Donker Web PDF - Fanie Viljoen
Document Details

Uploaded by ExceptionalRetinalite4962
Fanie Viljoen
Tags
Summary
Donker Web, deur Fanie Viljoen, vertel 'n donker en spannende verhaal. Die boek neem die leser deur 'n verhaal vol geheimenisse, en die karakters word deur verskeie uitdagings gedruk.
Full Transcript
OceanofPDF.com Tafelberg OceanofPDF.com Vir die matrieks wat nog ’n storie uit die onderwêreld gevra het OceanofPDF.com Here is the world. Beautiful and terrible things will happen. Don’t be afraid. – Frederick Buechner In the face of pain there are no...
OceanofPDF.com Tafelberg OceanofPDF.com Vir die matrieks wat nog ’n storie uit die onderwêreld gevra het OceanofPDF.com Here is the world. Beautiful and terrible things will happen. Don’t be afraid. – Frederick Buechner In the face of pain there are no heroes. – George Orwell, 1984 Beware that, when fighting monsters, you yourself do not become a monster … for when you gaze long into the abyss, the abyss gazes also into you. – Friedrich Nietzsche OceanofPDF.com Reboot Die ontkoppeling van alle toestelaandrywers, toemaak van alle programme en herbegin van ’n rekenaar se bedryfsisteem. Dit kan gedoen word vir normale rekenaargebruik of om ’n probleem te help oplos. OceanofPDF.com H y stap in die donker gang af. Dis soos daardie aand toe hy sy pa in die studeerkamer gekry het. Voor sy oë sien hy steeds sy pa se groot lyf half oor die lessenaar gebuig toe die deur oopgaan. Hy sien die geel koevert. Sien die 9 mm-pistool. Sy pa vou dit toe in ’n lap en sit dit weg in die laai. “Jy moet nie vir jou ma vertel nie. Oukei? Dis ons geheim,” sê sy pa. Sy gesig is natgehuil. “Gaan slaap nou.” Binne hom weerklink sy pa se stem toe hy nog daar staan om sin te probeer maak van wat hy gesien het. Hy het nie eens geweet daar is ’n pistool in die huis nie. Wat maak sy pa met een? Uiteindelik draai hy om, stap kamer toe met sy pa se woorde wat hom volg. “Nag. Lekker slaap …” Sy pa sê sy naam, maar hy hoor dit nie. Dis asof die donker dit opraap en in die voue van sy kleed verberg. Nou weet die donker van hom en sal dit hom roep. Hom op sy naam noem asof hy aan die donker behoort. Sy regte naam, nie net ’n eggo daarvan nie. “Xander, is dit jy?” vra ’n stem nou in die studeerkamer. Dis ses maande nadat hy sy pa die aand daar met die pistool gekry het. Toe was hy elf. Nou twaalf. Hy het verlede maand verjaar. “Ja, Pa?” “Kom binne, jong.” Xander druk die deurhandvatsel af. Die metaal is steeds koud. Die deur wat hy oopstoot ruik steeds na politoer, nes daardie vorige keer. “Alles oukei?” vra sy pa. Hy sit in ’n diep leerstoel by die kaggel. Oral om hom lê papiere gestrooi. In sy hande, ’n Montblanc-pen en ’n oopgeslane boek. Xander se oog gly oor die groot boekrak, sien dadelik die plek waar die boek uitgetrek is. Dit laat ’n swart gat tussen die groen boekrûe. “Daar is iemand by die deur vir Pa,” sê hy toe hy sy kop terugdraai. “Het jou ma hulle laat inkom?” Xander haal sy skouers op. “Weet jy wie dit is?” “Twee ooms.” Hy weet nie veel meer nie. Sy pa se werk bring soms mense huis toe. Meestal in pakke klere. Kraakwit hemde. Dasse. Hierdie mans was anders aangetrek. Sommer net jeans en swart T-hemde wat om hulle boarms span. Sy pa sit die pen neer en maak die boek tydsaam toe. Frons. “Ek verwag nie mense nie. Ek is nogal besig, Xander.” “Die een oom het gesê dit is dringend.” “Het hy nie sy naam gegee nie?” Xander dink ’n bietjie. “Nee, maar hy het gesê Tok het hom gestuur. Dis ’n snaakse naam.” “Dok?” “Ja!” Sy pa staan op uit die stoel, skielik haastig, asof hy nou eers besef wat aangaan. Sy hand bewe toe hy aan sy seun raak. “Xander, gaan soek ’n plek waar jy kan wegkruip. Jy kom nie uit totdat ek jou roep nie. Gou! Maak gou!” Iewers in die huis gil ’n vrou. Dit ruk binne Xander. Stamp sy asem uit sy bors. “Pa, wat gaan aan? Was dit Ma?” Sy pa is by hom. Gryp sy skouers vas. “Ek is lief vir jou, Xander. Onthou dit. Altyd. Maak nie saak wat gebeur nie.” Vinnig soen sy pa hom op die voorkop. Daar is ’n skrikwekkende dringendheid aan die soen, aan sy woorde. “Dink slim, oukei, seun? Gaan nou, kruip weg. Dadelik! Gaan net. Gaan!” Dis meteens asof die donker se kleed om hom vou. Asof dit stywer om hom trek, en hoe meer hy probeer uitwerk wat aangaan, hoe stywer knel die houvas. Steeds kom sy asem in kort, hortende teue en skeur die vrees deur sy lyf. Dok. Dit het iets daarmee te doen. “Regter Gericke …” hoor hy die besoeker sê. Xander kyk oor sy skouer toe hy met die gang afhardloop. Hy sien die mans se skaduwees oor die muur in die portaal skuif. Dis soos monsters wat die huis binnegekom het. Die angs wel steeds hoër in hom op. Pols deur sy brein. Sy mond droog. “Naand, kan ek julle help?” vra sy pa uit die voorportaal, waar die lig sag gloei. Sy stem is gespanne, dof, asof hy uit ’n bodemlose diepte praat. Dan hoor Xander die vuishou, sien in die rukkende skaduwee teen die muur hoe sy pa inmekaarsak. Dis hoe vrees voel: Vuur blits deur jou lyf, elke senuwee ruk wakker, adrenalien gooi jou gedagtes in snelrat, jou oë sper oop, jou asemhaling hou op en jou borsholte pers saam. En jy hoor dit – jou eie hart. Klop. Klop. Klop. OceanofPDF.com Recovery drive Enige media, soos byvoorbeeld ’n geheuestokkie, wat ’n rugsteun bevat van die oorspronklike fabrieksopstelling van ’n rekenaar. Dit word gebruik om ’n bedryfsisteem te herstel ná ’n rekenaarstaking of die korrupsie of skrapping van data. OceanofPDF.com Skree G reg Owen is oorlede. ’n Span duikers het sy liggaam gister uit die Canale Grande in Venesië gehaal. Dis wat die koerante in die Turret Media-groep oor my berig. Greg Owen is dood. Kan dit waar wees, ná alles wat gebeur het? Miskien is daar meer aan die storie. Ja, ek was in Venesië, waar die hoofkanaal soos ’n reuseslang deur die stad kronkel, en ja, iemand is uit die donker water gehaal. Maar ander mense was saam met my daar. Ons was vyf. Een van hulle is dood. Hierdie is ons storie. Dis hoe dit begin. Ons huis in Sandhurst het ’n skemeragtige plek geword, meestal sonder klank, buiten vir ’n selfoon wat af en toe lui, die geluid van ’n motor in die straat, ’n sjef wat kosmaak in die kombuis, of wanneer ek doelbewus musiek hard aansit om die stilte te verdryf. Kom jy die huis binne, stap jy met die gang af of sit jy in die sonkamer, is daar altyd hierdie swaar gevoel wat binne jou lê, soos ’n opgekrulde slang. So het dit begin voel die aand toe ons by die huis arriveer nadat ek teen die middel van matriek weg is by Lawson Kollege, nou al ’n jaar en ’n half gelede. So iets. Ook tyd het ’n ander betekenis gekry in hierdie somberte. Dae het soms verbygegaan terwyl jy afgestomp daardeur worstel, net om aan die einde van so ’n dag in die hof of waar ook al te wonder hoe jy daardeur gekom het. Dit was byna soos wanneer ’n mens se gedagtes begin dwaal terwyl jy kar bestuur, en jy later wonder hoe op aarde jy by die huis gekom het, want jy kan niks van die rit onthou nie. Besigheidsvennote en mense wat vroeër goeie vriende met my pa was, het hulself skaars gehou. Altyd besig. Dit was asof hulle bang was dat ’n smet aan hulle sou afsmeer. Een unlikely ou het egter op ’n dag by die huis opgedaag, ’n ruiker blomme in die hand. “Let me know if there is anything you need, Mrs Owen. Anything at all.” Thomas Lawson. TJ, wat saam met my in matriek was, se oupa. Asof hy my pa iets skuld. En noudat alles verby is – skool, Dok en my pa se hofsaak, die media- vreetfees – is die neerdrukkende gevoel in ons huis steeds daar. Dit besef ek toe ek die aand vir die laaste keer in my bed lê. Môre is dit tyd vir ’n nuwe begin, of so vertel ek myself. Die een of ander tyd moet ’n mens voortgaan. Dis die lewe. Ek laat my asem stadig uit, my oë gerig op die muur oorkant die bed waar ’n Conrad Botes-skildery hang. Dis uit sy The Temptation to Exist-reeks. ’n Selfportret wat ek nie verstaan nie, maar waarna ek ure lank kan kyk. Waaroor ek kan wonder. My ma het dit vir my gekoop omdat sy weet ek hou van sy hardegat kuns. In my kas is daar nog ’n stapel Bitterkomix- strokies met Botes, Anton Kannemeyer en ander kunsrebelle se werk in. Van die skildery af beweeg my oë na die bokse by die deur. Die tasse en ander random goed wat môre moet saamgaan Stellenbosch toe. Dis waar ek nou gaan bly. Stellies. Ek probeer my aandag vir ’n oomblik daarvan afkry, want ek weet ek moet slaap. Dis al ná twaalf. Met my oë toe, lê en luister ek na my eie asemhaling. Weer intens bewus van die verraad in my: die ou wat sy eie pa vir die wolwe gevoer het. Dit steek in my bors. Jy kan skoert van die huis af, Greg, maar so maklik kom geen mens weg van die swakheid binne jou nie. Ook nie van die verlede se skaduwee nie. Ek rol om. Al probeer ek hoe, die slaap wil nie kom nie. Uiteindelik gooi ek die beddegoed eenkant toe, klim uit die bed en stap badkamer toe. Die lig gloei helderder toe ek die vertrek binnestap. Ek sluk ’n glas water af. Vang nog ’n stroom water in die holte van my hande, spat dit oor my gesig en kyk hoe die water oor my vel blink, hoe dit in strome oor my ken afloop na my nek, oor my kaal bolyf. My gesig het verander. Die gedagte tref my onverhoeds. Ek is glad nie meer dieselfde matrieklaaitie wat ek in Lawson Kollege was nie. Daar is iets forsers aan die manier waarop my gesig se hoeke sny. Iets treurigers in my oë. ’n Bitterheid in die manier waarop my lippe trek. ’n Mens leer ook uit die wedstryde wat jy verloor, kom ’n les van ’n rugbyafrigter na my toe terug. Leer ’n rugbywedstryd jou dat die lewe unfair is? wonder ek wrang. Waar ek nou is, en hoe ek hier gekom het – dis nie hoe my lewe moes wees nie. Met daardie gedagte wat deur my kop maal, stap ek terug kamer toe. My vingers vee oor die bokse by die deur toe ek my kamerdeur oopmaak. Die gangmat is sag onder my voete. By my broer, John, se kamer stop ek. Vir ’n oomblik wil ek klop en is daar die vae hoop dat hy sal antwoord. “Kom in as jy ’n broek aanhet.” Dis hoe hy altyd geantwoord het. Ek kry ’n effense laggie, maak die deur oop en stap in. Die lig gaan lê sag oor die kamer toe ek die skakelaar teen die muur druk. Nog herinneringe stroom deur my, duisel in my kop. Die bed is opgemaak. Die gordyne wat die donker moet buite hou, is toe. Al John se goed is net soos dit was toe hy nog geleef het. My ma hou dit so. Daaroor is ek nogal bly. Al is dit tragies, amper ’n gedenk-altaar, is dit een van die min dinge wat ons van my broer in die huis het. Om sy gedagtenis in my lewendig te hou, probeer ek verbete vasklou aan die tye wat ons saam was. Soos die keer toe ons by die Orlando-torings in Soweto gaan bungee jump het. Later was ons by Bloukrans se bungee en toe by die reusetouswaai by die Moses Mabhida-stadion in Durban. John het gelewe vir daardie adrenalienstorm in die bloed. “Hoekom doen ons dit?” het ek hom gevra toe ons daar op die platform by die stadion staan en afkyk na die sportveld doer onder. John was alreeds vas aan die springtou se harnas. Die seewind daar bo het aan ons hare gepluk en ons T-hemde teen ons lywe vasgedruk. Dit was asof John na die antwoord binne hom gesoek het. “Hoekom?” het ek weer gevra. “Vir die val. Vir die vrees,” het hy ná ’n ruk geantwoord, sy wenkbroue uitdagend gelig, en skewerig geglimlag. Toe spring hy. Die rek het hom soos ’n naelstring verbind aan die middel van die massiewe boog wat oor die stadion span. John het sy arms oopgegooi en uitgelate diep uit sy maag geskree. Vir die val. Vir die vrees. Hy het my op elke avontuur saamgesleep. Bungee, white-water rafting op die Oranjerivier. Rotsklim in Kaapstad. Dit was asof hy met al hierdie adrenalieninspuitings die grense van die lewe wou toets. Die grens het hy gekry. Nie in een van die gevaarlike sporte nie. In ’n donnerse bottel pille. So is my broer weg. “My Here tog! John!” het my ma geskree toe ons hom kry. Dit sou hom nie terugbring nie, al het my ma hoe geskree en gebid in die kar op pad