die kamer binnekom. “Vrekkit, man, ek dog jy gaan my leer hack, nou sit ek nog die hele aand net en lees oor HTML, Formatting Tags, Href Attributes en sulke tjol.” Eckardt klap my op die skouer. “Die voorbereiding is dikwels die belangrikste ding van hacking. Nie net as jy leer nie. As jy met ’n regte aanval besig is ook.” Ek gaap, kyk na die horlosie aan die onderkant van die rekenaarskerm. Dit was ure terug al ligte uit. So much vir my dissiplinepreek vir die VRL’s. “Genoeg vir een aand dan. My oë kyk al oormekaar.” “Nee, wag. Voor jy gaan, wil ek jou iets wys.” Eckardt druk my terug in die stoel. “Ek is seker jy weet teen dié tyd al genoeg om die eerste challenge agter die rug te kry. Gaan gou terug na hackthissite. Klik dan regs op die website, en dan klik jy op view page source.” Ek maak soos hy sê. ’n Nuwe venster maak oop. Net ’n spul letters, syfers en vreemde tekens. “As jou website die vel was, is hierdie spul deurmekaar geskryfde goed die bene, bloed en derms,” sê Eckardt. En skielik verstaan ek dit. Al die goed wat ek vanaand sit en lees het oor HTML protokol sit hier voor my. Oukei, ek verstaan nie alles wat ek sien nie, maar ek kan hier en daar al goed herken. Ek scroll af deur al hierdie kodes. En daar, soos ’n groen juweel tussen die ander source codes, sit die antwoord: Hierdie sin is ingebou in die web page se source code, maar die manier waarop dit geskryf is, maak dat dit nie op die webpage self sigbaar is nie. “Maklik soos dit!” lag Eckardt. “Toe, try hom.” Ek tik die password in op die website. En hy werk! “Geluk, G-4ce. Nou’s jy ook nie meer ’n virgin nie, of hoe?” Ek maak of ek vir Eckardt met die vuis gaan bykom. Hy koes en stamp sy notabord teen die muur af. Dit kletter grond toe. “Sorry, man,” sê ek. “Maar ek is nou so pumped. Ek wil sommer die volgende challenge aanpak.” “Jy was netnou nog doodmoeg.” “Dit was netnou!” Maar Eckardt keer my. “Môre is nog ’n dag.” Ek help hom om die bord weer teen die muur op te sit. Een van die duimspykers gly uit en ’n foto dwarrel grond toe. Ek tel dit op. Dit is van ’n man, vrou en twee kinders. “Jou pa-hulle?” vra ek. “Jip,” sê Eckardt en vat die foto by my. Dis my broer, Henno, dié, en my sussie, Janita.” “Wat doen jou pa?” “Hy voer staal in van Japan en Switserland. Hier verkoop hy dit ten duurste aan Suid-Afrikaanse nywerhede. Konstruksiemaatskappye, sulke goed. My ma is ’n Pilates-instruktrise vir die ryk tannies van Kaapstad.” “So, min of meer die standaard high-living family tipe ding,” sê ek. “Jip, soos die res van die ouens hier. Die clones.” OceanofPDF.com Twee foto’s “Kry daardie rekenaartegnikus … uh, Thomas …” “Thompsen,” help meneer Andersen vir Dok Pienaar. “Kry vir Thompsen, dat hy kom kyk.” “Maar sal hy so laat in die aand uitkom, Dok?” vra meneer Andersen. “Hy bly op Harrismith. Hy sal die hele ent pad moet inry –” “Dis waarvoor hy betaal word, verdomp!” Van sy stemtoon kan ek aflei dat Dok se bal nou lekker knyp. Maar waaroor? Wat is fout met die rekenaars? Hulle het iets gepraat van die leerderdatabasis. Die antwoord kom gouer as wat ek verwag. “Jy is seker jy het reg gekyk, Pete?” dreun Dok. Meneer Andersen se stem is kalm, maar die benoudheid slaan nogtans deur: “Ek sê vir jou, Dok. Daar is géén kontakpersone op Eckardt se rekords nie. Nie eens sy ouers se name nie. Geen adres, geen telefoonnommers. Niks. Net sy naam: Eckardt Wilken.” Weer alleen in my donker koshuiskamer en ek kan nie slaap nie. Dis asof Eckardt my nie wíl laat slaap nie. Hy is weg, maar nou skielik meer