hospitaal toe. Die stadige oopmaak van die ambulansdeure by noodgevalle het die tyding gebring. Dit was verby. Ma het soos ’n verdwaalde uit die kar geklim en na die ambulans toe gestap. Ek en my pa het ’n ruk in die motor bly sit. Eers in ’n verdrinkende stilte. Toe sê Pa iets wat my so geskok het dat ek dit nog nooit aan iemand kon oorvertel nie. Nie eens my ma nie. Nou is dit jare later en ek staan in John se kamer. Die beeld van die sterk ou met sy blonde hare, oseaanblou oë en glimlag wat meisies se harte kon sagmaak, het al begin vervaag in plekke waar ek hom wou onthou. Dit het ’n skadu tussen verlang en vergeet geword. Die Meksikane sê glo elke mens sterf drie dode: die eerste dood is wanneer jy jou oë vir die laaste keer toemaak, die tweede wanneer jy begrawe word en die aarde oor jou toemaak, en die derde die dag wanneer niemand jou meer onthou nie, wanneer jou naam nie meer gesê word nie. “So, jy het nog een dood oor, my broer,” sê ek sag en gaan sit op die bed waar ons hom daardie dag gekry het, die leë pilbottel op die bedkassie. “Slaap jy nie?” vra ’n stem by die kamerdeur. Dit laat my opkyk. My ma het ’n syjapon aan. Kaalvoet. Geen grimering om die moegheid op haar gesig weg te steek nie. “Seker my sondes wat my wakker hou,” probeer ek grap. Sy dink nie dis snaaks nie. ’n Spiertjie by haar mond trek. Stadig kom Ma die kamer binne, amper asof sy op heilige grond loop. Dwalend beweeg sy deur die kamer. Sy raak hier aan ’n fotoraam, daar aan ’n sportmedalje of die getekende rugbybal wat eens in Lawson Kollege se gedenkmuseum was. “Partykeer is dit asof ek nog vir John in die kamer kan voel,” sê sy, haar stem broos van die herinnering. “Soos ek hom in my lyf gevoel het voor sy geboorte. ’n Ma vergeet nie hoe elkeen van haar kinders binne haar gevoel het nie. John was die onrustige een. Tóé seker al planne gemaak vir daardie gevaarlike sport waaraan hy sou deelneem. Jy was kalmer, Greg. ’n Denker of ’n dromer, het ek destyds gedink. By tye het jou voet hier onder my hart vasgeskop. Asof jy genoeg gehad het van die benoudheid en wou uitbreek. Nee, het ek toe besluit, hierdie een gaan ’n rebel wees.” My ma laat die woord “rebel” in die lug hang sodat ek daarmee kan maak wat ek wil. Vir ’n ruk lank praat ons nie. Ek sit op John se bed en my ma staan net daar skuins voor my, kantel haar kop asof sy soekend luister vir John se stem – wat nie kom nie. Uiteindelik verbreek ek die stilte. “Ek gaan nog ’n rukkie sit, Ma kan maar gaan slaap.” Sy knik. Maar steeds staan sy versteen in haar gedagtes, draai haar wysvinger deur haar hare. “As ’n mens ’n kind verloor, is dit asof jy in die diepste geheimenisse van die see beland, waar jy op jou eie verdrink. Niemand kan jou daar kom red nie. Vreemd, jy wil ook nie hê iemand moet jou kom red nie. Jy soek net jou kind. Dis al.” Haar oë boor ’n oomblik lank in myne, dan vou sy haar arms om haar lyf asof sy skielik koud kry. Ek weet nie wat om vir my ma te sê nie, net soos ek nie weet hoe dit voel om ’n kind te verloor nie, en sy nie weet hoe dit voel om ’n broer te verloor nie. Verdrink ons nie maar almal so in die stilligheid nie? “Wat gaan Ma doen as ek weg is?” vra ek uiteindelik. “Ek kan seker kies om te doen wat ek altyd doen. Of ek kan aangaan met my lewe.” Weer die ongemaklike stilte. Daar is ’n kwesbaarheid aan die manier waarop haar skouers sak, ’n rouheid in haar stem. “Weet jy wat ek soms ná John se dood gedoen het? Toe jy daar by Lawson Kollege was, jou pa wie-weet-waar op sy sakereise, en ek vasgekeer in hierdie verdomde huis?” Ek skud my kop. “Ek het gewag totdat al die werkers laatmiddag weg is. Dan het ek die deure en vensters toegemaak. En ek het geskree. En geskree. En geskree.” Die bekentenis ruk my. Haar mondhoek krul senuweeagtig asof sy dit nie moes gesê het nie. Dan kom nog ’n belydenis om die desperaatheid van haar stil bestaan te onderstreep. “Almal vir wie ek lief is, word van my af weggevat.” Sy frommel haar hande inmekaar, bly staan so asof sy beswaarlik regop kan bly teen die emosies. “Ma?” vra ek versigtig. Bang. Ek staan vinnig op, sit my arms om haar en druk haar styf teen my vas. “Is Ma oukei?” Geen antwoord nie. Ek sit my hande weerskante van haar gesig. Kyk dringend na haar, my polsslag rusteloos. “Ma?” Haar mondhoek pluk. Sy draai haar kop effens, soen my hand. “Nag, Greg, ek gaan nou slaap. Ek is baie moeg. Sit die lig af as jy kamer toe gaan.” In geskokte stilte kyk ek hoe sy wegstap, sien in my gedagtes my tenger ma in die sitkamer, of die kombuis, of haar slaapkamer. Haar hande in vuiste gebal. Kop agteroor gegooi. Oë toegeknyp. Mond oopgesper. Binne my hoor ek haar skree. En die rou krete wat deur die leë huis weergalm. OceanofPDF.com Vertrek E k word wakker op John se bed. Van buite streep die lig bo die gordyne. Ek vee die slaap uit my oë, vryf deur my hare en gaap. Terwyl ek tot verhaal kom en die nag se onrustige drome verdryf, kom ek regop. ’n Diep sug. “Cheers, Boet,” sê ek met ’n grofheid in my stem, soos iemand wat gehuil het. In die kombuis wag ontbyt wat ek vinnig inwerk, daarna ’n warm stort, skeer en tande skrop. Ek pluk gemaklike klere aan vir die rit Kaap toe. Met ’n pet op die kop, begin ek die eerste bokse met die trappe afdra na die kar in die oprit. ’n Nuwe BMW 118i-sportmodel wat ek uit my trustrekening gekoop het. Entry level, maar hy doen dit vir my. Twee tasse volg. Dan ’n klomp losgoed, en natuurlik my laptoprugsak. Alles pas lekker agter in die kar en op die agtersitplek. As nagedagte draf ek weer terug kamer toe en haal die Conrad Botes-skildery van die muur af. Dit sal goed lyk in my nuwe plek. Op pad uit, val my oog op die foto van John op die tafeltjie in die ingangsportaal. Ek sit die skildery neer en grawe my selfoon uit my broeksak, neem ’n foto daarvan. Om die derde dood te besweer. “Cheers, Greg,” hoor ek ’n stem van bo die trappe af. Helder en duidelik. John se stem. Ek ruk my kop op, maar daar is niemand nie. Terwyl ek nog wonder of ek my verbeel het, kom my ma uit die studeerkamer. Vanoggend is sy stylvol aangetrek, mooi skoene, grimering perfek. Die raakvatter-vrou, nie die vrou wat die stiltes met ’n gil verdryf nie. Só steek ons seker almal iets van onsself weg. Ma kyk na die foto op my selfoon. “Alles wat nou voor jou lê, Greg, was nie vir jou broer beskore nie,” merk sy nadenkend op. “Elke nuwe lewensfase is iets wat net jy sal beleef.” Soos gisteraand stuit my ma se woorde my. “Ek sal die swottings vir ons albei doen, Ma.” “Ek praat nie net van universiteit nie, Greg.” My ma se oë rus swaar op my, asof die gewigtigheid van die oomblik haar tot stilstand dwing. “Jy gaan die ver paaie loop waarby jou broer nie kon uitkom nie. Hoe bitter gelukkig vir jou. Hoe bitter jammer vir hom.” Binne my wel die hartseer onverwags op. Waar is daardie bulletproof baadjie wanneer jy hom nodig het? Ek kyk weg, want dis steeds moeilik om my emosies voor mense te wys. “Die pad is lank, Ma. Ek moet waai.” “Het jy alles?” vra sy toe sy saam met my buitentoe stap. Ek beduie na die oorvol kar. “Hoop so.” ’n Ruk lank bly my ma stil. “Onthou, die dinge wat jy inpak, is die dinge wat jy saam met jou moet dra,” sê sy uiteindelik. Ek knik. Staan dan vinnig nader en soen my ma, gee haar ook ’n drukkie. “Kyk mooi na Ma-self, en as Ma vir Pa gaan sien …” Ek maak nie die sin klaar nie. “Anyway, ek sal ’n boodskap stuur as ek daar is.” “Jy jaag nie.” “Ek is mos ’n jaagduiwel,” terg ek en spring in die kar. Maak die deur toe. Kry lekker musiek vir die pad op my selfoon en bluetooth dit na die klanksisteem. Bluetooth – die tegnologie wat, van alle dinge, na ’n Viking- koning vernoem is. Harald Blåtand se gladde bek het glo die mense van Denemarke en Noorweë verenig, nes die Bluetooth-tegnologie data van verskillende toestelle soomloos kan verenig en met mekaar laat kommunikeer. Selfs die Bluetooth-simbool is ’n samestelling van die Viking-runes H en B: Ná my ondervinding met die hacking stuff steek sulke useless tegnologiese inligting deesdae in my kop vas as ek op die internet daarop afkom. Ek waai ’n laaste keer vir my ma en brand haar beeld in die truspieëltjie in my geheue vas terwyl die sekuriteitshek stadig oopskuif. Onder die bande kraak ’n paar los klippies toe ek die kar in eerste sit en in die teerpad voor die huis wegdraai. Dis ’n hoofstuk van my lewe wat ek afsluit. Op ’n manier maak dit my weer hartseer, daarom draai ek die musiek harder en los ’n kreet wat by die oop ruit uitgalm, soos John toe hy die rekswaai in Durban gedoen het. Hoekom doen jý dit, Greg? Hoekom gaan jy weg van die huis af? Vir die val. Vir die vrees. Toe ek die kar in die rigting van die snelweg draai, laat ek die ruit opgly, stel die aircon en skuif gemaklik in die sitplek. Stellenbosch, hier kom ek! Die langpad is gemaak om jou kop skoon te kry. Dit besef ek soos die dorpe en stede langs die N1 verbyvlieg. Soweto. Potch. Kroonstad. Bloemies, waar ek stop om iets te eet en te drink. Dan verder, verby Edenburg, Trompsburg, Springfontein, die Gariepdam. My lyf raak seer van die sit. Soos ek die klein Karoo-dorpie Hanover nader, halfpad tussen Johannesburg en Kaapstad, haal die spoke van die verlede my in. Ek beleef weer die verpletterende oomblik toe ek uitvind van Eckardt Wilken se verraad. Hoe hy tydens ons matriekjaar by Lawson Kollege voorgegee het hy is my vriend, maar dat dit alles net skyn was. Hoe hy as uitgeslepe hacker eintlik ’n massiewe social engineering-aanval op ons gesin geloods het. Sy motief? Om wraak te neem vir sy pa, ’n regter, se dood ná ’n korrupte gemors oor binnehandel met aandele. Die regter het daarna “verdwyn”. Hy is vermoedelik vermoor. Dit was doktor Alec Pienaar, Lawson se skoolhoof, se werk – as ek my pa kan glo. Maar my pa was wel betrokke by die binnehandel en die omkooptransaksie van die regter wat tot sy moontlike dood gelei het. Eckardt, die duiwel self, het my geleer om rekenaars te hack en my toe vir sy wraakaanval gebruik. Nie net het ek sodoende doktor Pienaar se volgende skandaal, Project Nursery Rhyme, oopgevlek nie, ek het ook onwetend my eie pa se medepligtigheid by die terreur ontbloot waarby talle mense gesterf het nadat hulle viraal gemanipuleerde griepinspuitings gekry het. Die dag toe die geraamtes uit die kas val, was beslissend vir ons gesin. Met geld wat veilig in trustfondse weggebêre is, het dit ons nie finansieel so erg geknou nie. Maar dit het ons gesin verpletter. Ek sien dit nou nog voor my geestesoog. Hoe ons die aand terug by die huis kom nadat ons uit Clarens weggery het. My pa wat alleen in sy studeerkamer gaan sit en oproepe na sy prokureur en ander mense maak. Ek en Ma wat deur die huis dwaal. Bang om met mekaar te praat oor wat presies gebeur het omdat ons dit self nog nie emosioneel kan verreken nie. Vrees vir wat onafwendbaar aan die kom is: die vernedering van hofsake, tronksake. Nog ’n herinnering: Ek en Ma ry terug Lawson toe om al my goed in die koshuis te gaan oppak. ’n Senuweeagtige Joan Gibbs, die skoolsekretaresse, het ons in die parkeerarea ingewag. “Die skoolhoof wil jou sien, Greg. Mevrou is ook baie welkom.” “Ons is eintlik ’n bietjie haastig. Ons moet nog vandag terugry.” “Dit sal net ’n oomblik wees.” Ons het haar na die hoofgebou gevolg. Die kil atmosfeer het my nek laat kriewel. “The Owens have arrived, sir,” het Joan by Dok se ou kantoordeur aangekondig. “Show them in, thank you, Joan.” Sy het die deur oopgehou. Geknik. Die man agter die groot houtlessenaar het in sy stoel omgedraai toe ons instap. Thomas Jean Lawson, die stigter van Lawson Kollege. Weer het my nek gekriewel. Die man het met ysblou oë na ons gestaar. Dun lippe. Sy vel so styf getrek soos ’n rugbybal. Facelift? En haarinplantings, definitief. Silwergrys. Amper soos ’n Godfather. Terug in die hoof se stoel om die leisels te vat wat Dok Pienaar laat val het. Skadebeheer toe te pas. Hy het gegroet terwyl ek hom probeer opsom. Ek het hom nog net enkele kere by ’n prysuitdelingsfunksie gesien. Dalk ’n keer of twee met hom gepraat. Sy hand geskud die dag toe ek hoofseun word. “Discipline is key at this school,” het hy gesê, sy saamgeperste vingers voor sy mond gepunt. “When rules are broken, one is forced to take action. Rigorous action. Mrs Owen, Greg, I’m sorry that you and your family were caught up by the unfortunate set of circumstances. I hope you harbour no ill feelings toward me or the school. Chris Owen is a formidable man who made a bad – a very bad – call of judgement. One tries to protect your friends and allies. But …” Hy het die woord ’n oomblik in die lug laat hang. “… protection can only go so far.” My ma het inmekaargekrimp langs my. “Mrs Owen? Is everything all right?” Sy het geknik. “We need to be on our way, Mr Lawson.” “I understand.” Hy het uit sy leerstoel gerys. Godfather, het ek weer gedink. “Despite all this tumult, I hope we could still have some sort of affiliation, albeit outside of the school context. Future business ventures, perhaps? I have some ideas you might be interested in.” Ma het afsydig knik. “I’ll call you. Or come by the house one day,” het Lawson gesê. “No need,” het ek gekap. Sy hand het op my skouer geland. Ek wou dit afskud, maar sy greep het verstewig. “A final business lesson before you leave, Greg. Never burn a bridge to find your way in the dark. Yes, bridges burn … but so do people and their dreams.” Ek moes geweet het dit sou nie maklik wees nie. Ek het my arm om my ma gesit toe ons uitstap. Op die skoolgrond en in Huis Da Vinci, my ou koshuis, se gange het die ouens ons staan en dophou. Party het skelm foto’s geneem, ander het grappies gemaak. “How the mighty have fallen,” het een gesê. “Ver pad onnertoe vir die trust fund baby,” het ’n ander gespot. “Loser.” Ek het hulle probeer ignoreer. Toe verskyn TJ voor my. Die nuwe skoolhoof se kleinkind, en die ou wat my verraai het en vir die polisie gaan vertel het ek is ’n hacker. Daardie oggend, in die koshuisgang, het TJ my stip aangekyk. Sy ken effens gelig. Trots, asof hy wou sê: Jy het gekry wat jy verdien, Greg Owen. Ek het gedink ons was vriende, maar jy leer jou vriende ken wanneer die moeilikheid soos die duiwel op jou neerdaal. In my ou koshuiskamer het ek en my ma my goed in ’n tas gepak. Die sport- en skoolklere wat ek nooit weer sou nodig kry nie. My oog het op die skoolleuse geval toe ek my baadjie opvou. Lux hominum vita se gat, het ek wrang gedink. Ek het die blinddoek en flitslig wat ek as Trapper in graad agt tydens die Tonnel-ontgroeningsritueel gekry het, in my bedkassie se laai gesit. Die laai toegestoot. Kwanele, wat in my plek hoofseun was, het my in die kamer kom groet. Sy skouers fier soos ’n ou wat nog ver in die lewe sou kom. “Sorry it had to all turn out like this, Greg,” het hy gesê en my hand geskud. Lawson Kollege se geheime handdruk, het ek verbaas opgemerk, asof ek nog een van hulle was. Vir ’n oomblik het ek dit oorweeg om die blinddoek en flits weer uit die laai te haal, maar daarteen besluit. Wat verby is, is verby. Ek het my tas uitgedra en kon die oë by die koshuisvensters op my voel brand. Binne my het die verlatenheid kom lê. ’n Tipe hartseer. Melankolie. Daardie Vrydagmiddag het ek in die kar geklim en ’n laaste keer na my ou koshuis opgekyk. Verlangend na alles wat kon gewees het. Op pad uit die skoolgronde het my oog iemand in die kantspieëltjie gevang. Plank het agter ons kar aangehardloop gekom. My ou pel met die konstante stoutseunglimlag. ’n Sterk rugbyvoorryspeler en verbasende slimkop. “Stop, Ma, stop!” Ek het uit die kar gespring terwyl dit nog aan die beweeg was. “Hei, jou lekker hacker!” het Plank geroep. Hy het my om die skouers gegryp. “Dêmmit, dude, ek dog ek sien jou nooit weer nie.” Ek het geglimlag. “Jy was nie in die koshuis nie. Ek het jou gesoek.” Sy bosgroen oë met die goue spikkels het effens in hul kasse geswem. Hy het sy vingers deur sy kort hare getrek. “Ek het iets agter die stalle gaan rook.” “Jissie, Plank. Ek dog jy het dit al gelos.” “Never. Hei, wil jy bietjie weed hê?” “Nee, nee, nee,” het ek gekeer. “Ek is totally oukei.” “Seker?” Ek het geglimlag. “Dis goed om jou te sien, Plank. Leer jy al vir die matriekeksamen?” Hy het sy gesig getrek. “Tja, daai tjol. Hoe gaan jy skryf?” “My ma het iets gereël. Ek het ’n paar tutors vir die res van die jaar, dan skryf ek saam met die home schooling-ouens.” “Aa, dis bad, nè?” Ek het my skouers opgehaal asof dit nie ’n big deal was nie. Maar dit was, ek sou graag my matriek by Lawson Kollege wou skryf en vir oulaas ’n draai in die gedenkmuseum wou maak, maar hulle het alles van ons gesin uit die museum verwyder. Ook John se foto’s, sy skoolbaadjie, die getekende rugbybal. “Gibbons! Mark Gibbons!” het ’n stem van die koshuise se kant af geroep. Meneer Pete Andersen. Dit was asof Plank eers nie geregistreer het dat die onderhoof na hom roep nie. “Plank, Andersen soek jou,” het ek hom aangepor. “Ag, flippit tog, wat nou weer?” het Plank gekreun. “Hy’s die heeltyd op my case, soos ’n vlieg op ’n donut turd.” Ek het gelag, al kon ek nie die twee beelde by mekaar uitbring nie. “Ons moet kuier, ou. Einde van die jaar.” Plank het my weer om my skouers gegryp. “O ja, ek gaan volgende jaar swot. Kan jy dit glo? Maties, dude! Hulle het glo die mooiste meisies.” “Die arme meisies,” het ek opgemerk. “Nee, man, ek is mos ’n lekker ou,” het hy gespot en oor die gras weggedraf, sy skoolbaadjie wat agter hom opwaai, sy geel das oor sy skouer. En nou, net bietjie meer as ’n jaar later, gaan ek ook Maties toe. Plank kan nie wag dat ek opdaag nie. Hy is vanjaar tweedejaar; ek eerstejaar, maar vir ’n ou soos Plank sal dit nie saak maak nie. Verby Hanover na Beaufort-Wes strek die pad byna eindeloos deur die landskap. Plank het al drie selfoonboodskappe gestuur, maar ek sien hom eers môre. Vanaand gaan ek slaapplek in Beaufort-Wes soek. Nege en ’n half ure op die pad is nie grappies as jy sleg geslaap het nie. Ek knak nog ’n blikkie Coke oop en sluk dit gulsig. Terwyl ek ry, doem nog ’n beeld uit die verlede voor my op: my pa in die beskuldigdebank van die Hooggeregshof in Pretoria. Netjies in ’n pak klere en ’n das. Omring deur sy regspan. Dok Pienaar is ook daar, met sy span prokureurs. Verbete veg hulle teen die hoofaanklagte van moord en terrorisme. Dan, in ’n oomblik toe my aandag van die sirkus af wegdwaal, vang my oog iemand in die publieke galery. Swart skouerlengte hare. Donkerraambril. Streng mond. ’n Joernalis? Daar is baie van hulle in die hof, maar hulle sit en tweet die verrigtinge aan ’n honger Twitter-gehoor. Die vrou in swart pas op ’n manier nie in die prentjie nie. Net die een dag sien ek haar daar sit en nooit weer nie, maar sy bly my by. Vandag steeds. Ek dink nog aan haar toe ek later Beaufort-Wes binnery. By ’n gastehuis in die dorp boek ek in en gaan soek dan iets om te eet. Die dorp wemel van die vragmotors wat op pad Kaap toe is, of terug Noorde toe. Prostitute hang rond by die truck stops om die drywers gelukkig te hou en dalk ’n paar bucks te verdien. Van hulle is kinders. Tien jaar oud, skat ek die jongste een wat saam met ’n ouer man rondloop. Die donker web van armoede. OceanofPDF.com Welkom in Matieland E k ken jou van iewers,” sê ’n vrou die volgende oggend aan die ontbyttafel. Een van die B&B se gaste. ’n Tannie met ’n pruilbekkie en nuuskierige oë. “Jy was mos in Huisgenoot en in die koerante?” Sy sit haar messegoed neer. Fronsend takseer sy my. Ek skuif die flentergat lapblommetjie op die tafel voor my weg en vat haastig ’n paar happe ontbyt. Jogurt en muesli. Sluk dit af met vrugtesap. Uit die kombuis dryf die tergende geur van bacon en eiers. Crappy Afrikaanse musiek speel oor ’n luidspreker in die plafon. Gelukkig is dit sag. Sulke bokkie-sokkie-tjol gee my slegte spysvertering. “Dis jóú pa wat daardie mense doodgemaak het,” karring die vrou by die ander tafel verder. “Butcher, Baker, watsegoed. Ook maar goed hulle het hom gevang. Vandag kom mense mos weg met sulke dinge. Veral as hulle geld het.” Ek byt op my tande. Hou net jou bek, Greg. “Koop hulleself uit alles terwyl onskuldige mense dood is. Dóód.” Steeds haal sy haar bemoeisieke oë nie van my af nie. “Ja, dit ís jy.” “Tannie ken my nie,” sê ek meteens hard en staan op. Die stoel skuif weg oor die houtvloer. Kantel om. Die geluid dreun deur die eetkamer. Ek tel die stoel op. Stamp dit harder as nodig terug op sy pote. “Maar die koerant—” “Die koerant se gat.” Haar oë rek, maar ek gee nie om nie. Ek stap na die deur. “Dis nie nodig om ongeskik te wees nie. Ek vra jou maar net ’n vraag.” “Moenie!” Haar blik volg my. Ek is uit by die deur, en af in die gang. “Gaan jy daardie ander ou ook vastrek? Die Baker?” roep sy agter my aan. Ek antwoord nie. My bloed kook. Dit voel of iemand anders nou vir my dink. In die kamer skraap ek my goed bymekaar, bondel dit in die toksak. Ek is byna by die deur uit toe ek my selfoon se kragdraad onthou. Vinnig draai ek terug, pluk dit uit die muur en stop dit sommer in ’n kantsakkie. Dan gaan handig ek die sleutel by die toonbank in en laat spat. Daar lê nog so vier na vyf ure se ry voor. Dit hang net af hoe befoeterd ek is. Die musiek pomp in die kar. Verby Leeu-Gamka, Laingsburg, Matjiesfontein. Ure later vou die Hexrivierberge om my. Fynbos net waar jy kyk. In die winter lê die sneeu wit hier op die Buffelshoek- en Milnerpieke. Uiteindelik verskyn die bordjie na Stellenbosch langs die pad. Dis waar ek afdraai op die Adam Tas-pad. Nog berge in die verte: Stellenbosch-berg, Papegaaiberg, Jonkershoek, Groot-Drakenstein – ek kom maar net nie weg van die drake nie. Dis seker die een ding wat standvastig is in my lewe: berge. Hulle bly net waar hulle is. Verander skaars. Lê en kyk en wag. Sien alles raak. Jou woede, jou hartseer, jou verlange. En hopelik in Stellenbosch, jou vrede. Dis wat ek nodig het. Ek maak die venster oop, sit die aircon af en stuur die kar verby wynlandgoedere, asem die vars lug in. Voor my lê die Eikestad, my nuwe blyplek vir ten minste die volgende drie jaar. Die paaie is besig. Baie mense op straat. By Birdstraat draai ek af en kies koers verby Die Braak na Van Riebeeckstraat, waar talle ouer huise gerestoureer en in gastehuise omskep is. Die ou eikebome se takke hang oor die pad, ’n tydelike verligting teen die hitte. Langs die pad blink ’n rustige stroom water in die klip-leivoor. Met Van Riebeeckstraat ry ek op na die studio apartment wat ek op die internet gevind het. Nog gastehuise en studentewoonstelle flits verby. Dan sien ek dit: netjies, wit mure, prime property, onlangs gerestoureer, parkering aan die agterkant. Dis waar ek stilhou. Ek grawe in die paneelkissie vir die sleutel wat die eiendomsagent vir my gekoerier het, haak dit aan my karsleutel. Dis dodelik warm toe ek uit die kar klim. Ek maak sommer dadelik ’n plan om my swembroek te soek en later ’n duik te gaan vang in die kompleks se swembad. Drie meisies kom verbygestap toe ek my laptopsak oor my skouer slinger en ’n boks uit die kattebak haal. Hulle lag in my rigting, een van hulle draai later om en kyk na my. “Is jy ook eerstejaar?” vra die een met die donkerbruin hare wat in ’n wolkerige bondel agter haar kop vasgemaak is. Los T-hemp en skinny jeans. “Jip.” “Watter nommer?” “Watter nommer wat?” “Waar trek jy in, ou? Jissie.” “Nommer sewe.” “Cool. Ek is by vyf. Chloe. Chloe Adams. En die’s my vriendinne. Kiana en Lizmari.” Ek knik. “En jy? Het jy ’n naam, of dink jou ma-hulle nog vir jou een uit?” “Greg.” “Greg wie?” “Greg Maak-nie-saak-nie.” “Is jy altyd so weird, hè?” vra Chloe. Sy frommel haar neus en haal haar sonbril af. Ek antwoord nie. Kiana en Lizmari lag. “Jy pla die ou. Kan jy nie sien nie?” vra Kiana. “Ek is maar net ’n goeie buurvrou,” sê Chloe. Sy trek haar gesig onskuldig. “Shame. Hy kom dalk van die plaas af.” “Ek kom nie van ’n plaas af nie,” kap