teenwoordig as ooit. Nes John in daardie eerste stormdae ná sy dood. Die dae van verskriklike woede. In my agterkop bly iets net sê: ek hoop Eckardt is oukei, ek hoop nie hy het iets stupids loop en aanvang nie. En ás hy iets doms aangevang het, wat dan? Sy skoolrekord is skoon. Daar loop gerugte dat hy selfmoord gepleeg het, maar daar is geen liggaam nie. Sy selfoon en laptop is nog in sy kamer. Op ’n manier moet al die goed sin maak. Om en om draai dit in my kop. Om en om draai ek in my bed totdat ek dit nie meer kan hou nie en moet opstaan. My lyf is seer. Langs my bed lê die gepakte toksak steeds wat ek vroeër vandag moes gebruik vir die rugby. Ek mik om dit te skop, maar besluit daarteen. Vat dit net en gooi dit in die hoek van die kamer by die kas waar dit uit my pad kan wees. Die koshuisgang is koud. Stil, behalwe vir ’n slaapkreun hier of ’n hoesie daar. ’n Enkele lig brand aan die onderpunt by die trap. Ek loop kaalvoet in die gang af, die vloer koel onder my voete. Nader aan Eckardt se kamer. My hart stamp harder, vinniger teen my borsbeen. “Greg? Aren’t you sleeping yet?” vra ’n stem agter my. Ek skrik, maar steek dit weg. Voel net hoe my binnekant ruk en bly stilstaan. Dis Kwanele. Hy het ’n japon en pantoffels aan en staan met sy hande in die japon se sakke. As iemand van ’n township hom só sou sien, sou hulle sê hy is ’n coconut. Veral met sy perfekte Engels, sonder ’n sweempie Afrika-aksent. “Ek is op pad badkamer toe.” Hy sê niks, kyk net na my. Ek wonder of hy my storie glo. Indien nie, het dit in elk geval niks met hom uit te waai wat ek in die middel van die nag in die koshuisgang maak nie. Wat maak hý hier? En dis sommer wat ek hom ook vra – om die aandag van my af te vat. “En jy? Hoekom is jy nog op?” “I was busy studying.” Ek wil my kop in ongeloof skud, maar ek doen dit nie. Jou armsalige sot. Dis Saterdagaand. Get a life. “But I am on my way to bed now,” maak Kwanele klaar. “Good night, Greg.” “Nag.” Ek stap badkamer toe. Maak die deur agter my toe en bly lank daarbinne om seker te maak Kwanele maak werklik soos hy gesê het. Toe ek dink dis veilig, maak ek die badkamerdeur versigtig oop. Ek loop na my kamer se kant toe, maar dis meer om seker te maak Kwanele is weg. Toe draai ek om en stap na die trap toe. Dis waar oom Ian, die koshuisvader, die loper wegsteek vir hierdie verdieping. Eckardt het my eenkeer gewys. “Kyk daar,” het Ekk-0 gesê. “Dit is soos om jou huis se voordeursleutel onder ’n klip in die tuin te hou. En baie ouens doen dit met hulle computer passwords ook. Hou dit op los papiertjies of in dagboeke langs hul computers waar hulle dit maklik kan kry.” By die trap is daar ’n donker houttafel met skaalmodelle van twee van Da Vinci se uitvindsels: sy pantservoertuig en sy helikopter. Die sleutel is in die pantservoertuig se romp. Ek haal dit versigtig uit. Met die loper in my hand stap ek na Eckardt se kamer. Sluit dit oop, glip vinnig in, druk die deur toe en wag in die donker … Luister of iemand my gevolg het. Dis stil buite in die gang. Toe eers sit ek die kamerlig aan. Dit is die plek waar ek Ekk-0 se onderwêreld leer ken het. Die kamer lyk nog net soos ek dit laas gesien het. So die polisie het nog niks kom vat nie. Daardie ou van die uniformtak het mos gesê hulle los dit vir die speurders. En húlle was nog nie hier nie. Dit voel of iets my vasdruk. Dwing om te … wat? ’n Beeld van John se bleek hand, opgekrulde vingers flits deur my geheue. Ek voel skielik naar. Dis die onbekende wat dit doen, weet ek. Die