ek terug. “Hoor jy, Chloe? Hy kom nie van die plaas af nie, los hom nou,” sê Lizmari en trek Chloe aan haar arm weg. “Het jy ’n meisie, Greg Maak-nie-saak-nie?” vra Chloe ongesteurd. “Nee.” “Oukei, dan sal ek jou meisie wees,” roep sy van die kompleks se hek af. Haar vriendinne lag en stoot haar sypaadjie toe. “Kom drink koffie.” “Nee, dankie.” “Ag, wassit met jou? Kom net.” “Nee.” Ek draai om en loop die gebou binne. Groet die ou by sekuriteit. “New tenant,” sê ek en wys die sleutel. “Upstairs,” antwoord hy met min tot geen belangstelling. Op met die trappe na die tweede vloer. Daar sit ek my goed eers neer voordat ek my nuwe woonstel se deur oopsluit. Nommer sewe. “My nuwe happy place, uiteindelik,” sê ek vir myself toe die deur oopswaai. Die skerp verfreuk brand in my neus. Dadelik gaan maak ek die skuifdeur na die balkon oop voordat ek die goed wat nog buite in die gang staan, inbring. Dan stap ek deur die plek. Dis groter as wat dit op die foto gelyk het. Ten volle gemeubileer. Donker kombuiskaste, marmerblad. Smeg-kombuistoerusting. Die dubbelbed is nuut. Ek het my eie beddegoed daarvoor gebring. ’n Lessenaar, ook van donker hout. Gemaklike stoel. Platskerm-TV. Ek maak seker dit kan met die internet koppel vir Netflix. Ek weet nie wie deesdae nog op ander maniere TV kyk nie. Die badkamer is eenvoudig, maar stylvol: bad, stort, hout-rolblindings voor die venster. Terug in die kamer sien ek ’n nota met die Wi-Fi-kode. Ek sal dit seker nie gebruik nie. Dis nie veilig nie, ek het my eie data. ’n Harde klop aan die deur laat my omvlieg. Chloe? Nee. “Is dit Hackers for Hire?” vra Plank ewe hard. “Shut up, ou!” maak ek hom vinnig stil. “Kom in.” Met ’n swag stap Plank nader. Dis goed om die ou weer te sien. Hy het plakkies aan, ’n kortbroek en ’n gekreukelde T-hemp waarop staan Gee my ’n bier en niemand kry seer nie. Sy hare is langer as op skool. Twee dae oue baard. ’n Moerse glimlag. Sy Lawson-handdruk vang my onkant, nes Kwanele s’n destyds. “Lekker vryplek wat jy hier het,” sê hy en fluit deur sy tande terwyl hy rondkyk. “Ek is hier om te swot, Plank.” Hy trek sy gesig. “Swottings is ’n bysaak, ou. Ek is hier vir die girls. O nee, wag, wag … moet net nie vir my sê jy is nog deurmekaar met daardie Nicole-meisiekind nie?” Dis nou ’n naam wat ek lanklaas gehoor het. “Nee, dis uit. Toe haar pa- hulle hoor wat ek met die hacking aangevang het, het hulle my verbied om haar te sien. Maar dinge was in elk geval nie lekker tussen ons nie. Dit was eintlik net ’n skool-crush.” Plank val op die bank neer. Hop so ’n bietjie om dit uit te toets. “Ek hoop nie sy het jou hart gebreek nie.” “Ag, jy weet.” “Tussen jou en my, Greg – sy was ’n user. En het sy nie nog met Eckardt geflirt nie? Ek het soos in minder as niks van haar gehou nie. Sorry.” “Dis oukei.” Ek haal my skouers op en trek die lessenaarstoel nader. Dan eers sien ek die bloedmerk op Plank se lip. “En dit?” vra ek. “Girls. Ek sê jou mos. Ek het gisteraand ’n honderd persent crazy een in De Lapa raakgedrink. Sy het vir my ’n robot shooter gekoop en my freakin’ lip oopgebyt toe ek haar soen.” Hy rol sy oë van lekkerkry. “Gepraat van drink, wat drink ons?” “Ek pak nog uit.” “Wag, ek help jou, dan vat ek jou vir ’n bier en ’n pizza. Welkom in Matieland, bru!” OceanofPDF.com Die loser wat sy pa weggegee het S o begin die studentelewe. Ek en Plank gaan kry ons voorgeskrewe boeke by Van Schaik Boekhandel in die Neelsie – ’n woelige studentesentrum in die hartjie van die kampus met enigiets van banke tot eetplekke, en die duiwel weet wat alles. Ek is outomaties lid van ’n groter kluster en ’n kleiner PSO – Privaatstudente-organisasie vir studente wat nie in koshuise bly nie. Saam met hulle woon ek einde Januarie, begin Februarie die O-week vir eerstejaars by. Daar is ’n hele boring oriënteringsprogram. Elke nuwe student het ook ’n mentor om te help met die aanpassing op die kampus en by die studentelewe. Myne is so ’n totale poepsak wat nie eens ’n mention nodig het nie. Ons kry akademiese inligting en toere deur die biblioteek, kampus en dorp. Sit deur die soveelste toespraak tydens die amptelike opening op die Danie Craven-stadion. Ek ontvang my studentekaart. Die foto lyk verskriklik. Die Donderdag voor die oriëntering eindig, is daar vroegoggend al ’n klop aan my deur. “Greg Maak-nie-saak-nie, is jy al wakker?” Ag, vrekkit. Dis Chloe. “Nee!” roep ek en druk die kussing oor my kop. Dit help nie, ek hoor haar steeds. “Nice try, nè? Maak oop die deur. Ek gaan nie in die gang staan en skree soos ’n waentjiestoter nie.” ’n Boemelaar, noem ons dit in die res van die land, maar die Kaapse boemelaars is grênder, daarom is hulle “bosslapers” of “waentjiestoters”. Ek seil uit die bed. Maak oop. “Chloe, wassit met jou?” Kiana en Lizmari is ook by haar. “Oe, kyk net die man se lyf, meisies,” sug Chloe. Sy waai haarself spottend koud met haar vingers. Ek vou my arms voor my bors. “Wat soek jy?” Chloe glimlag. “Jy moet kom, boyfriend. Ons gaan vir Vensters oefen. Het jy nie die boodskap gekry nie?” “Ek is nie jou boyfriend nie, en ek weet nie hoe oefen mens vir ’n venster nie. Stel ook nie belang nie. Cheers.” Ek druk die deur toe, maar Chloe stoot dit weer oop. “Jy moet vir jou wil eenkant hou, boyfriend. As jy nie kom nie, whatsapp ek my ander boyfriends om jou te kom haal. Ek het baie van hulle. Party is nogal mean. En ek bedoel nie gym-bunny-mean nie.” Sy druk met haar vinger teen my bors. “Ek bedoel gangster-mean. Ouens met messe en tronktattoos.” “Sê hom, Chloe.” Kiana lag. “Ek het nou net!” Ons kom laat vir die eerste oefening. Die ouer studente van die HK – huiskomitee – wat dit reël, is nie beïndruk nie. Dit het al agtuur begin. Chloe ken omtrent almal. En almal ken haar. Dis waar, dit lyk of sy oral boyfriends het. En girlfriends. To each his own. Sy wil-wil ook sommer oorneem by die HK met die Vensters-ding. Straatteater, vind ek daar uit. Koshuise en PSO’s span saam vir die groot okkasie Vrydagaand. Elke groep eerstejaars is verantwoordelik vir ’n kort opvoering van musiek, dans en drama. ’n Mengsel van vermaak en sosiale bewusmaking oor die een of ander kwessie. Dan oefen hulle dit dag en nag. Hou partytjie, leer mekaar ken. En nou is ek in die dekselse ding. Plank wil hom slap lag. “Kry vir jou, laas jaar het ek dit gedoen,” sê hy toe ek hom benoud tydens die eetbreuk bel. Ek byt op my tande. Jy’s nou hier, Greg, jy kan dit net sowel geniet. Maar hoe ek myself ook al probeer motiveer, dit voel of ek aanbeweeg het van ligsinnighede. Simpel liedjies sing. Strikkie om die nek. Een, twee, drie, hop. Een, twee, drie, draai. Tog doen ek dit. Twee dae lank oefen ek saam met die groep. Ek verf selfs saam met Chloe en ’n klomp HK-lede aan die reuseagtergrond vir die opvoering. Só vind ek uit dat sy ’n kunsstudent is. Sy swot BA Skone Kunste. Blykbaar nogal goed ook. Chloe dartel tussen almal rond. Deel idees, gee raad. “Mens spel nie ‘community’ so nie. Hemel, hoe het jy op universiteit beland? Iemand gebribe met ’n boksie vetkryt?” kap sy ’n meisie. “Verf daai toe en try weer. Twee m’ e, een n.” Ek help om die doek teen die straatverhoog se raamwerk op te hys. Van die HK-ouens doen die beligting, toets die klank. Wonder bo wonder begin ek dit later geniet. Asof iets binne my weer wil lewe kry. Weg is die onthougoed van my pa en ma en broer. Die donker dae. Plank en ’n paar van sy Wilgenhof-koshuisbuddies kom maak Vrydagmiddag ’n draai. Dalk meer om die eerstejaarmeisies te beloer. Hy gryp my hand. Gee weer die Lawson-handdruk wat verander in ’n skouerdruk. “Ken jy daai vrou?” vra hy toe hy wegstaan, sy pet lig en sy hande deur sy deurmekaar hare trek. Hy beduie met sy kop na iemand wat ’n ent weg staan. Sy het ’n streng gesig. Haar hare is opgebind en onder ’n hoed ingedruk. Oë verskuil agter ’n sonbril. Toe sy sien ek draai na haar, knik sy haar kop. ’n Klein glimlaggie trek om haar skelrooi lippe. “Sy vra vrae oor jou,” sê Plank. “Watse vrae?” “Of ek jou ken.” “Is dit al?” “Sy wil weet waar jy bly.” “Ek hoop nie jy het haar gesê nie. Dis seker weer ’n flippen joernalis. Of iemand wat ’n boek wil skryf.” Ek kyk weer, maar skielik is sy weg. Die gedagte aan haar bly my by toe ek die middag woonstel toe stap om reg te maak vir die aand se opvoering. Iets aan die vrou was bekend. Waar het ek haar vantevore gesien? Dit sal aan my bly knaag totdat ek die antwoord kry. Vrydagaand bewe Stellenbosch van die energie. Liggies hang aan bome. Daar is driehoekige vlaggies op die sypaadjies gespan. Sommige strate is afgesper, want die organiseerders verwag vyf-en-twintigduisend mense by vanjaar se Vensters. Ek het nie besef die storie is so groot nie. In Victoriastraat is ’n straatfees met stalletjies. Elders dans studente langarm op die klein sirkels by padkruisings. ’n Ou met ’n weird broek en ’n trekklavier stap by my verby; sy musiek volg hom vrolik tot waar hy stop om vir mense ’n liedjie te speel. Ek kry vir Plank by sy koshuis. Ons eet en drink en lag. Hy stel my aan ’n paar van sy pelle voor. Ek kan nie hulle name onthou nie. Dis ook nie regtig belangrik nie. Iewers in die harwar van mense loop ons vir Chloe-hulle raak. Sy is op haar stukke met ’n groot rooi afro-pruik op haar kop. Toe ek weer sien, soen sy een van die meisies. Ek lag en wys vir Plank. Sy mond val oop en ek moet net keer of hy neem ’n foto. In die loop van die aand verloor ek vir Plank tussen die mense. Ek probeer hom bel, maar hy antwoord nie sy selfoon nie. In ’n onbewaakte oomblik wonder ek wat John van hierdie straatpartytjie sou dink. Die gedagte stuur ’n glimlag na my mondhoeke. Ek sou mal wees daaroor, hoor ek ’n verbeelde stem sê. “Ek weet jy sou, bru. Ek weet jy sou.” Ek lig ’n glasie op hom. “Cheers, John. Mis jou, nè?” Meteens kry ek ’n knop in my keel. Verdiep in my gedagtes stap ek verby Metademia se straatverhoog. Ligte tol oor die mense, oor die eerstejaars wat hul beste passies uithaal. Musiek stamp in my bors, maar dis asof elke tree wat ek na ons groep se verhoog gee, my verder wegvat van die feestelikheid. Uiteindelik staan ek tussen die mense wat wag dat ons optrede moet begin. Van die HK-lede en eerstejaars maal al agter die verhoog rond. Ek moet ook daar wees, maar iets hou my terug. Ná al die geoefen en moeite kan ek myself nie so ver kry om by hulle aan te sluit nie. Grootoog staan ek daar en wonder wat met my aangaan. Wat is dit, Greg? Om my gaan dit mal. Die energie vibreer hoër. Mens klap hande. Fluit. Die musiek pols. Ligte gloei oor die verhoog. Ek besef ek moet op die verhoog kom. Maar ek kan nie. Ek kan nie deel van die groep wees nie. Ek kan nie gaan sing en dans en laf wees nie. Dis nie meer wie ek is nie. En as ek myself die afgelope twee dae probeer wysmaak het dat ek my aan sulke kinderagtige goed kan oorgee, het ek vir myself gelieg. Die gedagte skok deur my. Ek staan net daar. Bewegingloos in die massa, totdat iemand aan my stamp en sy bier oor my hemp uitstort. “Kyk wat jy doen, ou!” kap ek na hom. Die eerstejaar het ’n geel helm met vlaggies op sy kop en dra ’n groen tutu oor sy jeans. Dit lyk of hy nie eens registreer nie. Sy oë bly egter vas op my. ’n Frons verskyn op sy voorkop asof ’n benewelde gedagte aanmeld. “Jy … jy is daardie ou. Jy’t jou pa in die tronk gesit.” “Ag, jy’s gesuip, man,” antwoord ek vinnig en probeer my hemp droogwring. Hy frons. “Nee, is true,” hou die ou vol. “Ek sal jou enige plek herken. My ex het ’n crush op jou gehad – al daardie foto’s in Huisgenoot en op die internet.” Ek onderdruk ’n vloek. “Jy’t totally die verkeerde ou beet.” Hy lag. Skud sy kop. “Watse flippen loser gee sy pa weg?” Skielik is dit asof ’n woede in my opborrel. Voor ek besef wat ek doen, stamp ek hom van my af weg. Dalk te hard. Hy land op die grond voor ’n meisie se voete, maar hy is skynbaar te dronk om om te gee. Glimlag net tartend. “So, my bru, gaan jy die koekieman ook vang?” Hy bedoel die Baker, weet ek dadelik, maar ek wys dit nie. “Wat het jy gerook, koekieman?” vra die meisie. Sy trek die ou op. Hy sukkel lomp op sy voete. Gelukkig skuif sy aandag van my na haar toe. Van die ander mense staan ook skielik verder van my af weg. Want ek is die Candlestick-maker se seun. Die loser wat sy pa verraai het. Ek is Greg Owen. En ek is alleen tussen al hierdie mense. Ek het verander in daardie outsider wat my destyds die onderwêreld in getrek het. OceanofPDF.com Die man met Google in sy kop M y klasse begin die Maandag ná die O-week. Die meeste van hulle is in die Sportwetenskapgebou aan die voet van die Stellenbosch-berg. Party van die lang gange herinner ’n bietjie aan ’n hospitaal. Buiten lesinglokale, is daar ’n sportfisiologie-laboratorium, biokinetikasentrum, bewegingslaboratorium, anatomie-laboratorium, twee swembaddens en meer in die gebou. Sport can create hope where once there was only despair, lees ’n aanhaling van Nelson Mandela teen een van die mure by die studentesitkamer – ’n plek wat my herinner aan Huis Da Vinci se Hangout. Hier kan jy koffie drink of iets eet, rekenaars gebruik of fotostate maak. Sportwetenskap is nou nie juis wat my pa vir my as studierigting sou kies nie. Dok Pienaar seker ook nie. In sy Lawson-openingstoespraak het hy mos elke jaar die kollege-stigter se droom aan ons voorgehou. “Thomas Lawson het ’n droom gehad: om ’n teelaarde te skep waarin die sakeleiers van die toekoms gekweek kan word.” Maar stuff Thomas Lawson en Dok Pienaar. My pa sou ook eerder wou hê ek moet die een of ander besigheidsrigting invaar, maar dis nie vir my nie. Hierdie is my besluit. Daar is verskillende rigtings binne Sportwetenskap waaruit jy kan kies. Ek vat die een met sielkunde. Dit sluit ook verpligte modules in, onder andere fisiologie, inligtingsvaardighede en sosiologie. Hiervoor het jy ’n toring voorgeskrewe boeke nodig. Hoe ek al daai goed in my kop gaan kry, is nog ’n raaisel, maar voor my het ander studente dit reggekry, so ek sal ook. Hoop ek. Op die studenteportaal op die internet is my toets- en eksamenrooster ook alreeds gelaai. In die eerste paar weke van klasdraf tref die kultuurskok van die studentelewe my. Nie alleen is daar massas leerwerk nie, die manier waarop die dosente toetsvrae stel, is uit ’n ander wêreld. Tussen die swottings moet ek ook sorg vir kos, vuil klere by die wassery gaan afgee en optel – dis asof die klere kleintjies kry. Wat doen ek? Trek ek regtig soveel aan? Ek moet boonop kophou en reminders op my selfoon stel om te onthou om simpel goed soos toiletpapier te koop, of te sorg dat daar krag op die voorafbetaalde elektrisiteitsmeter is. Gelukkig kom maak iemand twee keer per week my woonstel skoon. As ek dít ook nog moes doen, sou ek crack. Teen die einde van Februarie het Chloe my al seker tien keer genooi om te kom koffie drink of uit te gaan vir ’n jol. “Nee, jammer, ek leer,” is my verskoning elke keer. Sy glo my nie. Ek weet dit. Maar kyk in my oë, Chloe: lyk dit of ek worry? Ek kry haar af en toe in die woonstelgang wanneer sy met ’n nat skildery sukkel of die een of ander kunsprojek in Stellenbosch se strate probeer afsleep. Sy het ook al gevra waar ek die aand met Vensters was. Sy hoef nie te weet nie. Maar sy weet iets. Daarvan is ek seker. Iemand moes haar al van my pa vertel het. En dis ook oukei. Sportervaring is die praktiese deel van my kursus. Swem, atletiek en sokker is verpligtend, maar jy kan verder kies uit tennis of krieket, en hokkie of rugby. Rugby bly vir my lekker, al het dinge op skool nie goed geëindig met my rebellie teen die skoolhoof nie. Klasbywoning vir die prakties is verpligtend, maar dis nie ’n issue nie, want sommige van die klasse word buite aangebied. Dit beteken ek hoef nie tussen vier mure vasgekeer te sit nie. Veral in ’n klein klas soos die anatomielaboratorium met sy groen mure en donker vensters voel ek ’n drukkende benoudheid. Dis wanneer ek my aandag op die modelle van die menslike liggaam fokus: die gedetailleerde torso, voetbeendere, knie, volledige geraamtes en meer. Telkens, onder die glim van kunsmatige lig, kom Conrad Botes se The Temptation to Exist-skildery by my op en wonder ek oor die eksistensie van die mens wat om hierdie skelet verweef lê. Die wese wat moet asemhaal en droom en bestaan. Telkens dink ek aan myself, die pad wat my lewe loop en die goed wat nog voorlê. Sien ek kans daarvoor? Is daar sin in wat ek doen, in wie ek is? Een middag, terug by my woonstel, trek ek my oefenklere uit. Soos alle uniforms help die verpligte swart kortbroek en maroen-en-grys T-hemp my wegraak tussen die ander studente. Daar is ’n gesellige kameraadskap tussen die ouens, maar ek hou hulle op ’n afstand. Dis net vir Plank wat ek naby aan my toelaat. Ek mis sy geselsies en lawwighede as hy ’n ruk lank stil is. Soms bel ek my ma. Vertel haar hoe dit gaan. Hoe goed ek aanpas by die studentelewe. Verbeel ek my of is daar deesdae meer lig in haar stem? Ek stop my natgeswete oefenklere in die wasgoedsak en klim onder die stort in. Draai minute lank onder die warm water en raak ’n oomblik lank stil in my gedagtes. In die verte hoor ek die kerkklok lui. Motors buite die venster. Iewers brand iemand se roosterbrood, ruik ek toe ek in die kombuis kom en wonder wat ek vir middagete kan eet. Laatmiddag probeer ek swot, maar Plank kom crash in my woonstel en kyk YouTube-video’s van Jason Silva op my TV. Weer gerook, dis hoekom hy Jason se ramblings oor kreatiwiteit, die wonder van die lewe, kunsmatige intelligensie en wie-weet-wat kopknikkend beaam, asof hy presies weet waarvan die ou praat. “So, I think that the singularity is a meme that reflects the sort of acceleration of the human design process to the point of achieving a kind of infinite velocity where everything becomes linked with everything else, and matter becomes mind, where we impregnate the universe with intelligence, as Erik Davis has written. You know, today technologists are these ecstatic technicians of the sacred. They are figuring out how awareness works, how the self emerges. Can we create non-biological intelligence? Can we create sentients in a different sub-strength that is not bound by the limits of biology?” Ek probeer verstaan, maar ek is óf so dom soos modder, óf Jason is self op ’n eksistensiële trip. Skielik sit Plank die klank sagter. “Ek moet jou iets vertel.” “Ja?” Sy oë word geheimsinnig. “Ek het ’n meisie ontmoet.” “Jy ontmoet baie meisies.” “Ek weet, maar ek dink hierdie een is die een.” “Tot volgende week, nè? Dan is ’n ánder een ‘die een’. ” “Is jy nie eens bly vir my nie?” “Oukei, Plank, ek is. Wie is sy? Waar het jy haar raakgedrink?” Plank gooi my met ’n kussing. Ek koes. Lag. “Ernstig nou, vertel my.” “Haar naam is Lisa.” Hy gryp sy selfoon, gaan na die galery en gooi ’n foto op die skerm. ’n Mooi meisie met ’n elfiegesig, swart hare, blou oë. “Sy bly hier op Stellies. Swot BCom. En ek het haar nie raakgedrink nie. Ek het haar raakgevry …” Ek rol my oë. “Hoekom is ek nie verras nie?” “Is jy jaloers?” “Hoe kan ek wees? Ek het haar nog nie ontmoet nie.” “Jy sal nog.” Hy soen die skerm. ’n Ruk lank bly ek stil. Vleg my vingers inmekaar voordat ek weer na hom kyk. “Ek is bly vir jou, Plank. Ek wens ek kan ook iemand ontmoet.” “As jy meer uitkom, sal jy. Maar nou sit jy hier soos ’n haas in ’n gat.” Ek haal my skouers op. Dink terug aan my Vensters-ervaring en kry weer daardie verlate gevoel tussen die mense. “Ek weet dit sal eendag gebeur. Dis … dis net nie nou die regte tyd nie. Ek moet dinge vir myself uitsort. Anyway, as meisies uitvind wie ek is, sal hulle nie eens amper belangstel nie.” Plank skuif van die bed af, sit sy arm om my skouer asof hy my iets vertrouliks gaan vertel, of ’n vreeslike wysheid gaan kwytraak. “Luister nou mooi vir my, bru. Jy vertel jouself ’n storie wat nie waar is nie. Daardie fairy tale gaan jou realiteit word as jy aanhou om dit vir jouself wys te maak.” Op ’n manier maak dit sin, asof ek weet dat dit waar is. Die volgende dag, terwyl ek in die sielkundeklas sit, kom Plank se selfoonboodskap. Ek lees dit vinnig onder die lessenaar. Ek stick jou vir ’n pampoen-smoothie of een van daardie organic toorgoed by Kauai. Vrydagmiddag na klas. Lisa gaan daar wees. Vrydagmiddag dwaal ek met my laptopsak oor my skouer in die De Wet Square-sentrum in Kerkstraat rond terwyl ek vir Plank-hulle wag. Die plek is ook net só groot en jy kan ook net sóveel daar sien en doen. Maar skielik vang my oog ’n bankie van swart graniet voor die SMAC-kunsgalery. Ek stap nader. Iets aan die bankie is vreemd. Dis nie net ’n sitplek nie, dis ’n kunswerk van Willem Boshoff. Die woord TRUST is netjies daarop gegraveer. Dan eers merk ek die bars deur die U. Broken Trust, die titel van die kunswerk. ’n Onverwagse herinnering aan die ou wat ek eens vertrou het, kom by my op. Nee, dwing ek my aandag van hom af weg. Laat staan dit. Jy het vir Plank gesê jy moet jou kop hier op Stellenbosch kom skoonkry. Elke plukkie aan die spinnekopdraad van herinneringe laat die hele web bewe. ’n Wit Toyota Hilux stop in die straat voor die ander geparkeerde motors en dwing my gedagtes gelukkig terug na die hede. Plank spring saam met ’n meisie uit. Ek stap nader. Groet hom. En vir haar. Lisa is mooier as op die selfoonfoto. Haar hare is agter haar ore ingedruk. Blekerige vel met ligroos wange, oë wat innemend vonkel. Sy dra ’n vintage Nirvana-T-hemp en jeans. Die man agter die Hilux se stuur rol ’n venster af. Lisa se pa, lei ek af. “Middag, jong.” “Middag, oom.” “Is jy die Greg-ou van wie Plank gepraat het?” vra die man. “Dis reg, oom.” Hy frons. Leun sywaarts om my beter te kan sien. “Ken ek jou?” Ek blaai deur my geheue. ’n Groot ou. Grys baard, rooi in die gesig soos iemand wat drink. “Hy’s nie een van Pa se kriminele nie,” sê Lisa en lag. Kriminele? Is die man in die polisie? Steeds kyk hy my vas in die oë, asof hy my in sy kop google. “Jy’s nie oorspronklik van Stellenbosch nie, nè?” Hy spreek dit “Stellimbos” uit. Ek skud my kop. “Pa, los die arme dude. Ry net,” sê Lisa weer. “Sorry,” sê sy vinnig vir my. Ek knik. Maar dan spring haar pa uit die Hilux. Motors agter hom toet, want hy hou die laatmiddagverkeer op. Die man gee blykbaar nie ’n hel om nie. Hy stap tot reg voor my. “Als oukei, oom?” vra Plank senuweeagtig. “Nee, Plank, als is nie oukei nie.” ’n Sagte gromgeluid dreun in sy bors. “Lisa, klim terug in die kar.” Hier is groot fout. Hy haal sy oë nie vir ’n oomblik van my af nie. “Ek vergeet nooit ’n gesig nie.” Sy stem is diep. Gevaarlik. “Ek weet nou wie jy is, Greg. Jy bly weg van my meisiekind af. Het ons mekaar?” Lisa lyk benoud toe sy terug in die bakkie klim. Plank staan verslae langs my. Toe Lisa se pa weer om die bakkie stap, agter die stuur inklim en wegry, draai ek terug na die galery waar die granietbankie staan. Dis asof ek daardie ou uit die verlede vir my hoor lag. Gebroke vertroue. En nou ook ’n gebroke lewe. Ek kan sien Plank verstaan nie wat so pas gebeur het nie. Maar ek weet. OceanofPDF.com Die goed wat jy met jou saamdra E k is baie jammer, Plank,” sê ek sag. Die skuld vreet my op waar ons die Saterdagmiddag in die Neelsie sit. Op die grootskermtelevisie is daar ’n heruitsending van ’n rugbywedstryd. Hier en daar sit studente op hulle laptops en werk. Plank peusel lusteloos aan sy hamburger. “Lisa het my nog nie weer gebel nie. Sy antwoord ook nie my boodskappe nie.” “Ek het alles vir jou opgemors.” Hy sug. “Ek voel soos ’n hond. Genuine, Plank.” Ek sit my burger neer. Nou is ek ook nie eens meer honger nie. “Jy’t gesê die fairy tale wat ek myself vertel, gaan my realiteit word. Jy’t nou self gesien, dit ís al my realiteit. Lyk my ek gaan nooit van my pa ontsnap nie. Dis daai ding van die sondes van die vaders, of so iets.” Die gedagte spook al van gisteraand af by my. Toe ek by die huis kom ná die episode, kon ek nie eens die laaste klomp leerwerk in my