onbeantwoorde vrae. Soos die goed wat weggesteek word tussen HTML tags wat die websurfer nie veronderstel is om te sien op die web page nie. Ek gaan sit op die stoel voor die lessenaar. My kop draai. Môre kom die Sondagkoerante uit. Dan sal ek sien wat daardie joernalis wat ek laat kom het, geskryf het. Wat sy alles uit die skool kon kry. Ek voel beter, my oë kan weer fokus. Teen die muur hang die notabord wat ek daardie aand per ongeluk afgestamp het. Maar iets is anders aan die bord … die flentertjies papier, skoolrooster, studieprogram … Iets is weg. Iets is uit plek. Soek. Aa! Daar is ’n nuwe foto op, vasgedruk met ’n enkele goue duimspyker. Die foto hang waar die Wilkense se gesinsfoto was. Ek staan vinnig uit die stoel op. Met die eerste oogopslag sal die foto vir niemand iets beteken nie. Maar vir my … Die foto het net ’n enkele wit hoed op. Met vingers wat skielik nie lekker kan raakvat nie, haal ek dit af. My oë volg die skerp kontras van die wit hoed teen die swart agtergrond, terwyl my asem rukkerig uitkom. Ingedagte stap ek uit die kamer, sluit die deur en gaan sit die sleutel weer in die wegsteekplek. Terug in my eie kamer, bekyk ek die foto weer in die lig van my lessenaarlamp. Dit was definitief nie teen die notabord voor Eckardt se verdwyning nie. Maar ek het dit al iewers vantevore gesien. Ja! Op ’n MMS wat Eckardt vir my gestuur het. Dit was presies dieselfde foto. Ek kry vinnig my selfoon, gaan deur die menu en kry die MMS’e wat ek gebêre het. Daar is dit nog. Ek vergelyk die twee foto’s. Presies dieselfde. Nee, daar is ’n verskil. Daar is iets op die foto in my hand geskryf. ’n Website-adres. www.securekit.com. Langs dit die woord “Ekk-0”. Ek kan nie gou genoeg my laptop aan die gang kry nie, my hartklop onrustig terwyl ek wag dat Windows moet laai. Die vingers van my linkerhand is gereed op die keyboard, my regterhand op die muis. Toe hy klaar gelaai het, double-click ek op die Firefox-icon. “Dis ’n veiliger web browser as Internet Explorer,” het Eckardt gesê. “Minder mense gebruik Firefox, so daar is minder ouens wat programme skryf om swakplekke te exploit in die web browser.” Blitsig verskyn die venster. Ek tik die webadres in: www.securekit.com. Enter. Dis ’n website waar jy ’n steganography-program kan aflaai. Vrek, ek weet nie eens wat die woord beteken nie. Ek lees die bladsy vinnig. Dit lyk vir my of steganography ’n manier is om geheime boodskappe in foto’s weg te steek. Een foto in ’n ander foto, of dalk ’n dokument binne-in ’n foto. Nou onthou ek: Eckardt het eenkeer daarvan gepraat. Daar was sprake dat terroriste soos Osama Bin Laden dit ook gedoen het. Hulle het instruksies, kaarte en foto’s van hulle teikens in ander dokumente weggesteek en op web boards en websites geplaas. Ek het eers gedink Eckardt het vir my die MMS gestuur as ’n herinnering om ’n white hat te bly. Maar nou … Dit was meer as net ’n herinnering. Daar is ’n boodskap in! Ek laai die steganography-program vinnig op my rekenaar af. Jy kan dit blykbaar vir 30 dae lank gratis gebruik. Terwyl die program laai, laai ek die MMS ook van my selfoon af. Ek skud my kop in ongeloof terwyl ek wag. Wie sou nou kon dink dat iets so eenvoudig soos ’n foto ’n password kan wees wat gecrack moet word? My rekenaarhorlosie flits dis al byna twaalfuur. My kop is al suf, maar ek móét net weet wat in hierdie foto weggesteek is. Die program laai vinniger af as wat ek gedink het dit sou. Ek laat die virusprogram dit gou scan vir virusse en malware. Skoon. Nou, install. Doodmaklik om t