kop kry nie. Ek weet wie jy is, Greg. Jy bly weg van my meisiekind af. Het ons mekaar? Die man se woorde het deur my kop bly maal. Voor hom was daar vanjaar daardie vrou by die gastehuis, die dronk ou by die straatfees. Dis maar net ’n paar van die mense wat reguit daarmee uitkom, wat wys hoe hulle ons gesin verafsku. Wat nog van die klomp wat my in stilte oordeel vir my pa se misdaad, of dié wat agter hul hande of op sosiale media grappe maak. Ek vat ’n sluk koeldrank, dwing my aandag terug na Plank toe. “ ‘Die goed wat jy inpak, is die goed wat jy met jou saamdra,’ sê my ma. Sy is reg. Dis die dinge waarvan jy nie kan ontsnap nie, selfs al trek jy ’n duisend kilometer weg van jou huis af.” Ek weet nie of Plank nog enigsins luister nie. Dit voel of ek met myself praat. Hy sit net daar oorkant my. Roer nie. “Ek is nie my pa nie, maar ek dra die label.” Plank kyk skielik op asof hy verstaan. “So is dit met ons almal,” sê hy. “Hoekom dink jy is ek in Wilgenhof?” “Want jou pa was daar?” vat ek ’n raaiskoot. “Jip. En nou is ek daar, want ek moet mý label gaan haal.” “Ons word klone van ons pa’s,” herhaal ek ingedagte die woorde van daardie ou uit die verlede. Flippit tog, hoekom sleep ek sy skadu so met my saam? Plank haal diep asem. “Kyk, man, hier is die truth bomb: Jy het sonder dat jy dit weet, jou pa se skelmstreke expose. Nou weet die hele blerrie wêreld dit. Maar so flippen what? Kan jy dit verander? Nee. Kan jy jou pa uit die tronk kry? Nee.” “Daar is ’n kans dat die appèl mag slaag—” “Dude, is jy gerook, hè?” keer Plank. “Dit gaan nie gebeur nie. Vergeet daarvan. Sorry, maar jou pa gaan sit. Wat kan jy daaraan doen? Jy is op Maties. Jy het jou eie lewe. Flippenwil leef dit.” Ek weet Plank is reg. Ek sal niemand anders so met my laat praat nie, maar ek weet jy kan altyd op hom vertrou om jou ’n reality check te gee, sonder bybedoelings, sonder dat hy jou wil seermaak. “Jy is ’n beter mens as ek, Plank,” sê ek skuldig. “Nee, ek is nie.” “Glo my hierdie keer. As iemand mý verhouding so spectacularly laat bom het, sou ek nie nog voor hom sit en vir hom advies gee nie. Hoe gaan ek dit ooit aan jou opmaak?” Plank kry ’n effense glimlag. Dis skaars daar, maar ’n flikkering van die ou Plank skemer deur. “Kom ons sê maar net jy skuld my een.” Sorry, maar jou pa gaan sit. Wat kan jy daaraan doen? Later, op pad na my woonstel, dink ek daaraan. Ís daar nie tog iets wat ek daaraan kan doen nie? Dalk net een ding. Die vrou in die gastehuis en die student by Vensters het dalk reeds die saadjie in my geplant. Terwyl ek koponderstebo deur Stellenbosch se strate stap, neem die besluit vorm aan: ek kan sorg dat die Baker aan die pen ry. Hy is immers net so skuldig aan die terrorisme en moord met die dodelike virus. Die polisie kon hom nog nie opspoor nie. My pa en Dok weier om sy identiteit bekend te maak. Maar as ék weet wie hy is … Ás ek kan uitvind … Dit sal soos ’n boetedoening wees, sodat my pa nie vir die res van sy lewe in die tronk bly sit terwyl ’n ou wat net so skuldig is, wegkom nie. Later, onder die stort, begin vorm die idee in my kop. Soos ’n fyn web se eerste draadjie wat gespan word. Alle spinnewebbe begin met daardie eerste silwer draad. Oënskynlik onskadelik. Ek draai die stortkrane toe. Vinnig droog ek af – nie heeltemal nie, want die effense klamheid op my vel is ’n lafenis teen die hitte. In my kamer stel ek die aircon kouer, kry ’n bier uit die yskas en skuif dan voor die laptop in. Vou die skerm oop. Meteens kry ek ’n gevoel van déjà vu. Ek was al hier; besig met hierdie goed. Rub a dub dub, Three men in a tub; And who do you think they be? The butcher, the baker, The candlestick-maker; Turn ’em out, knaves all three! Die rympie van Project Nursery Rhyme. Die Butcher – Dok Pienaar: Lawson-skoolhoof. Die Candlestick-maker – my pa, Chris Owen: magtige media-baas. Maar die Baker … Die een wat weggekom het. Wie is hy? Waar is hy? Wat doen hy nou? Wat het hy om te verloor? Hoe hou hy my pa-hulle stil? Dis wat ek gaan uitvind. OceanofPDF.com Tydmasjien W at weet jy van die Baker? tik ek in ’n nota op my selfoon. Hy is deel van Project Nursery Rhyme se onheilige drie-eenheid. Hy het die virus gemaak wat hulle in griepinentings versprei het – dus moet hy kennis dra van farmakologie, siektes, virologie. Naastenby my pa se ouderdom? Manlik? Buiten vir ’n paar e-posse waarin sy skuilnaam gemeld is in die info wat ek destyds gekry het, was daar geen persoonlike besonderhede nie. Sy e- posadres was ook net ’n tydelike fiktiewe adres. Hy het soos ’n groot speld verdwyn. Beslis intelligent. Ek kyk na my lysie, lees dit weer deur. Die slotsom: Ek weet nie veel nie. Hoe en waar begin ’n mens soek na ’n onbekende figuur uit die onderwêreld? Dalk met ’n paar gewone Google-soektogte. Eers Netwerk24 se koerantberigte. Ek lees alle berigte oor my pa, en konsentreer op dié wat verskyn het voor die nuus van sy betrokkenheid by Project Nursery Rhyme gebreek het. Ek kyk na foto’s. Dalk is daar iemand iewers langs hom op ’n groepfoto wat betrokke is by farmakologie of die mediese wêreld. Ná Netwerk24 soek ek verder op ander nuuswebblaaie: News24, Daily Maverick, Times LIVE, al die koerante in die Turret Media-groep wat aan my pa behoort. Dis waar ek uiteindelik ’n enkele foto van my pa saam met ’n dokter opspoor. Hulle was betrokke by ’n gemeenskapsprojek wat kliniekdienste aan behoeftige mense lewer. Dit was skynbaar vir ’n goeie doel, maar ek laat my nie daardeur verblind nie. Ek vergroot die foto op die skerm. Dokter Rian Trollip. ’n Man met ’n oop glimlag. Ligte hare. Sagte oë. Lank sit ek en kyk na die foto. Is dit die beeld van ’n monster? Ek staan op om nog ’n bier te kry, maar terwyl ek by die oop yskas staan, roep iets my terug na dokter Trollip se foto. ’n Vae herinnering wil-wil in my oopvou. Daar is tog iets bekends aan hom. Diep soek ek in die files en folders in my kop. Dan weet ek: die dokter was al by ons huis. Hy en sy vrou. Daar was ander mense ook. My pa het graag uitgehang en my ma moes bontstaan met caterers en ’n partytjie-koördineerder. Die huis was vol lig, lewe, musiek. Die dokter en sy vrou het vir my uitgestaan, want laataand het hulle met mekaar gedans. Grasieuse draaie oor die vloer gemaak, perfek in pas met mekaar. Dit was wonderlik om te sien, want my pa en ma het nooit gedans nie. As ek reg onthou, was die partytjie kort voor hulle op ’n oorsese vakansie sou vertrek, iewers in Europa, dis dalk hoekom hulle so gelukkig gelyk het. My ma het nog so aangegaan oor hul reisprogram. Parys, Rome, Venesië. Hulle sou iemand daar ontmoet. Dokter Trollip se broer, of ’n ander familielid of vriend. Dokter Trollip, onthou ek nou … Daar was mos iets ánders aan hom? Dit het ek eers later besef toe John dit in woorde sit. Op die oog af het die dokter na ’n gawe ou gelyk. Sy sagte geaardheid het gepas by sy sagte oë. Maar iets was vreemd aan hom. Nog dieper grawe ek in my geheue om by daardie laerskool-herinneringe uit te kom. “Jy gaan seker volgende jaar Lawson Kollege toe, of hoe?” het die dokter op ’n stadium vir my gevra. “Ja, oom. Vir die rugby. Nes my boetie.” “Waar is jou boetie?” “Hy kruip weg vir oom.” Dit het uitgeglip voordat ek kon keer. John het seker nie regtig vir die dokter weggekruip nie. Hy was toe al in Lawson – ’n tiener, nie lus om praatjies met vreemde grootmense te maak nie. “Hy gee my die creeps,” het John later gesê. “Het jy sy hande gesien? Sulke knoppe en blou are soos ’n web. Ek sweer ek kon die dooie mens waaraan hy laas gevat het, nog ruik.” John was seker reg. Nie oor die dooiemensreuk nie, maar oor die dokter en die onpeilbaarheid van sy aard wat ’n mens se vel laat kriewel het. Was dit die ligte vibrasie in sy stem wat jou so ongemaklik laat voel het? Die manier waarop hy na jou gekyk het met sy sagte oë? Die ewe groot tandjies in perfekte gelid agter sy dun lippe toe hy glimlag? Was daardie creepy gevoel ’n rooi vlag? Ek maak ’n nota op my selfoon. Tik alles wat ek van hom kan onthou. Hy het ’n weird ring ook gehad. Daar was ’n passer en ’n winkelhaak of iets op. “Dis ’n Vrymesselaarsring,” het John gesê. “Wat’s dit?” “ ’n Geheime organisasie wat sulke weird rituele en goed in ’n donker tempel doen. Dit kom van Salomo se tyd af.” “By Lawson is daar mos ook sulke rituele …” “Ek praat nie daarvan nie. Dié is anders.” “Hoe anders?” “Hoe moet ek weet? Weird goed.” Hy het ’n ruk stilgebly. Ek het gewonder of hy my nie net met die dokter wou bang maak nie. “Hei,” het hy uiteindelik grootoog gevra. “Het jy geweet daar is selfs ’n Vrymesselaarstempel op ons parlementsgronde in Kaapstad?” Daardie beeld doem skielik voor my op. ’n Klomp mans wat in gelid uit die donker stap. Politici. Besigheidsmense. Dokters. Mans met oë versluier in skadu. Streng gesigte. Ek weet nie of dit werklik is hoe hulle in die tempel lyk nie, maar die beeld vervloei en stoot ’n ander herinnering na vore. Gesigte in gelid … Jis, ek het dokter Trollip iewers anders ook gesien. Nou weet ek. Skielik begin die bloed deur my are jaag. Ek tik ’n adres op Firefox in: www.plusultramed.co.za Dis die webblad vir Project Nursery Rhyme se frontmaatskappy. Buiten vir die gewone goed soos hulle missie, visie en produkte, was daar destyds ’n organogram van die maatskappy se grootkoppe. Dok Pienaar se naam en foto was heel bo. Maar ’n vlak of twee ondertoe was daar ’n ander foto … Met ’n bewende vinger druk ek Enter. Website is not available, staan op die skerm. Ek los ’n vloek deur my tande. PlusUltraMed se webblad is afgehaal. Dalk omdat die maatskappy toe is, of die domain is nie hernieu nie. Ek vat ’n sluk bier. Dink, maar kom nie verder nie. Teleurgesteld staan ek op en slenter balkon toe om vars lug te kry. Die son sak oor Stellenbosch en kleur die ou geboue en die berge pienk en blou in. Iewers lui ’n kerkklok om die nuwe uur aan te kondig. Enkele studente slenter straataf met ’n laat- Saterdag-rustigheid. Daar is ook ’n meisie op ’n fiets, ’n polisiemotor en ’n man wat in die straat verbydraf. Ek luister na die klap van sy voete op die teer en dink opeens aan – Nee. Ek keer daardie gedagte dadelik en draai my rug op die straat, stap van die balkon af in. Met ’n sug val ek op die bed neer, gryp my Sport Psychology-boek en blaai na die deel oor die sielkunde van sportonderrig. My konsentrasie verskerp soos ek die inligting probeer memoriseer. Af en toe raadpleeg ek my klasnotas. Maak nog notas. Teken breinkaarte. Toe dit nog donkerder word, sit ek my bedliggie aan. My selfoon biep af en toe van Plank se boodskappe. Daar is ook een van my ma. Ek gaan vir ’n week weg. Daar is moontlik nie selfoonontvangs nie. Volgende Sondagaand terug. OK, antwoord ek. Dan ná ’n ruk: Gaan Ma alleen? Sy antwoord nie. Die enigste boodskap kom van die PSO af oor die een of ander funksie, maar stuff dit, ek gaan nie. Chloe sê hulle gaan my ’n “sluiper” noem as ek nie aan hulle goedjies deelneem nie. Hulle kan dit maar doen. Ek is al erger goed genoem. Terug by die boeke. Maar dit neem nie lank nie, toe voel ek hoe die tamheid my oorval en voor ek kan keer, raak ek op die deurmekaar bed aan die slaap. Sondag glip verby met boeke, pizza en ’n gymsessie. Die Maandagoggend skrik ek met ’n slag wakker van my selfoonalarm. Kreunend mik ek vir die snooze-knoppie. ’n Ruk lank lê ek toe-oog en dommel, maar skielik meld ’n idee aan. Dit is asof my brein oornag ’n oplossing gekry het vir die PlusUltraMed-webbladprobleem. Die Wayback Machine. Ek spring uit die bed, sit vinnig die Nespresso-koffiemaker aan die gang en met ’n kaal bolyf en bokser-onderbroek gaan plak ek my voor die laptop neer. Vinnig soek en kry ek die Wayback Machine se webblad. Dis ’n internet-argief van ou webblaaie. Meer as driehonderd miljard van hulle. Ek het lank gelede hiervan gelees, maar amper daarvan vergeet. Tot nou toe. Bo-aan die skerm is ’n plek vir ’n webbladadres. Ek tik PlusUltraMed s’n daar in en klik op Browsing history. ’n Volgende blad verskyn. Dit wys dat die farmakologiese maatskappy se webblad 240 keer gestoor is. ’n Grafiek en ’n kalender wys ook presies wanneer dit gestoor is. Dit klink maklik genoeg. Ek beweeg na ’n random datum. Die pop-up wys daar is dié dag twee snapshots van die webblad gemaak. Vinnig klik ek op die datum en binne oomblikke verskyn PlusUltraMed se verlore webblad. Flippen ongelooflik! Links op die webblad is die skakels na Mission statement, Products, Orders, About, Contact us. Soos destyds, kry ek die blad met die organogram. Dit neem ’n rukkie om die ou foto’s uit die argiewe op te diep, maar uiteindelik lê die organogram voor my. En daar is hy: Dokter Rian Trollip. Ek maak ’n skermdruk van die organogram. Stoor dit op my Dropbox in die cloud. Dan onthou ek van my koffie. Ek gaan kry dit gou, saam met ’n bakkie muesli en jogurt. Doortjie, my regterhand in die huis, kom ook vanoggend, onthou ek dan. Sy het haar eie sleutel en kan self inkom as ek weg is. Vinnig stuur ek vir haar ’n boodskap dat sy moet onthou om die balkon se vloer skoon te maak. Daar het bier gemors. Ek vra ook of sy my tekkies kan was en in die son op die balkon los. Ek sal dit vanaand inbring. My oog vang die tyd op my laptop. Ek het ’n halfuur voordat ek moet waai. Met ’n vaart spring ek op. Eers vinnig stort, dan my boeke bymekaarmaak. Betyds vir klas is ek by die deur uit. Af met die trappe in die oggendsonskyn in, waar ek musiek aansit en die airpods in my ore druk. By Coetzenburgstraat draai ek af, stap tot by die houtbrug, waar ek vir ’n oomblik gaan staan en kyk hoe die Eersterivier uit Jonkershoek se rigting onderdeur vloei. Met die pods uit my ore luister ek hoe die water oor die klippe daar onder kabbel. ’n Rustigheid kom lê in my, maak my reg vir die dag wat voorlê. Uiteindelik stap ek verder, verby die standbeeld van doktor Danie Craven en sy hond, Bliksem, na die Sportwetenskap-gebou. ’n Paar studente drentel geselsend in die gang voor lesingsaal A rond. Ek knik in hulle rigting, maar behou my afstand. Hulle het teen hierdie tyd al almal van my pa uitgevind. Vandat ek hier is, kry ek gereeld ’n sydelingse kyk of vang ’n dubbelsinnige opmerking wat ek weet vir my ore bedoel is. Terwyl ek eenkant wag, kry ek weer my selfoon en google dokter Rian Trollip se naam. ’n Hele paar trefslae kom op. Net ’n vinnige blaai deur die opskrifte slaan my met ’n yster tussen die oë. Ek maak nogtans een van die koerantberigte oop. Dokter gevang met kinderpornografie. My bloed word yskoud en ’n aardige gevoel trek langs my ruggraat af. Oor en oor spring my oë na die opskrif voordat ek verder lees. Die dokter het in die hof verskyn nadat polisie op sy praktyk toegeslaan en op talle pornografiese foto’s en video’s van kinders afgekom het. Dokter Trollip het onskuldig gepleit. Nog ’n berig bevestig die dokter se hofverskyning. Nou weet ek waarom John destyds daardie creepy gevoel gekry het. Dit was nie die dooiemensreuk aan die dokter se hande nie. John het instinktief iets aangevoel oor die ou se geaardheid. Die blink ballie se donker kant. Die lesinglokaal se blou deure swaai oop. Ek hoor die ander studente klas toe beweeg, maar ek vluglees gou nog ’n berig: Dokter Trollip se vrou dagvaar hom vir ’n egskeiding. Nog ’n berig: Dokter Rian Trollip is dood in ’n gemeenskaplike sel aangetref. Hy het homself met ’n geskeurde kombers gehang. ’n Foto van die kombers op die sementvloer laat my ril. In ’n verdere berig staan familielede by dokter Trollip se graf. Sy broer voor, met ’n sonbril en sambreel. Somber, soos die vrou langs hom. My pa is ook daar. Dok Pienaar agter hom. Dit neem ’n oomblik vir die inligting om in te sink, dan kyk ek na die datum. Dit het alles in my matriekjaar gebeur. Die tyd van Project Nursery Rhyme. Kon dokter Rian Trollip dan ook die Baker gewees het? wonder ek toe ek die klas binnestap. Soek ek dalk na ’n dooie man? OceanofPDF.com Donker patrone D aardie aand kom Chloe en haar vriendinne raserig die trappe op. Dit klink my daar is twee ouens ook by hulle. “Oor tien jaar gaan jy jou baba soos ’n puzzle kan bou,” sê een. “Nie oor tien jaar nie. Nou al,” sê een van die ouens. “Wat? Ek kan nie eens ’n pizza bou nie.” “En die weirdste ding van alles – as jy jou baba op die good old- fashioned manier wil maak, gaan mense sê jy mishandel kinders, want jy kon gekeer het dat hulle siek word.” “Ag, tjol, man!” Chloe lag dat dit in die gang eggo. “Kyk maar.” Ek luister vies na hulle deurmekaar gebabbel. Dit sterf uit toe hulle die deur toetrek. Aangesien my konsentrasie nou tog onderbreek is, sit ek my boek neer. Ek staan op. Stap na my balkon. Maak my oë toe en laat die vars aandlug om my vou. Al die gepraat oor kinders … In my agterkop speel die koerantberigte wat ek vanoggend gelees het weer. Dit dwing my rekenaar toe. Ek gaan lees weer oor dokter Trollip se dood, en soos ’n spinnekop wat sy web verder span, begin ek na berigte oor mevrou Trollip, die dokter se vrou, soek. Daar is nie veel nie. Net iets oor die egskeiding, ’n twis met haar swaer oor die boedel, en êrens ’n klein beriggie oor die een of ander fondsinsameling ten bate van borskanker. My oë steek vas by die selfoonnommer in die kankerberig. Die kontakpersoon vir die fondsinsameling. Ek gryp my selfoon. My duim tik die nommer, bel dit. Die selfoon lui ’n paar keer aan die ander kant, dan antwoord ’n stemboodskap. Ek luister na die vrou se helder stem, maar laat nie ’n boodskap nie; druk die oproep net dood. Ingedagte sit ek vooroor, tik met die selfoon teen my ken en wonder of ek weer moet bel. Sal sy dalk kan help? Sal dit onsensitief wees om haar oor haar man uit te vra? Sy verbintenis met PlusUltraMed. Sy band met Dok en my pa. Sy dood? Omtrent ’n uur later, terwyl ek op die balkon sit, boeke om my gestrooi, kom die oproep. “Hallo, dis mevrou Trollip.” “Mevrou Trollip?” Ek het die nommer herken, maar nie gedink sy sou terugbel nie. Ek bel niemand terug tensy ek weet wie hulle is nie. Daardie les het joernaliste my tydens my pa se verhoor geleer. “Jy het my gebel? Kan ek help?” Haar tong sleep effens. Is sy dronk? “Dis … dis Greg Owen. My pa is Chris Owen.” “Die mediamagnaat?” “J-ja,” antwoord ek hakkelend. “Ek het gewonder of tannie … of u my kan help. Ek soek na inligting.” Flippit, ek moes ’n ander strategie bedink het, nie dadelik so met die deur in die huis geval het nie. Het die social engineering-aanval van destyds my dan niks geleer nie? Jy word vir ’n oomblik iemand anders. Jy kan lieg en bedrieg. Jou teiken manipuleer om inligting uit hulle te kry. “Waar’s jy?” vra sy. “In Stellenbosch. Ek … um … werk hier.” “By ’n koerant?” “Nee.” “Watse ‘inligting’ soek jy?” Sy is beslis dronk, weet ek nou. Haar tong trek lui aan die woorde. “Ek is op soek na inligting oor iemand wat kennis het van farmakologie. Dalk ’n dokter. ’n Chemikus. Iemand wat my pa geken het.” “Bedoel jy my oorlede man?” “Ja, dalk.” Ek hoor hoe sy nog ’n drankie skink. Haar selfoon is seker op luidspreker. “Hy was ’n duiwel wat met kinders gelol het.” Ek blaas my asem hard uit. “Dis wat die koerantargiewe sê. Maar is dit moontlik dat hy ook … dat hy ook by ander goed betrokke was?” Dit neem ’n ruk voor sy antwoord. Ek wonder naderhand of sy nog daar is. “Mevrou Trollip?” “Ander goed … soos wát?” vra sy na ’n ruk. “Project Nursery Rhyme?” Diep asem. Vasberade. “Ek is op soek na die Baker.” Dadelik gaan die lyn dood. Ek kyk verbaas na my selfoon. “Oukei, dit het nie goed afgeloop nie,” sê ek vir myself en probeer weer bel, maar sy antwoord nie. Weer en weer bel ek. Dan blok sy my nommer. Is dit omdat sy iets weet? Beslis ja, maar ek gaan nie meer by haar uitvind nie. In die loop van die week kontak ek die een persoon ná die ander wat vir mevrou Trollip of haar oorlede man ken. Ek werk op die name onder aan foto’s, maatskappye wat dalk besigheid met hulle gedoen het. Bykans niemand wil help nie, maar soms kry ek tog iemand wat my na iemand anders verwys, en húlle verwys my weer na nog ’n ander persoon. Ten spyte van al my pogings eindig al my navrae in ’n doodloopstraat. Dit voel naderhand of ek in ’n werklike donker patroon beland het. Baie van die groot webblaaie het sulke goed: donker patrone of ’n kokkerotmotel wat jou deur slinkse webbladontwerp pootjie om byvoorbeeld jou registrasie te kanselleer. Amazon is een van die maatskappye wat dit gebruik. Om jou rekening by hulle toe te maak, sal jy soek van een webblad na ’n ander na ’n ander, van een hyperlink na ’n ander en weer ’n ander, en selfs dan, wanneer jy uiteindelik die opsie Delete account kry, moet jy eers met ’n agent ’n aanlyn gesprek voer en sal hulle jou rekening van hulle kant af sluit. Ander webblaaie sal die font se kleur ligter maak sodat jy nie die skakels raaksien wat hulle wil hê jy nie moet gebruik nie. Uiteindelik smyt die donker patrone jou in ’n kuberdoolhof van skakels waaruit jy moeilik sal kom totdat jy uiteindelik moed opgee en maar die registrasie behou. Dis hoe dit nou vir my voel. Dis waar ek is: vasgevang in ’n doolhof waarin daar net vrae is, maar geen antwoorde nie. OceanofPDF.com Een van ons O p ’n oggend voor ’n klastoets drentel een van die ouens wat saam met my swot, nader. Swart kortbroek, Sportwetenskap-hemp, tekkies en ’n keps op die kop. Hy plak hom op die stoel langs my in die lesinglokaal neer. Stamp liggies met sy elmboog teen myne. “Jy is darem ’n emmer vol sonskyn, is jy nie?” “Skies?” “Jy weet waarvan ek praat. Jy sit mos elke dag hier agter in die klas. Moerse smile op jou gesig.” Ek kan sien hy spot goediglik, maar ek antwoord nie, want ek probeer uitwerk hoekom hy hier is. Ja, ek weet hy is ’n klasmaat, maar nogtans. “Dain February,” sê die ou. Hy stamp sy vuis teen myne. “At your service.” “Greg Owen,” groet ek, steeds agterdogtig. “Ek weet. Almal weet.” “En?” “En, dit maak nie vir my saak nie. Jy is een van ons.” Ek glimlag weer. “Jip.” Later die middag, ná ’n tawwe oefensessie, kry ek vir my ’n Powerade en iets om te eet by die Workout Café in die gym. Terwyl ek wag, kyk ek hoe die ouens buite in die swembad oefen. Afrigters loop heen en weer voor die venster verby. Fluitjies om die nek. Hoede op die kop teen die skerp son. “Owen!” sê ’n diep stem skielik langs my. ’n Koue skrik stuur deur my lyf. Die man pluk ’n stoel uit. Plak hom by die tafel neer sonder dat ek hom nooi. Lisa se pa. Wat de hel maak hy hier? “Wat drink ons?” vra hy. Fronsend wys ek na die energiedrankie. “Pis? Nee, jir, dan wag ek tot by die huis.” Hy draai skuins in die stoel. “Kan ek oom help?” “Wat? Nee! Natuurlik nie. En my naam is Dirk. Dirk Schutte. Nie ‘oom’ nie.” “Hoe het oom geweet ek is hier?” Ek gaan hom nie Dirk noem nie. “My vrou het gesê ek moet jou kom soek. Dit was nie moeilik om jou te kry nie. ’n Mannetjie soos jy. Mense ken jou.” “Mense dínk dalk hulle ken my,” sê ek effens hardegat. Oom Dirk leun terug in die stoel. Hy vryf stadig oor sy grys baard. Haal sy oë nie ’n oomblik van my af nie. Som my op, besef ek. Nes inspekteur Cele en sersant Botha my twee jaar gelede ondervra het. Ek hoor nou nog hul stemme en kry soms nagmerries daarvan. “Jy is toe wie ek gedink het jy is, Owen. Ek het verder oor jou gaan oplees. Jou … rekords.” Ek sluk, vee my hande aan my broek af. Sien dat hy dit opmerk en vou vinnig my arms voor my bors. Ook dít beteken seker vir hom iets, want hy kantel sy kop effens. “Is oom in die polisie?” “Ek vra die vragies hier, boetie. Goed so?” Sy kalm stem stuur ’n rilling langs my rug af. Ek neem aan ek het hom reg opgesom. “Vertel my van die hacker-goed waarmee jy deurmekaar geraak het.” “Ek het met die polisie saamgewerk, ek hoef nie weer— ” “Vertel my!” Hard. Van die ander studente kyk om na ons tafel. Ek maak keelskoon. “Dis nie omdat ek regtig wou nie, oom.” “Moenie vir my lieg nie.” Ek wil opstaan. Hy gryp my arm vas, druk my terug. “Iemand het my geleer. Sommer net vir die pret. Dit was ’n uitdaging. Ek wou kyk of ek dit kon regkry. Toe ruk alles handuit.” “Hoe so?” “Dinge het te ver gegaan. Ek moes net nooit daarmee begin het nie.” “Soos dwelms.” “Ek doen nie drugs nie.” “Ek het nie gesê jy doen drugs nie. Konsentreer.” “Oom?” Hy ignoreer my vraag, my onnoselheid. “Die hacking – doen jy dit nog?” Ek wring my hande senuweeagtig inmekaar. “Mmm.” Sy oë vernou. “Ek sal dit vat as ’n ja.” “Ek is jammer oor al die goed wat destyds gebeur het. Dis net …” “Sometimes shit happens.” Die oom lag vir sy eie grappie, dan word hy skielik weer ernstig. Sy stem sagter. Vaderlik? “Nadat my vrou my aangepraat het, het ek gaan nadink. Wat ek aan jou gedoen het, daar voor die galery, was nie fair nie. Dit was seker maar ’n skokreaksie om my dogter te beskerm. Dis hoe pa’s is. Die meeste pa’s. Hulle beskerm hulle kinders.” Hy laat die woorde in die lug hang. “Dis hoekom ek jou kom soek het, om jou te sê: Ek het ’n fout gemaak. Sorry. Ek het nie die reg om jou te judge op grond van jou pa se streke nie. En al loop sy bloed in jou are, verdien jy ’n regverdige kans. Jou pel ook. Plank. Watse naam is dít in elk geval? Donner tog! Ek hoop nie daar is eendag kinders nie. Wat maak ek met ’n klomp klein Plankies? Bou ’n pophuis?” Sy bors roggel toe hy lag. “Sê maar vir daai mannetjie hy kan weer by Lisa kom kuier. Ek sal met haar gesels, maar— ” “Dankie, oom— ” “Ek praat nog, Greg! – maar as jy of Plank my wys julle is twee klein etters, sal alle hel losbars. Reg so?” Ek knik. “Praat met my, Greg.” “Reg, oom.” Hy knik. Dit lyk asof hy nog ’n rukkie dink. “Daardie hacking-goed waarmee jy besig was – los dit.” “Ek sal, oom.” “Jy weet nie waarmee jy speel nie. Selfs hier in ons ou dorpie is daar onderduimse dinge aan die gang. Kyk net wat het uitgekom oor Markus Jooste en die ander menere. Die Stellenbosse Boys. Ga! Hulle is maar enkele scaly karakters.” Ek knik, al weet ek nie van wie hy praat nie. “Daar is goed in hierdie wêreld wat donkerder is as donker. Vieslike mense wat vieslike goed aanvang.” Hy vryf weer oor sy baard. “Ek het dinge gesien wat jou asem sal wegslaan, Greg. Ja, ek was in die polisie. Nie meer nie. Ek is geboard. Ongeskik vir diens. Te veel stres. Dis wat daardie werk aan jou doen. Dit maak van jou ’n ander mens. Iemand wie jy nie wil wees nie.” Ek het ook ’n ander mens geword, dink ek, maar ek sê dit nie. “Ek is jammer, oom.” “Dis niks om oor sorry te wees nie.” Hy blaas sy asem nadenkend uit. Dis soos ’n drukklep wat spanning laat ontsnap. “Ek het daardie job gekies. Dit het my amper doodgemaak, maar ek is nie spyt oor ’n enkele oomblik daarvan nie.” “Ek is bly oom is nou oukei.” Hy kantel sy kop. Frons. “Dis nie wat ek gesê het nie.” ’n Ruk lank bly hy stil. Dit lyk of hy tranerig word. Ek weet nie of ek iets moet sê nie. Versteen sit ek daar, te bang om te roer. My kop spin. Wat het nou net hier gebeur? “Is jy seker hier is nie bier nie?” vra oom Dirk dan skielik hard. “Nee, oom.” Hy sug. “Toemaar, anderdag vat ek jou op ’n ordentlike date.” En hy lag weer roggelend uit sy maag uit. OceanofPDF.com Koerier P lank se stemboodskap kom die volgende dag toe ek uit my laaste klas vir die dag stap. “Hei, dankie! Lisa het my gebel. Ek hoor oom Dirk het met jou gepraat. Hoop nie dit was te erg nie. Daardie oom is kwaai! Wat is die ding van die plankies en die pophuis?” “Kom ons sê maar net daardie oom gaan jou knaters aftrap as jy hulle wil gebruik,” antwoord ek. “Lucky me.” Ek sien hy gaan offline, daarom sluit ek my skerm. Van die studentesitkamer af groet Dain. “Haai!” roep ek terug, maar maak nie verder geselsies nie. Ingedagte verskuif ek die rugsak wat aan my skouer rem en neem die trappe uit die fakulteitsgebou, verby die Maties Gym en Coetzenburg-swembad terug na my woonstel. Musiek van Imagine Dragons in my ore. Daar hang vanmiddag ’n brandreuk in die lug. Daar is seker weer ’n vuur iewers in die berg. Dit kan dae neem voordat dit geblus word. By die woonstelingang keer die sekuriteitsman my voor. “Meneer Owen, ek het iets vir jou. ’n Pakkie.” Ek haal die pods uit my ore en wag dat hy die pakkie onder die toonbank uithaal. Voordat hy dit gee, moet ek eers sy afleweringsregister teken. “Dankie!” sê ek. Hy knik, kyk dan of ek sy blaai reg ingevul het. Met die pakkie onder my arm draf ek die trappe op na my woonstel. Sluit dit met een hand oop. Dis onaards warm binne. Gelukkig is die plek skoon. Doortjie was vanoggend hier. Sy het iewers ’n blom gekry en in ’n glas op die kombuistoonbank gesit. Ek stuur gou vir haar ’n boodskap om dankie te sê, dan stel ek die aircon lekker koud. Net toe is daar ’n klop aan die deur. Plank. Hy smyt sy rugsak in die kombuis neer. “Manne, manne, waar’s die drank en wat’s die planne? Ek het ’n flippen rowwe dag gehad.” “Kyk in die yskas, daar is nog ’n sixpack,” sê ek, pluk my hemp oor my kop en slinger dit na die lessenaar se stoel. Plank kry die bier. Knak dit oop en drink. “Wat pla jou?” vra ek. “Meisies. Maties. En my maag.” Hy lig sy hemp op. “Kyk hoe lyk die ding. Ek kry ’n flippen boepens, Greg.” “Lyk vir my na ’n bierpens. Dis omdat jy nie meer rugby speel of gym nie.” Plank rol sy maag soos ’n belly dancer s’n, vat ’n sluk bier en sug. “Ek dog die ding tussen jou en Lisa is toe uitgesorteer?” “Dit was.” “Maar?” “Toe sien sy netnou my Tinder profile. En nou is ek weer in die dog box.” “Hoekom is jy nog op Tinder? Dude?” “Ek gaan nie my profile toemaak nie. Sê nou net –” “Sê nou net niks. Is jy van jou rocker af? Jy het dan nou net vir Lisa teruggekry.” “Hei, ek dog jy is aan my kant, Greg!” “Watter deel van dating apps verstaan jy nie?” “Dis nie asof ek daarop boer nie. Jis, ou, en weet jy hoeveel keer is ek al deur ’n mooi lyf op daardie app gereject?” “Ek wonder hoekom?” Plank gaan staan op die balkon. “My lewe suck!” skree hy straat se kant toe. “Kry vir jou ’n shrink!” antwoord iemand iewers van ’n ander woonstel af. “Sal nie help nie!” skree Plank terug. Ek skud my kop, sit my laptop aan en begin net aanteken toe Plank weer inkom. “Het jy geweet iemand hou jou plek dop?” “Waarvan praat jy, Plank?” “Kom kyk.” Hy trek my op uit die stoel. “Die ou staan daar onder in die straat.” Ek volg Plank terug balkon toe, net betyds om die man te sien: ’n ou met ’n swart motorfiets. ’n Ewe swart baadjie oor sy Levi’s-T-hemp. Jeans. Die valhelm is steeds op sy kop. Ek kan nie uitmaak hoe hy lyk deur die verdonkerde gesigskerm nie. ’n Laaste keer kyk hy op na my, dan skakel hy die enjin aan en ry. “Weird, nè?” vra Plank. “Hy het seker maar net gestop om iemand te bel of die pad te soek.” “Terwyl hy na jou woonstel kyk?” “Plank, dis niks nie, oukei?” hou ek vol, maar klink nie te seker van myself nie. “Whatever.” Plank stap weer in, val op die bed neer. Die koerierboks langs hom wip amper vloer toe. “Wat’s dié?” Ek vat die boks en skud dit. “O ja, dis vandag afgelewer. Ek weet self nie.” “Nou maar kyk, magtig. Of moet ek dit doen?” “Jy los my stuff.” In die kombuislaai kry ek ’n skerp groentemes. Dit glip deur die bruin kleefband aan die bokant van die boks. “So? Wassit?” “Ek kyk mos nou, Plank. Wees nou net ’n bietjie rustig vir my.” Kopskuddend vou ek die boks se flappe oop. Steek my hand in en vat eerste ’n koevert raak. Daar is niks buite-op geskryf nie. My vinger glip onder die koevert se flap in, skeur dit oop en haal die brief uit. Miskien sal dit jou help om die Baker op te spoor. Ek lees eers self die getikte boodskap. Dan gryp Plank die brief. “Die Baker?” vra hy toe hy klaar gelees het. Fronsend sit hy regop. Ek kan sien die wiele in sy kop draai teen ’n verwoede spoed. “Is jy weer besig met daardie Nursery Rhyme stuff?” Ek knik stadig. Ek het hom nog nie daarvan vertel nie. “My pa sit in die tronk en die Baker loop los buite rond. Die polisie kon hom nie kry nie. Maar ek gaan.” “Jý, Greg Owen, is getoor in die kop. Het jy nog nie genoeg gehad nie?” “Wat reg is, is reg.” “En as hy jou kom vrekmaak, is dit dan steeds reg?” Plank spring van die bed af op. Hy gooi die res van die bier met een sluk in sy keel af en loer dan versigtig verby die gordyn na buite. “Flippit, ou, dan was ek reg oor daardie dude in die straat. Dis surveillance.” “Jy oordryf.” “Tja?” “Tja!” Ek lag. “Moenie oor my worry nie. Ek sal versigtig wees.” “Sê elke ou wat al mafia-style vrekgemaak is.” Ek trek net my gesig, dan steek ek my hand weer in die koerierboks, nuuskierig om te sien wat nog daarin is. Nog ’n koevert. Ek haal die ding uit en skeur dit oop. Plank hou my met groot oë dop. My vingers kry die ding daarbinne beet. Dit voel grof, bros. Ek trek dit uit. Dis ’n notaboek. Bruin omslag, geelwit blaaie. “ ’n Ou boekie,” sê Plank teleurgesteld. “Dit lyk of die ding uit die oorlog kom.” Hy wil dit oopmaak. “Nee, wag, jy werk te rof daarmee,” keer ek. “Dit lyk of die boek in ’n brand was.” Ek wys na die swart rand en die geskroeide blaaie. Stadig maak ek dit oop. Van die bladsye is uitgeskeur of heeltemal verbrand. Tog kan jy hier en daar iets uitmaak. Formules. Enkele van die bladsye het nommers op. Kriptiese notas. ’n Vae diagram: En op die laaste bladsy ’n enkele woord: Valkyrie. OceanofPDF.com Valkyrie E k kan nie slaap nie. Die vreemde boek, waar dit vandaan kom en wat dit beteken hou my wakker, daarom glip ek uit die bed en gaan staan buite op die balkon. In die verte glim die geel-oranje van die brandende berg in die donker. As dit nie so erg was nie, sou ’n mens kon sê dis betowerend mooi. ’n Hele ruk staan en kyk ek na die gloed, totdat ek uit die hoek van my oog iets in die straat sien beweeg. ’n Mens? Dalk net ’n rondloperhond? Of my verbeelding? Want toe ek weer sien, is dit stil en lê Van Riebeeckstraat onversteurd in die donker. Terug in die woonstel gaan sit ek by die rekenaar, teken aan en maak Firefox oop. Valkyrie, tik ek in die soekenjin. Die resultate verskyn blitsig. Ek klik op een van die skakels: In die Noorse mitologie was die Valkyries vroulike geeste wat tydens ’n veldslag besluit het wie sou lewe en wie sou sterwe. Strydgodinne. Die onheilspellende wesens het donker toorkuns gebruik om seker te maak hul keuses word deurgevoer. In Afrikaans noem mens hulle glo Walkures, sien ek nou. Volgens die gedig “The Saga of the Volsungs” is om ’n Valkyrie … Walkure te sien, soos om na ’n vlam te staar. ’n Ander Noorse gedig, “Darraðarljóð”, beskryf hulle meer grafies: twaalf Walkures wat voor weefstoele sit en die tragiese lot van krygsmanne verweef met derms as weefdraad, afgekapte koppe as gewigte, en pyle en swaarde as weefkamme. Die gedagte maak my opeens naar en ek spring van die rekenaar af op. My kop draai na die boekie voor my bed. Met watter siek goed was die Baker besig? Donderdag se klasse sleep traag verby. Die moegheid haal my in. Dain sien dit seker ook. “Gisteraand te min geslaap en te veel geleer?” vra hy toe hy saam met my na die Lettere en Sosiale Wetenskappe-gebou stap. “Sê maar so,” antwoord ek ontwykend. Hy lyk na ’n cool ou, maar hy hoef nie te weet nie. Toe ons voor die gebou kom, haal Dain iets uit sy sak. Sy wenkbroue skiet geheimsinnig op. “Vat hierdie, dit sal help,” sê hy en druk ’n klein wit pilletjie in my hande. “Wat is dit?” “Pophuispille.” “Ek doen nie drugs nie.” “Dis Ritalin, man. Almal doen dit. The breakfast of champions.” Hy vou my vuis om die pil toe. “Hou dit dan maar net. Vir in case, jy weet? As jy nog wil hê …” Hy knipoog. Ek druk die pil in my broeksak. Daar is nie ’n manier waarop ek dit sal drink nie. Uiteindelik is die laaste klas vir die week verby. Ek stap van daar af Maties Gym toe vir ’n vinnige sessie. Dis môre Goeie Vrydag. Vanaand vlieg ek vir die langnaweek Johannesburg toe. My vlug is klaar bespreek. Daar is iets wat ek môre moet doen. ’n Ding wat reeds swaar op my gemoed lê. Die sessie in die gym hou langer aan as wat ek beplan het. Super sets wat die sweet van my laat aftap en die goedvoelhormone deur my are laat bruis. Wie het dan pille nodig?